Agab se dood
1Vir drie jaar was dit rustig. Daar was nie oorlog tussen Aram en Israel nie. 2In die derde jaar het Josafat, die koning van Juda, afgegaan na die koning van Israel. 3Die koning van Israel het vir sy amptenare gesê: “Besef julle dat Ramot in Gilead aan ons behoort, maar ons huiwer om dit uit die hand van die koning van Aram te neem?” 4Hy vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my gaan vir die geveg by Ramot in Gilead?” Josafat het die koning van Israel geantwoord: “Ek is soos jy; my manskappe is soos jou manskappe, my perde is soos jou perde.” 5Josafat sê toe vir die koning van Israel: “Raadpleeg net eers die woord van die Here.”
6Die koning van Israel het toe die profete byeengebring, ongeveer vierhonderd man, en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead optrek vir die geveg, of moet ek daarvan afsien?” Hulle antwoord was: “Trek op! My Heer sal dit in die hand van die koning gee.” 7Toe vra Josafat: “Is hier nie nog 'n profeet van die Here nie, sodat ons deur hom die Here kan raadpleeg?” 8Die koning van Israel het Josafat geantwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg. Maar wat my betref, ek het 'n weersin in hom, want hy profeteer niks goeds oor my nie, net onheil. Dit is Miga, seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so sê nie.” 9Die koning van Israel ontbied toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga, seun van Jimla.”
10Terwyl die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, elkeen op sy troon gesit het, geklee in koninklike drag, op 'n dorsvloer by die ingang van die stadspoort van Samaria, het al die profete voor hulle vurig geprofeteer. 11Sedekia, seun van Kenaäna, het vir hom ysterhorings gemaak en gesê: “So sê die Here, ‘Hiermee gaan u die Arameërs gaffel totdat hulle vernietig is.’ ” 12Al die ander profete was besig om dieselfde te profeteer en het gesê: “As u optrek na Ramot in Gilead, sal u sukses behaal! Die Here sal dit in die hand van die koning gee.”
13Die boodskapper wat gegaan het om Miga te ontbied, het vir hom gesê: “Kyk, die woorde van die profete is, asof uit een mond, gunstig vir die koning. Laat jou woorde asseblief wees soos een van hulle se woorde. Voorspel iets goeds!” 14Maar Miga het geantwoord: “So waar as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek oordra.”
15Toe hy by die koning aankom, sê die koning vir hom: “Miga, moet ons na Ramot in Gilead gaan vir die geveg of moet ons daarvan afsien?” Hy antwoord hom toe: “As u optrek, sal u sukses behaal! Die Here sal dit in die hand van die koning gee.” 16Daarop sê die koning vir hom: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy in die Naam van die Here met my niks anders as die waarheid sal praat nie?”
17Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel gesien, uitmekaar gedryf op die berge soos 'n kudde wat nie 'n herder het nie. Die Here het gesê, ‘Hierdie mense het geen gesagvoerder nie. Laat elkeen van hulle in vrede terugkeer na sy huis.’ ” 18Daarop sê die koning van Israel vir Josafat: “Het ek dit nie vir jou gesê nie? Hy profeteer oor my niks goeds nie, net onheil.”
19Maar Miga het gesê: “Daarom, hoor die woord van die Here! Ek het die Here sien sit op sy troon, met die hele hemelse leër wat by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerkant. 20Toe sê die Here, ‘Wie sal Agab mislei, sodat hy optrek en val by Ramot in Gilead?’ Die een het dit voorgestel en die ander dat. 21'n Gees tree toe na vore, gaan staan voor die Here en sê, ‘Ek is die een wat hom sal mislei.’ Toe vra die Here vir hom, ‘Hoe?’ 22Hy het geantwoord, ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete.’ Daarop sê die Here, ‘Jy sal hom mislei en ook slaag. Gaan maak so!’ 23Daarom, kyk, die Here het 'n leuengees geplaas in die mond van al hierdie profete van u. Die Here self het onheil teen u gelas.”
24Daarop het Sedekia, seun van Kenaäna, na vore gekom; hy het Miga op die wang geslaan en gesê: “Nou waar het die Gees van die Here dan van my af na jou oorgegaan om met jou te praat?” 25Maar Miga het gesê: “Kyk, jy gaan dit ervaar op daardie dag wanneer jy van een binnekamer na die ander gaan om weg te kruip.”
