1Toe Isak al oud was en sy oë so verswak het dat hy nie meer kon sien nie, het hy Esau, sy oudste seun, geroep en vir hom gesê: “My seun!” Hy het hom geantwoord: “Ja, pa?” 2Isak sê toe: “Kyk, ek is oud. Ek ken nie my sterfdag nie. 3Neem nou jou jaggereedskap, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit veld toe en jag vir my 'n stuk wild. 4Berei dan vir my 'n smaaklike gereg voor soos ek daarvan hou, en bring dit vir my, sodat ek kan eet en jou kan seën voordat ek sterf.”
5Rebekka het geluister toe Isak met sy seun Esau praat. Toe Esau veld toe gaan om 'n stuk wild te jag om dit te bring, 6sê sy vir haar seun Jakob: “Kyk, ek het jou pa vir jou broer Esau hoor sê, 7‘Bring vir my wildsvleis en berei vir my 'n smaaklike gereg voor, sodat ek kan eet en jou in die teenwoordigheid van die Here kan seën voor my dood.’ 8My seun, luister dan nou na wat ek jou beveel! 9Gaan na die kleinvee en bring vir my daarvandaan twee mooi bokkies, sodat ek hulle as 'n smaaklike gereg vir jou pa kan voorberei – soos hy daarvan hou. 10Dan moet jy dit vir jou pa neem, dat hy kan eet, sodat hy jou kan seën voor sy dood.”
11Maar Jakob het vir Rebekka, sy moeder, gesê: “Kyk, my broer Esau is 'n harige man, en ek het 'n gladde vel. 12Miskien raak my pa aan my, dan sal ek in sy oë iemand wees wat die spot dryf. Ek sal dan 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie.” 13Sy moeder het egter vir hom gesê: “Op my kan jou vloek maar rus, my seun. Luister net na my en gaan haal dit vir my!”
14Hy het dit toe gaan haal en vir sy moeder gebring. Sy moeder het 'n smaaklike gereg voorberei, soos sy vader daarvan hou. 15Toe neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan. 16Die vel van die bokkies trek sy toe oor sy arms en oor die gladde deel van sy nek, 17en sy oorhandig die smaaklike gereg en die brood wat sy voorberei het, aan haar seun Jakob.
18Toe hy by sy vader kom, sê hy: “My vader!” Hy het geantwoord: “Ja? Wie is jy, my seun?” 19Jakob sê toe vir sy vader: “Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen wat u vir my gesê het. Kom regop, sit en eet van my wildsvleis, sodat u my kan seën.” 20Toe vra Isak vir sy seun: “Maar hoe het jy dit dan so gou gekry, my seun?” Hy het geantwoord: “Omdat die Here u God dit vir my so laat gebeur het.”
21Isak sê toe vir Jakob: “Kom bietjie nader, sodat ek aan jou kan voel, my seun, of jy werklik my seun Esau is of nie.” 22Jakob gaan toe nader aan Isak, sy vader, en hy voel aan hom. Toe sê hy: “Die stem is die stem van Jakob, maar die arms is die arms van Esau.” 23Hy het hom egter nie herken nie, want sy arms was harig, soos sy broer Esau se arms.
So het hy hom geseën. 24Hy het gevra: “Is jy werklik my seun Esau?” En hy het gesê: “Ek is.” 25Hy sê toe: “Bring die gereg vir my nader; ek wil van die wildsvleis van my seun eet, sodat ek jou kan seën.” Hy het dit vir hom nadergebring en hy het geëet. Hy het ook vir hom wyn gebring en hy het gedrink. 26Isak, sy vader, het vir hom gesê: “Kom tog nader en soen my, my seun!” 27Jakob het nader gegaan en hom gesoen. Toe Isak die reuk van sy klere kry, het hy hom geseën en gesê:
“Kyk, die reuk van my seun
is soos die reuk van die veld
wat die Here geseën het.
28Mag God jou van die dou
van die hemel gee,
en die vrugbaarste dele
van die aarde,
'n oorvloed koring en •nuwe wyn.
29Volke sal jou dien
en nasies sal diep voor jou buig.
Wees 'n heerser oor jou broers,
sodat die seuns van jou moeder
diep voor jou sal buig.
Hulle wat jou vervloek, is vervloek,
en hulle wat jou seën, is geseënd.”
30Net toe Isak daarmee klaar was om Jakob te seën, en Jakob pas van sy vader Isak af na buite gegaan het, kom sy broer Esau terug van sy jagtog af. 31Ook hy het 'n smaaklike gereg voorberei, dit vir sy vader geneem en vir sy vader gesê: “My vader moet regop kom en van sy seun se wildsvleis eet sodat u my kan seën.” 32Maar sy vader Isak vra vir hom: “Wie is jy?” Waarop hy antwoord: “Ek is u seun, u eersgeborene, Esau.”
33Isak het verskriklik aan die bewe gegaan en gevra: “Wie is dit dan wat wildsvleis gejag en vir my gebring het? Ek het van alles geëet voordat jy ingekom het, en ek het hom geseën. Hy sal dan ook geseënd wees!”
34Toe Esau sy vader se woorde hoor, het hy baie hard en met groot bitterheid geskreeu. Hy het vir sy vader gesê: “Seën my ook, my vader!” 35Maar hy het geantwoord: “Jou broer het met bedrog gekom en jou seën gevat!” 36Esau het gesê: “Is dit omdat sy naam Jakob is dat hy my nou al twee keer bedrieg het? My eersgeboortereg het hy gevat, en kyk, nou het hy my seën gevat!” Toe vra Esau: “Het u nie vir my 'n seën uitgehou nie?” 37Isak het geantwoord en vir Esau gesê: “Kyk, ek het hom as heerser oor jou aangestel, en ek het al sy broers vir hom as dienaars gegee. Koring en nuwe wyn het ek vir hom voorsien. Wat kan ek dan nog vir jou doen, my seun?” 38Daarop vra Esau vir sy vader: “Het u dan net een seën, my vader? Seën my ook, my vader!” Toe begin Esau hardop huil.
39Isak, sy vader, het daarop gereageer en vir hom gesê:
“Kyk, weg van die vrugbaarste dele van die aarde
sal jou woonplek wees,
en weg van die dou van die hemel daar bo.
40Van jou swaard sal jy leef,
en jou broer sal jy dien.
Maar wanneer jy wegbreek,
sal jy sy juk van jou nek afruk.”
Jakob se vlug
41Esau was vyandig teenoor Jakob oor die seën waarmee sy vader hom geseën het. Esau het in sy hart gesê: “Die dae van rou oor my pa kom nader; dan gaan ek my broer Jakob doodmaak.” 42Toe Rebekka ingelig is oor die woorde van haar oudste seun Esau, het sy haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Kyk, jou broer Esau wil hom op jou wreek deur jou dood te maak. 43My seun, luister dan nou na my: Maak gereed en vlug na my broer Laban in Haran. 44Bly 'n tyd lank by hom totdat die woede van jou broer bedaar het, 45totdat die toorn van jou broer teen jou bedaar het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Ek sal dan iemand stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”
46Rebekka het vir Isak gesê: “Ek het 'n weersin in my lewe as gevolg van hierdie Hetitiese vroumense. As Jakob uit die Hetitiese vroue, uit die vroue van die land, 'n vrou neem soos hierdie twee – waarvoor leef ek dan?”