Sodom en Gomorra
1Die Here het aan Abraham verskyn by die akkerbome van Mamre terwyl hy op die hitte van die dag by die ingang van sy tent sit. 2Toe hy opkyk, sien hy skielik drie mans naby hom staan. Toe hy hulle sien, hardloop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig laag teen die grond. 3Hy sê toe: “My heer, as ek guns vind in u oë, moet dan asseblief nie by u dienaar verbygaan nie. 4Laat daar 'n bietjie water gehaal word; en was u voete. Maak u dan gemaklik onder die boom. 5Laat ek 'n stukkie brood bring, en versterk u innerlike, waarna u verder kan gaan; want juis daarom het u by u dienaar langs gekom.” Hulle het geantwoord: “Maak gerus soos u sê.”
6Abraham gaan toe haastig in die tent in na Sara toe en sê: “Neem gou drie sea meel, gesifte meel; knie dit en bak roosterkoeke!”
7Daarna hardloop Abraham na die beeste, neem 'n jong bulkalf, met sagte, goeie vleis, en gee dit vir sy dienaar, en hy het dit gou voorberei. 8Hy neem toe botter, melk en die bulkalf wat voorberei is, en sit dit aan hulle voor. Terwyl hy by hulle onder die boom staan, het hulle geëet.
9Hulle het vir hom gevra: “Waar is Sara, jou vrou?” Hy het geantwoord: “Daar in die tent.” 10Toe sê een: “Ek sal beslis na jou terugkom wanneer die seisoen draai. Kyk, Sara, jou vrou, sal dan 'n seun hê.”
Sara het gestaan en luister by die ingang van die tent, wat agter hom was. 11Abraham en Sara was al oud, gevorderd in jare. Vir Sara het wat maandeliks met vroue gebeur, reeds opgehou. 12Sy het in haar binneste gelag en gedink: “Kan ek nog seksuele begeertes hê, noudat ek al afgetakel en my man oud is?”
13Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom het Sara gelag en dink sy, ‘Sal ek werklik nog geboorte kan gee terwyl ek al oud is?’ 14Is enigiets te wonderbaarlik vir die Here? Op die vasgestelde tyd wanneer die seisoen draai, sal Ek na jou toe terugkom, en dan sal Sara 'n seun hê.”
15Sara het dit egter ontken en gesê: “Ek het nie gelag nie,” want sy was bang. Hy het gesê: “Nee, maar jy hét gelag.”
16Die manne het daar opgestaan en afgekyk in die rigting van Sodom. Abraham het saam met hulle gestap om hulle weg te sien.
17Die Here het gesê: “Sal Ek vir Abraham geheim hou wat Ek gaan doen, 18terwyl Abraham beslis 'n groot en magtige nasie gaan word, en al die nasies van die aarde deur hom geseënd sal wees? 19Want Ek het hom gekies, sodat hy opdragte kan gee aan sy kinders en sy huishouding ná hom, en hulle dan by die pad van die Here kan hou deur te doen wat reg en billik is, sodat die Here met Abraham kan laat gebeur wat Hy aan hom beloof het.”
20Die Here sê toe: “Die hulpgeroep oor Sodom en Gomorra is werklik groot, en hulle sonde is werklik uitermate swaar. 21Ek wil afgaan en kyk of wat hulle gedoen het, volledig ooreenstem met die noodkreet oor die stad wat tot My gekom het, en indien nie, dan wil Ek dit weet.”
22Die manne het daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan. Maar Abraham het nog voor die Here bly staan. 23Abraham gaan toe nader en vra: “Gaan U werklik •regverdiges saam met goddeloses verdelg? 24Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad; sal U nogtans die stad verdelg en nie die plek vergewe ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? 25U sal tog nooit so iets doen nie – om regverdiges saam met goddeloses te laat sterf, asof regverdiges soos goddeloses is! U sal tog nooit! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” 26Die Here het Abraham geantwoord: “As Ek in Sodom, in die stad, vyftig regverdiges vind, sal Ek die hele plek vergewe ter wille van hulle.” 27Abraham antwoord toe en sê: “Kyk, ek het my verstout om met my Heer te praat, terwyl ek stof en as is. 28Dalk ontbreek vyf van die vyftig regverdiges. Sal U net oor vyf die hele stad verdelg?” Hy het geantwoord: “Ek sal dit nie verdelg as Ek daar vyf-en-veertig regverdiges vind nie.”
29Abraham het toe voortgegaan om met die Here te praat; hy het gesê: “Miskien word daar veertig gevind?” Die Here het geantwoord: “Ter wille van die veertig sal Ek dit nie doen nie.”
30Daarop sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog praat; dalk word daar dertig gevind.” Die Here het gesê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar vind nie.”
31Abraham sê toe: “Kyk, ek het dit gewaag om met my Heer te praat. Dalk word daar twintig gevind?” Hy het geantwoord: “Ter wille van twintig sal Ek die stad nie verdelg nie.”
32Toe sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog net dié keer praat. Dalk word daar tien gevind.” Die Here het gesê: “Ter wille van die tien sal Ek dit nie verdelg nie.” 33Die Here het weggegaan toe Hy klaar met Abraham gepraat het. En Abraham het teruggegaan na sy woonplek.