26Toe sê die koning van Israel: “Neem Miga en laat hom teruggaan na Amon, die stadsbestuurder, en Joas, die seun van die koning, 27en sê, ‘So sê die koning: “Sit hierdie man in die gevangenis, en gee hom 'n karige rantsoen brood en water totdat ek ongedeerd terugkom.” ’ ” 28Maar Miga het gesê: “As u wel ongedeerd terugkom, het die Here nie deur my gespreek nie.” Hy sê toe ook nog: “Mense, luister, almal van julle!”
29Daarna het die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, opgetrek na Ramot in Gilead. 30Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan vermom in die geveg in, maar dra jy jou koninklike drag.” So het die koning van Israel hom vermom en in die geveg ingegaan.
31Die koning van Aram het die •aanvoerders van sy strydwamag, twee-en-dertig van hulle, opdrag gegee: “Moet niemand, belangrik of onbelangrik, die stryd aansê nie, behalwe die koning van Israel alleen.” 32Toe die aanvoerders van die strydwamag Josafat sien, sê hulle: “Dit is beslis die koning van Israel!” Hulle het na hom weggedraai om te veg, maar Josafat het om hulp geroep. 33En toe die aanvoerders van die strydwamag sien dat hy nie die koning van Israel is nie, het hulle agter hom omgedraai.
34Iemand het egter lukraak sy boog gespan en die koning van Israel getref tussen die skubbe en die pantser. Hy sê toe vir die drywer van sy strydwa: “Ruk die perde om en neem my uit die geveg, want ek is swaar gewond.” 35Die geveg het egter daardie dag hewig geword, en die koning is staande gehou op sy strydwa teenoor die Arameërs. Teen die aand het hy gesterf. Die bloed van sy wond het in die strydwa se bak uitgeloop. 36Net nadat die son ondergegaan het, het 'n harde uitroep deur die kamp weerklink: “Elkeen na sy stad, elkeen na sy grond!”
37So het die koning gesterf en dood in Samaria aangekom. Hulle het die koning in Samaria begrawe. 38Toe hulle die strydwa afgespoel het by die dam van Samaria, terwyl die prostitute gewas het, het die honde sy bloed opgelek, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy gespreek het.
39Die verdere geskiedenis van Agab, alles wat hy gedoen het, die paleis met ivoorinleg wat hy gebou het en al die stede wat hy versterk het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? 40Agab het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Ahasia het in sy plek koning geword.
Josafat koning van Juda
41Josafat, seun van Asa, het in die vierde regeringsjaar van Agab, koning van Israel, koning geword oor Juda. 42Josafat was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Asuba, dogter van Silgi. 43Hy het die pad van sy vader Asa in alle opsigte gevolg. Hy het nie daarvan afgewyk nie, en gedoen wat reg is in die oë van die Here. 44Die offerhoogtes is egter nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. 45Josafat het 'n vredesooreenkoms gehad met die koning van Israel. 46Die verdere geskiedenis van Josafat, sy magtige dade wat hy verrig het en die oorloë wat hy gevoer het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie?
47Die res van die manlike tempelprostitute, dié wat oorgebly het uit die tyd van sy vader Asa, het hy van die aarde af verdelg. 48Daar was nie 'n koning in Edom nie; 'n landvoog het as koning opgetree. 49Josafat het handelskepe gebou om goud in Ofir te gaan haal, maar dit het nie gebeur nie, want die skepe het by Es-jon-Geber vergaan. 50Toe het Ahasia, seun van Agab, vir Josafat gesê: “Laat my dienaars saam met jou dienaars op die skepe gaan.” Maar Josafat wou nie.
51Josafat het by sy voorouers gaan rus, en hy is begrawe by sy voorouers in die Stad van Dawid, sy voorvader. Sy seun Jehoram het in sy plek koning geword.
Ahasia koning van Israel
52Ahasia, seun van Agab, het in Samaria koning geword oor Israel in die sewentiende regeringsjaar van Josafat, koning van Juda. Hy het twee jaar lank as koning geheers oor Israel. 53Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad gevolg van sy vader en sy moeder en van Jerobeam, seun van Nebat, wat Israel laat sondig het. 54Hy het Baäl gedien en voor hom in aanbidding gebuig. Hy het die Here, die God van Israel, getart, net soos sy vader dit gedoen het.