1'n Man uit Gilead, Jefta, was 'n dapper kryger, maar hy was die seun van 'n prostituut. Gilead het Jefta verwek, 2maar toe Gilead se vrou vir hom seuns in die wêreld bring en die vrou se seuns grootword, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n erfdeel in ons familie kry nie, want jy is die seun van 'n ander vrou.” 3Jefta het toe van sy broers af padgegee en in die landstreek Tob gaan woon. Leeglêers het by Jefta aangesluit en saam met hom strooptogte onderneem.
4'n Tyd daarna het die Ammoniete teen Israel oorlog gemaak. 5Terwyl die Ammoniete met Israel geveg het, het die oudstes van Gilead vir Jefta gaan haal in die landstreek Tob. 6Hulle sê toe vir Jefta: “Kom, wees ons •aanvoerder, sodat ons teen die Ammoniete kan veg.” 7Maar Jefta het die oudstes van Gilead geantwoord: “Is dit dan nie julle wat my verag en uit my vader se huis weggejaag het nie? Waarom kom julle nou na my toe, noudat julle in die nood is?” 8Die oudstes van Gilead sê toe vir Jefta: “Dit is waar, maar nou kom ons terug na jou. Jy moet saam met ons gaan en teen die Ammoniete veg, dan sal jy vir ons, vir al die inwoners van Gilead, 'n leier wees.” 9Jefta sê toe vir die oudstes van Gilead: “As julle my laat terugkeer om teen die Ammoniete te veg, en die Here gee hulle aan my oor, sal ek julle leier wees?” 10Die oudstes van Gilead het Jefta geantwoord: “Die Here self hoor wat tussen ons gesê word. Ons sal sekerlik maak soos jy sê.” 11Jefta het toe saam met die oudstes van Gilead gegaan en die manskappe het hom as hulle leier en •aanvoerder aangestel. Jefta het al sy woorde ook in die teenwoordigheid van die Here in Mispa herhaal.
12Daarna het Jefta boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete om te sê: “Wat het jy teen my dat jy kom oorlog maak teen my land?” 13Die koning van die Ammoniete het Jefta se boodskappers geantwoord: “Dit is omdat Israel my land afgeneem het toe hulle opgetrek het uit Egipte – van die Arnon af tot by die Jabbok en tot aan die Jordaan. Gee dit dan nou terug, ter wille van die vrede!”
14Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur. 15Hy het vir hom laat weet: “So sê Jefta, ‘Israel het nie die land van Moab en die land van die Ammoniete afgeneem nie; 16maar toe hulle uit Egipte opgetrek het, het Israel deur die woestyn gegaan tot by die Rietsee en by Kades aangekom. 17Israel het toe boodskappers na die koning van Edom gestuur om te vra: “Laat ons asseblief deur u gebied trek.” Maar die koning van Edom wou niks daarvan hoor nie. Hulle het die boodskap ook na die koning van Moab gestuur, maar ook hy wou nie. Israel het toe by Kades gebly. 18Daarna het hulle deur die woestyn gegaan en om die gebied van Edom en die gebied van Moab getrek. Hulle het oos gehou van die gebied van Moab, en kamp opgeslaan anderkant die Arnon. Hulle het nie in die grondgebied van Moab gekom nie, want die Arnon is die grens van Moab. 19Toe het Israel boodskappers gestuur na Sihon, koning van die Amoriete, die koning in Gesbon. Israel het vir hom gevra: “Laat ons asseblief deur u land trek na ons plek.” 20Sihon het Israel egter nie vertrou om deur sy grondgebied te trek nie. Sihon het al sy manskappe byeengebring, by Jahas kamp opgeslaan, en teen Israel geveg. 21Maar die Here, die God van Israel, het Sihon en al sy manskappe in die hand van Israel gegee, sodat hulle hulle verslaan het. Israel het toe die hele gebied van die Amoriete wat in daardie land gewoon het, in besit geneem. 22Hulle het die hele grondgebied van die Amoriete in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok, van die woestyn af tot by die Jordaan. 23Dit is dus die Here, die God van Israel, wat die Amoriete uitgedryf het voor sy volk Israel. Wil jy hulle dan uitdryf? 24Is die gebied wat jou god Kemos vir jou as besitting gee, nie dit wat jy moet beset nie? En is die gebied van almal wat die Here ons God voor ons uit verdryf het, nie dit wat ons moet beset nie? 25Is jy dan nou soveel beter as Balak, seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis of ooit teen hulle geveg? 26Israel woon nou al driehonderd jaar lank in Gesbon en sy omliggende dorpies, in Aroër en sy omliggende dorpies en in al die dorpe wat langs die Arnon lê. Waarom het julle dit nie gedurende dié tyd van ons afgeneem nie? 27Ek is nie die een wat 'n misstap teenoor jou begaan het nie, maar jy is die een wat my 'n onreg aandoen deur teen my oorlog te voer. Die Here, die Regter, sal vandag tussen die Israeliete en die Ammoniete beslis.’ ” 28Die koning van die Ammoniete het egter nie ag geslaan op die boodskap wat Jefta vir hom gestuur het nie.
29Die Gees van die Here het oor Jefta gekom en hy het deur Gilead en Manasse getrek. Hy het na Mispa in Gilead opgetrek, en van Mispa in Gilead het hy oorgetrek na die Ammoniete. 30Jefta het toe 'n gelofte aan die Here afgelê. Hy het gesê: “As U werklik die Ammoniete in my hand gee, 31dan sal die een wat uitkom, wat by die deur van my huis uitkom om my te ontmoet wanneer ek behoue van die Ammoniete af terugkeer, aan die Here behoort. Ek sal hom as •brandoffer offer.”
32Jefta het oorgetrek na die Ammoniete om teen hulle oorlog te voer, en die Here het hulle in sy hand gegee. 33Hy het hulle verslaan, hulle 'n baie groot nederlaag toegedien van Aroër af tot by Minnit, twintig dorpe, ja, tot by Abel-Keramim. En die Ammoniete moes die knie buig voor die Israeliete.
34Toe Jefta in Mispa by sy huis aankom – kyk, toe was dit sy dogter wat met tamboeryne en kringdanse uitkom om hom te ontmoet! Sy was die enigste kind; hy het nie enige ander seun of dogter gehad nie. 35Die oomblik toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: “Ag, my dogter, ek is heeltemal verpletter oor jou! Dat jy nou een van hulle moet wees wat my in die ellende dompel! Ek het met my mond 'n gelofte aan die Here afgelê en ek kan dit nie terugtrek nie.” 36Sy het hom geantwoord: “Pa, jy het met jou mond aan die Here 'n gelofte afgelê. Maak dan met my soos wat jy gesê het nadat die Here vir jou die geleentheid vir wraak op jou vyande, op die Ammoniete, gegee het.”
37Verder het sy vir haar vader gesê: “Laat my dit nog gegun word: Gee my vryheid vir twee maande, sodat ek in die berge kan ronddwaal. Ek wil gaan treur oor my maagdelikheid, ek en my vriendinne.” 38“Gaan,” het hy gesê, en haar weggestuur vir twee maande.
Sy het gegaan, sy en haar vriendinne, en op die berge getreur oor haar maagdelikheid. 39Ná twee maande het sy teruggekeer na haar vader. Hy het sy gelofte nagekom en met haar gedoen wat hy beloof het. Sy het nooit met 'n man intiem verkeer nie.
Dit het 'n vaste reël geword in Israel: 40Jaar vir jaar gaan die jongmeisies van Israel vir vier dae per jaar om die dogter van Jefta, die man uit Gilead, te gedenk.