Lied van die liefde
1Al praat ek die tale
van mense en engele,
maar ek het nie liefde nie,
dan het ek 'n weergalmende ghong
of 'n kletterende simbaal geword.
2En al profeteer ek,
en begryp ek alle geheime,
en besit ek alle kennis,
en al het ek al die geloof
om berge te versit,
maar ek het nie liefde nie,
is ek niks!
3Al deel ek al my besittings uit,
en gee ek my liggaam oor,
sodat ek my daarop kan beroem,
maar ek het nie liefde nie,
baat dit my niks.
4Liefde bly geduldig,
liefde gee om,
liefde is nie jaloers nie,
spog nie,
en is nie verwaand nie.
5Liefde tree nie onbehoorlik op nie,
jaag nie eiebelang na nie,
is nie liggeraak nie.
Dit hou nie boek van die kwaad nie,
6is nie bly oor onreg nie,
maar is saam bly oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verduur alles.
8Liefde faal nooit nie.
Maar profesieë,
dit sal tot 'n einde kom;
of tale, dit sal ophou;
of kennis, dit sal tot niet gaan.
9Want ons ken gedeeltelik,
en ons profeteer gedeeltelik,
10maar wanneer die volmaakte gekom het,
sal wat gedeeltelik is, ophou bestaan.
11Toe ek nog 'n kind was,
het ek gepraat soos 'n kind,
gedink soos 'n kind,
geredeneer soos 'n kind.
Noudat ek volwasse is,
het ek die dinge van 'n kind agtergelaat.
12Nou sien ons wel 'n geheimnisvolle beeld,
soos in 'n spieël,
maar eendag van aangesig tot aangesig.
Nou ken ek slegs gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken,
soos ek ten volle geken is.
13En nou bly geloof, hoop en liefde,
hierdie drie –
maar die grootste hiervan is die liefde.