Oorlog tussen Agab en Ben-Hadad
1Ben-Hadad, die koning van Aram, het sy hele leër byeengebring. Daar was twee-en-dertig konings saam met hom, met perde en strydwaens. Hy het opgetrek, Samaria beleër en teen hulle geveg. 2Hy stuur toe boodskappers na die stad, na Agab, koning van Israel. 3Hy het vir hom laat weet: “So sê Ben-Hadad, ‘Jou silwer en jou goud behoort aan my, en jou vroue en die keur van jou seuns behoort aan my.’ ” 4Die koning van Israel het daarop gereageer en gesê: “Dit is soos u sê, my heer die koning. Aan u behoort ek met alles wat myne is.”
5Die boodskappers het toe teruggekom en gesê: “So sê Ben-Hadad, ‘Ek het wel vir jou laat weet: “Jou silwer en goud en jou vroue en seuns moet jy vir my gee.” 6Maar môre teen hierdie tyd sal ek my dienaars na jou stuur, en hulle sal jou paleis en die huise van jou dienaars deursoek. Hulle sal op alles wat jy kosbaar ag, beslag lê en dit wegneem.’ ”
7Die koning van Israel het toe al die oudstes van die land ontbied. Hy het vir hulle gesê: “Neem tog kennis hiervan, en sien in dat hierdie man moeilikheid soek; want hy het vir my 'n boodskap gestuur in verband met my vroue en my seuns, my silwer en my goud, en ek het hom dit nie geweier nie.” 8Daarop sê al die oudstes en die hele volk vir hom: “U moet nie gehoor gee nie; u mag nie instem nie.” 9Hy sê toe vir die boodskappers van Ben-Hadad: “Sê vir my heer die koning, ‘Alles wat u aanvanklik vir u dienaar laat weet het, sal ek doen, maar aan hierdie eis kan ek nie voldoen nie.’ ” Die boodskappers het toe gegaan en die antwoord aan hom oorgedra.
10Ben-Hadad stuur toe aan hom dié boodskap: “Mag die gode my swaar straf as die stof van Samaria genoeg sal wees vir die bak hande van al die manskappe wat in my spore volg.” 11Maar die koning van Israel het daarop gereageer en gesê: “Sê vir hom, ‘Wie hom omgord, moet nie spog soos die een wat al losmaak nie.’” 12Toe Ben-Hadad hierdie boodskap hoor waar hy besig was om te drink, hy en die konings in die tydelike skuilings, sê hy vir sy amptenare: “Stel die oorlogstuig op!” Hulle het toe die oorlogstuig opgestel teen die stad.
13Juis toe kom 'n sekere profeet by Agab, koning van Israel, aan en sê: “So sê die Here, ‘Sien jy hierdie hele groot menigte? Kyk, Ek gaan hulle vandag in jou hand gee, sodat jy kan weet dat Ek die Here is.’ ” 14Agab vra toe: “Deur wie?” Daarop antwoord hy: “So sê die Here, ‘Deur die bestuurders van die provinsies se jong manne.’ ” Toe vra hy: “Wie moet die stryd aanknoop?” En hy antwoord: “U moet.”
15Agab monster toe die bevelvoerders van die provinsies se jong manne. Hulle was tweehonderd twee-en-dertig. En agter hulle stel hy die hele leër op, al die Israeliete, seweduisend van hulle. 16Hulle het teen die middag uitgetrek, terwyl Ben-Hadad besig was om hom dronk te drink in die tydelike skuilings, hy en die konings, die twee-en-dertig konings wat hom moes help. 17Die bevelvoerders van die provinsies se jong manne het op die voorpunt uitgetrek.
Ben-Hadad het skildwagte uitgeplaas en hulle lig hom toe in: “Daar het manne uit Samaria uitgetrek.” 18Hy sê toe: “As hulle vir vrede uitgetrek het, moet julle hulle lewendig vang, en as hulle vir oorlog uitgetrek het, moet julle hulle lewendig vang.” 19Toe daardie manne uit die stad uittrek – die bevelvoerders van die provinsies se jong manne, met die leër agter hulle – 20het elkeen sy teenstander verslaan. Aram het op die vlug geslaan en Israel het hulle agternagesit. Maar Ben-Hadad, koning van Aram, het op 'n perd ontvlug saam met die ruitery. 21Die koning van Israel het uitgetrek en die perde en strydwaens aangeval. Hy het Aram 'n groot nederlaag toegedien.
22Daarna kom die profeet by die koning van Israel en sê vir hom: “Gaan, versterk uself! Oorweeg dit en kyk wat u moet doen, want teen die jaarwending sal die koning van Aram weer teen u optrek.”
