Lied van Debora
1Op daardie dag het Debora en Barak, seun van Abinoam, gesing:
2“Wanneer hare onversorg is in Israel,
wanneer manskappe vrywillig
aanmeld –
prys die Here!
3Luister, konings;
gee aandag, regeerders!
Ek, vir die Here wil ek sing;
ek wil die Here,
die God van Israel besing.
4Here, toe U uitgetrek het uit Seïr,
toe U vooruit gestap het
uit die gebied van Edom,
het die aarde gebewe;
selfs die hemel het gegiet,
ja, die wolke het water gegiet.
5Berge het gevloei voor die Here,
die Een van Sinai, voor die Here,
die God van Israel.
6“In die tyd van Samgar, seun van Anat,
in die tyd van Jael,
was die paaie verlate,
het dié wat op reis gaan
die kronkelpaaie gevolg.
7Krygers het ontbreek;
in Israel het hulle ontbreek,
totdat jy, Debora, opgestaan het,
totdat jy, 'n moeder in Israel,
opgestaan het.
8Nuwe gode is gekies!
Was daar toe vegters in die poorte?
Was skild of steekspies te sien
by veertigduisend in Israel?
9My hart is by die bevelvoerders
van Israel,
die vrywilligers onder die volk.
Prys die Here!
10“Julle wat op wit eselinne ry,
wat op saalkleedjies sit,
ook julle wat langs die pad loop –
basuin dit uit,
11nog harder as die stemme
van hulle wat troppe skei
tussen die drinkbakke!
Daar moet hulle die reddingsdade
van die Here oorvertel,
die reddingsdade van sy krygers
in Israel.
Dan kom die manskappe van die Here
af na die poorte.
12“ ‘Ontwaak, ontwaak, Debora!
Ontwaak, ontwaak, sing 'n lied!
Staan op, Barak;
voer jou gevangenes weg,
seun van Abinoam!’
13“Toe het dié wat oorgebly het,
afgekom na dié wat sterk is;
die manskappe van die Here
het as helde afgekom na my.
14Uit Efraim kom hulle
wie se wortels in Amalek is;
hulle is agter jou, Benjamin,
as jou manskappe!”
Uit Magir kom die bevelvoerders af,
en uit Sebulon –
hulle wat die skrywerstaf dra.
15•Aanvoerders uit Issaskar
is by Debora.
Issaskar is soos Barak –
hy is in die vlakte uitgestuur
op sy spoor.
In die geledere van Ruben
was die oorwegings
van die hart groot.
16Waarom het jy tussen
die saalsakke bly sit
om te luister na die fluitspel
by die veetroppe?
In die geledere van Ruben
was die oorwegings
van die hart groot.
17Gilead het oorkant die Jordaan vertoef,
en Dan – waarom is hy tydelik
by die skepe?
Aser sit langs die seestrand,
by sy vasmeerplekke vertoef hy.
18Sebulon is manskappe
wat die dood uittart,
ook Naftali, op die heuwels
in die veld.
19“Konings het gekom,
hulle het geveg;
toe het die konings van Kanaän
geveg by Taänag,
langs die water van Megiddo;
maar nie 'n enkele stuk silwer
kon hulle buit nie.
20Uit die hemelruim
het die sterre geveg;
uit hulle wentelbane
het hulle teen Sisera geveg.
21Die Kisonspruit
het hulle weggespoel,
die oeroue spruit,
die Kisonspruit!
“Ek wil voortgaan met krag:
22Daarna het die perdepote
gedreun van die jaagtog,
die jaagtog van sy hingste!
23‘Vervloek Meros,’
sê die •engel van die Here,
‘vervloek sy inwoners volkome;
want hulle het nie gekom
ter ondersteuning
van die Here nie,
ter ondersteuning van die Here
teen die helde nie.’
24“Geseënd onder die vroue is Jael,
die vrou van Geber, die Keniet,
geseënd onder die vroue in tente.
25Water het hy gevra,
melk het sy gegee,
in 'n kom geskik vir magtiges
het sy dikmelk aangebied.
26Haar hand steek sy uit
na die tentpen,
haar regterhand
na die werkers se hamer.
Sy slaan Sisera met die hamer,
verpletter sy kop;
sy verbrysel, sy deurboor sy slape.
27Aan haar voete sak hy inmekaar,
hy val, bly lê;
aan haar voete sak hy inmekaar,
hy val;
waar hy inmekaarsak,
daar val hy, neergeslaan.
28“Deur die venster kyk sy af,
die moeder van Sisera roep klaend
deur die latwerk:
‘Waarom sloer sy strydwa
om te kom?
Waarom talm die gerammel
van sy strydwaens?’
29Die slimstes van haar hofdames
antwoord haar;
ja, sy sê dit ook vir haarself:
30‘Kom hulle nie af op buit
en verdeel dit nie?
'n Vrouelyf, twee vrouelywe
vir elk van die helde,
'n buit van veelkleurige doeke
vir Sisera,
'n buit van veelkleurige doeke,
kleurvol geweefde doeke,
twee kleurvol geweefde doeke,
vir die halse van hulle
wat gebuit is.’
31“So moet al u vyande omkom,
Here!
Maar hulle wat Hom liefhet,
is soos die son wat opkom
in sy krag!”
Daarna het die land veertig jaar lank rus gehad.