1Josef kon hom nie langer bedwing voor almal wat langs hom staan nie, en roep toe uit: “Stuur almal uit, weg van my af!” Daar het niemand anders by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het hardop begin huil. Die Egiptenare het dit gehoor, ja, ook die huis van die farao het dit gehoor. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef my pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle het verbysterd voor hom gestaan. 4Josef sê toe vir sy broers: “Kom tog nader na my!” Hulle het nader gegaan, en toe sê hy: “Ek is Josef, julle broer; julle het my verkoop om na Egipte geneem te word. 5Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het. 6Ja, daar was nou al twee jaar lank hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle nakomelinge te vestig op aarde, en om julle in die lewe te hou met die oog op 'n groot uitredding. 8Dus, dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my as 'n vader vir die farao aangestel, as 'n heer vir sy hele huishouding en 'n regeerder oor die hele Egipteland. 9Maak gou en trek op na my pa. Sê vir hom, ‘So sê u seun Josef: “God het my aangestel as heer oor die hele Egipte. Trek af na my toe. Moenie talm nie! 10Kom woon in die Gosenstreek, sodat pa naby my kan wees – pa en pa se kinders en kleinkinders, en ook pa se kleinvee en beeste en alles wat aan pa behoort. 11Ek sal pa daar van kos voorsien, want daar gaan nog vyf jaar lank hongersnood wees. Anders verarm pa – pa, pa se huis en almal wat aan pa behoort.” ’ 12Kyk, julle sien nou self, en my broer Benjamin sien dit ook, dat dit my eie mond is wat met julle praat. 13Vertel vir my pa van al die aansien wat ek in Egipte geniet, en van alles wat julle gesien het. Maak net gou en bring my pa af hierheen.”
14Toe val hy sy broer Benjamin om die nek en huil, en Benjamin het op sy skouer gehuil. 15Hy het al sy broers gesoen en by hulle gehuil. Daarna het sy broers met hom gepraat.
16Toe die nuus “Josef se broers het gekom!” die farao se paleis bereik, was dit goed in die oë van die farao en sy dienaars. 17Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers, ‘Doen die volgende: Laai julle pakdiere en gaan dan na die land Kanaän. 18Kry julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe! Ek sal vir julle die beste deel van Egipteland gee, sodat julle die vettigheid van die land kan geniet.’ 19En jy self het die opdrag om vir hulle te sê, ‘Dit moet julle doen: Neem vir julle waens uit Egipteland vir julle kinders en vroue, en gaan haal julle vader en kom! 20Moenie trane stort oor julle besittings nie, want die beste van die hele Egipteland sal daar wees vir julle.’ ”
21Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het hulle, volgens die opdrag van die farao, van waens voorsien. Hy het ook vir hulle padkos vir die reis gegee. 22Hy het aan hulle almal, elkeen van hulle, 'n bykomende stel klere gegee, maar vir Benjamin het hy driehonderd silwerstukke en vyf stelle klere gegee. 23Net so het hy vir sy vader tien donkiehingste gestuur, gelaai met van die beste produkte uit Egipte, en ook tien donkiemerries, gelaai met graan, brood en kosvoorraad vir sy vader vir die reis. 24So het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie bang wees op die pad nie.”
25Hulle het toe van Egipte af opgetrek en in die land Kanaän by hulle vader Jakob aangekom. 26Hulle het hom ingelig, “Josef leef nog!” en ook dat hy heers oor die hele Egipteland. Maar dit het hom koud gelaat, want hy het hulle nie geglo nie. 27Hulle dra toe aan hom al Josef se woorde oor wat hy vir hulle gesê het; en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom op te laai, het Jakob, hulle vader, se gemoed opgeflikker. 28Israel sê toe: “Genoeg! My seun Josef leef nog! Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.”