23Die amptenare van die koning van Aram het vir hom gesê: “Hulle gode is berggode, daarom was hulle te sterk vir ons. Maar as ons op die vlakte teen hulle veg, sal ons beslis sterker wees as hulle. 24Doen dít: Verwyder die konings, elkeen uit sy pos, en stel •streekgoewerneurs in hulle plekke aan. 25U kan dan self vir u 'n leër saamstel soos die leër wat vir u in die steek gelaat het, ook perde soos daardie perde, en strydwaens soos daardie strydwaens. Laat ons dan teen hulle veg op die vlakte; ons sal beslis sterker wees as hulle.” Hy het na hulle geluister en so gemaak.
26Teen die jaarwending het Ben-Hadad die Arameërs gemonster en opgetrek na Afek om teen Israel oorlog te voer. 27Die Israeliete was reeds gemonster en van voedsel voorsien. Hulle het vertrek om teen hulle te staan te kom. Die Israeliete het teenoor hulle kamp opgeslaan, maar was soos twee troppies bokke, terwyl die Arameërs die land vol was. 28Die man van God het egter na vore getree en vir die koning van Israel gesê: “So sê die Here, ‘Omdat die Arameërs gesê het “Die Here is 'n berggod; hy is nie 'n god van die valleie nie”, gee Ek hierdie hele groot menigte in jou hand, sodat julle kan weet dat Ek die Here is.’ ”
29Sewe dae lank het hulle so teenoor mekaar in kampe gestaan, en op die sewende dag het die oorlog uitgebreek. Die Israeliete het die Arameërs verslaan – honderdduisend voetsoldate op een dag. 30Dié wat oor was, het na Afek gevlug, na die stad; maar die stadsmuur het op die sewe-en-twintigduisend wat oor was, ingeval.
Ben-Hadad het ook gevlug en in die stad ingegaan, van een binnekamer na die ander. 31Sy amptenare sê toe vir hom: “Kyk, ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel welwillende konings is. Kom ons bind rouklere om ons heupe en toue om ons koppe en gaan uit na die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe.” 32Hulle het toe rouklere om hulle heupe gebind en toue om hulle koppe, en uitgegaan na die koning van Israel. Hulle het gesê: “U dienaar Ben-Hadad sê, ‘Spaar asseblief my lewe!’ ” Die koning het gevra: “Leef hy dan nog? Hy is my broer!” 33Die manne het dit as 'n goeie teken gesien en hulle gehaas om dit van sy kant bevestig te kry. Hulle het gesê: “Ja, u broer, Ben-Hadad!” Hy sê toe: “Gaan haal hom!” Ben-Hadad het uitgekom na hom, en Agab het hom op sy strydwa laat klim.
34Daarop sê Ben-Hadad vir hom: “Die dorpe wat my vader van jou vader afgeneem het, gee ek terug, en jy kan vir jou markte in Damaskus aanlê, soos my vader dit in Samaria gedoen het.” “En ek,” het Agab gesê, “ek sal jou ná 'n ooreenkoms vrylaat.” Hy het toe 'n ooreenkoms met hom gesluit en hom vrygelaat.
35'n Sekere man van die profetegroep het deur die woord van die Here vir sy vriend gesê: “Slaan my asseblief!” Maar die man het geweier om hom te slaan. 36Hy sê toe vir hom: “Omdat jy nie na die stem van die Here geluister het nie, gaan 'n leeu jou aanval sodra jy van my af weggaan.” Toe hy van hom af weggaan, kry 'n leeu hom en val hom aan. 37Hy kry toe iemand anders en sê vir hom: “Slaan my asseblief!” Dié man het hom so geslaan dat hy hom verwond het.
38Daarop het die profeet die koning op die pad gaan voorstaan. Hy het hom vermom met 'n verband oor sy oë. 39Terwyl die koning verbygaan, roep hy na die koning en sê: “U dienaar het opgetrek in die oorlog. Iemand tree toe skielik uit die gevegslinie, bring 'n man na my en sê, ‘Bewaak hierdie man! As hy enigsins vermis word, sal dit jou lewe vir sy lewe wees, of jy sal 'n kikkar silwer moet betaal.’ 40Maar terwyl u dienaar hier en daar met iets besig was, was hy net nie meer daar nie.” Die koning van Israel sê toe vir hom: “Presies dit is jou vonnis; jy het dit self bepaal.”
41Hy haal toe vinnig die verband van sy oë af, en die koning van Israel herken hom as een van die profete. 42Hy sê toe vir die koning: “So sê die Here, ‘Omdat jy die man op wie my banvloek rus, uit jou hand vrygelaat het, sal dit jou lewe in die plek van sy lewe wees, en jou volk in die plek van sy volk.’ ” 43Daarna het die koning van Israel na sy paleis gegaan, nors en tierend. So het hy in Samaria aangekom.