Elia by Horeb
1Toe Agab vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het, 2stuur Isebel 'n boodskapper na Elia om vir hom te sê: “Mag die gode my swaar straf as ek nie môre teen hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie.”
3Hy het bang geword, gereedgemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat.
4Hy self het egter die woestyn in gegaan, 'n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder 'n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot 'n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.” 5Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos.
Skielik was daar 'n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” 6Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop 'n roosterkoek op gloeiende kole gebak en 'n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Maar die •engel van die Here het 'n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.” 8Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. 9Daar het hy in 'n grot ingegaan en daar oornag.
En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” 10Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” 11Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die Here. Kyk, die Here sal weldra verbygaan.”
Daar was 'n geweldige sterk wind
wat die berge geskeur het,
wat die rotse verbrysel het
voor die Here;
in die wind was die Here nie.
Ná die wind was daar
'n aardbewing;
in die aardbewing was die Here nie.
12Ná die aardbewing was daar
vuur;
in die vuur was die Here nie.
Ná die vuur was daar
'n sagte gesuis.
13Toe Elia dit hoor, het hy dadelik sy gesig met sy mantel bedek. Hy het uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan.
Meteens was daar 'n stem wat vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia?” 14Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” 15Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. 16Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek. 17Wie aan die swaard van Gasael ontkom – Jehu sal hom doodmaak, en wie aan die swaard van Jehu ontkom – Elisa sal hom doodmaak. 18Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”
Elisa as Elia se opvolger
19Elia het daarvandaan weggegaan en Elisa, seun van Safat, aangetref terwyl hy ploeg. Twaalf pare osse was voor hom aan die werk; hy was self by die twaalfde paar. Elia gaan toe na hom en gooi sy mantel oor hom. 20Hy het die osse net daar gelaat, agter Elia aan gehardloop en gesê: “Ek wil asseblief my vader en moeder met 'n soen gaan groet, dan sal ek u volg.” Maar hy antwoord hom: “Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?” 21Hy draai toe om agter hom, neem een paar osse, slag hulle en maak die vleis gaar met die osse se trekgoed. Hy gee dit toe vir die mense, en hulle het dit geëet. Toe maak hy gereed en volg Elia. Hy het sy helper geword.