Ontsag vir die Here
1My seun, my onderrig
moet jy nie vergeet nie,
en my gebooie –
jou hart moet daarby hou;
2want die lengte van jou leeftyd,
die lewensjare en vrede
sal dan vir jou vermeerder word.
3Troue liefde en waarheid
moet jou nooit verlaat nie.
Bind dit om jou nek,
skryf dit op die tafel van jou hart,
4dan sal jy guns
en goeie begrip vind
in die oë van God en die mense.
5Vertrou op die Here
met jou hele hart –
op jou eie insig
moet jy nie staatmaak nie.
6Ken Hom in al jou weë,
en Hy sal jou paaie reguit maak.
7Moenie wys wees in jou eie oë nie.
Jy moet ontsag hê vir die Here,
bly weg van die kwaad.
8Genesing sal dit bring
vir jou liggaam
en verkwikking vir jou gebeente.
9Eer die Here met jou rykdom,
met die beste deel
van jou volle oes;
10dan sal jou graanskure
oorvol wees,
en van •nuwe wyn
sal jou parskuipe oorloop.
11Die vermaning van die Here,
my seun, moet dit nie verwerp nie,
en moenie 'n afkeer hê
van sy teregwysing nie.
12Want die een vir wie
die Here liefhet, wys Hy tereg,
soos 'n vader die seun vir wie hy omgee.
13Hoe gelukkig is 'n mens
wat wysheid vind,
en 'n mens wat verstandigheid verkry!
14Ja, die wins wat wysheid lewer,
is meer as dié van silwer,
meer as dié van goud
is haar opbrengs.
15Sy is kosbaarder as koraal;
niks wat jy begeer,
kan met haar vergelyk word nie.
16'n Lang lewe
is in haar regterhand,
en in haar linkerhand,
rykdom en eer.
17Haar weë is aangename weë,
en al haar paaie is vrede.
18'n Boom van lewe is sy
vir hulle wat haar aangryp,
en hulle wat haar vashou,
word elkeen gelukkig genoem.
19Die Here self het die aarde
gegrondves met wysheid,
die hemel gevestig met verstand.
20Deur sy kennis
is die •oerwaters gekloof
en drup die wolke dou.
21My seun, vindingrykheid
en goeie oordeel –
laat dit nie aan jou oë ontglip nie;
hou daarby.
22Dit sal lewe wees vir jou wese,
'n sieraad vir jou nek.
23Dan sal jy veilig loop op jou pad;
jou voet sal jy nie stamp nie.
24As jy gaan lê,
sal jy nie verskrik wees nie,
as jy lê,
sal jou slaap soet wees.
25Jy hoef nie bang te wees
vir 'n onverwagte verskrikking,
of vir die teenspoed van goddeloses
wanneer dit kom nie.
26Want die Here
sal aan jou sy wees,
en Hy sal keer dat jou voet
in 'n strik trap.
Wyse optrede
27Moenie iets goeds weerhou
van wie dit verdien,
terwyl dit in jou mag is
om op te tree nie.
28Moenie vir jou medemens sê,
“Gaan en kom later weer –
môre sal ek dit gee!”
terwyl jy dit by jou het nie.
29Moenie teen jou medemens
kwaad smee,
terwyl hy in goeie trou
by jou woon nie.
30Moenie onnodig 'n saak
teen iemand begin,
as hy jou geen kwaad
aangedoen het nie.
31Moenie iemand
wat geweld gebruik, beny nie,
en moenie enige van sy paaie kies nie;
32want vir die Here is iemand
wat die spoor byster raak, afstootlik –
maar opregtes geniet sy vertroue.
33Die Here se vervloeking rus
op die huis van goddeloses,
maar die tuiste van regverdiges
seën Hy.
34Met spotters spot Hy self,
maar aan magteloses
skenk Hy genade.
35Eer is wat wyses as erfdeel ontvang,
maar dwase, dié verhoog Hy
tot skande.