Ragab en die verkenners
1Toe het Josua, seun van Nun, in die geheim twee manne as verkenners uit Sittim gestuur en gesê: “Gaan kyk na die land en Jerigo.” Hulle het gegaan en by die huis van 'n prostituut met die naam Ragab aangekom en daar oornag. 2Aan die koning van Jerigo is gesê: “Kyk, manne van die Israeliete het in die nag hierheen gekom om die land te verken.”
3Toe stuur die koning van Jerigo 'n boodskap na Ragab: “Lewer die manne uit wat by jou aangekom het, wat in jou huis ingegaan het, want hulle het gekom om die hele land te verken.”
4Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle versteek. Sy het gesê: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. 5Toe die stadspoort teen donker moes sluit, het die manne uitgegaan. Ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie. Sit hulle gou agterna, want u kan hulle inhaal.” 6Maar sy het hulle na die dak laat opklim en hulle versteek onder vlasstingels wat vir haar op die dak oopgesprei was.
7Die manne het hulle agternagesit op die pad na die Jordaan, tot by die driwwe. Die stadspoort is gesluit nadat dié wat hulle agternagesit het, uitgegaan het. 8Voordat die verkenners gaan lê het om te slaap, het sy op die dak geklim na hulle toe. 9Sy het vir die manne gesê: “Ek weet dat die Here aan julle die land gegee het, en dat vrees vir julle ons oorval het, ja, dat al die inwoners van die land sidder oor julle. 10Want ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het met julle uittog uit Egipte, en wat julle gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, aan Sihon en Og wat deur julle met die banvloek getref is. 11Ons het dit gehoor, en ons harte het ineengekrimp, sodat niemand meer moed het teen julle nie. Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder. 12Daarom, sweer nou asseblief vir my by die Here dat ook julle guns sal betoon aan my familie, omdat ek guns aan julle betoon het. Gee my 'n betroubare teken 13dat julle my vader en moeder, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, sal laat leef, dat julle ons sal red van die dood.”
14Toe sê die manne vir haar: “Ons self staan in vir julle, tot die dood toe, as julle niks oor hierdie saak van ons bekend maak nie. Wanneer die Here hierdie land vir ons gee, sal ons aan jou guns en trou bewys.”
15Sy het hulle toe met 'n tou deur die venster laat sak, want haar huis was binne die dwarsmure van die stadsmuur; sy het in die stadsmuur gewoon. 16Sy het vir hulle gesê: “Gaan na die bergland, anders kom die agtervolgers op julle af. Kruip daar weg vir drie dae, totdat die agtervolgers terugkom. Daarna kan julle verder gaan op julle pad.”
17Die manne het vir haar gesê: “Ons sou vry kon wees van hierdie eed aan jou wat jy ons laat sweer het. 18Kyk, wanneer ons in die land kom, moet jy hierdie karmosynrooi gevlegte tou vasmaak aan die venster waardeur jy ons laat sak het. Jou vader en moeder, jou broers en jou hele familie moet jy by jou in jou huis byeenbring. 19Die bloed van enigiemand wat by die deure van jou huis na buite uitgaan, sal op sy eie kop wees, en ons sal vry wees. Maar die bloed van enigiemand wat by jou in die huis is, sal op ons koppe wees as daar 'n hand teen hulle gelig word. 20En as jy hierdie saak van ons bekend maak, sal ons ook vry wees van die eed aan jou wat jy ons laat sweer het.” 21Daarop het sy geantwoord: “Soos julle gesê het, so sal dit wees.” Daarna het sy hulle weggestuur en hulle het vertrek. Sy het toe die karmosynrooi tou aan die venster vasgemaak.
22Hulle het gegaan en in die bergland aangekom. Daar het hulle drie dae gebly, totdat die agtervolgers teruggekeer het. Die agtervolgers het langs die hele pad gesoek, maar hulle nie gekry nie. 23Die twee manne het teruggekeer. Hulle het van die berg afgekom, die rivier oorgesteek en by Josua, seun van Nun, aangekom. Hulle het vir hom alles vertel wat met hulle gebeur het. 24Hulle het vir Josua gesê: “Die Here het inderdaad die hele land in ons hand gegee. Meer nog, al die inwoners van die land sidder oor ons.”