1Johannes het toe opgekom van Geser af en vir Simon, sy vader, vertel wat Kendebeus gedoen het. 2Simon het sy twee oudste seuns, Judas en Johannes, geroep en vir hulle gesê: “Ek, my broers en die huis van my vader het van jongs af tot vandag toe Israel se oorloë geveg en deur ons toedoen baie kere daarin geslaag om Israel te red. 3Nou is ek al te oud, maar deur die genade is julle nou oud genoeg. Neem my en my broer se plek in. Gaan uit en veg vir ons volk, en mag die Hulp uit die hemel met julle wees.”
4Hy het twintigduisend soldate en perderuiters uit die land gekies en hulle het opgetrek teen Kendebeus en in Modeïn oornag. 5Hulle het vroeg die oggend opgestaan en op die vlakte uitgegaan. En kyk, 'n groot leërmag voetsoldate en perderuiters het hulle tegemoetgekom; daar was egter 'n spruit tussen hulle. 6Hy en sy voetsoldate het teenoor hulle stelling ingeneem. Toe hy sien dat sy voetsoldate bang was om die spruit oor te steek, het hy dit eerste oorgesteek. Toe sy manskappe hom sien, het hulle dit agter hom aan oorgesteek. 7Hy het die voetsoldate verdeel, met die perderuiters in die middel van die voetsoldate, want die teenstanders se perderuiters was geweldig baie. 8Hulle het op die trompette geblaas, en Kendebeus en sy leërafdeling is op die vlug gejaag en baie van hulle is gewond en het gesneuwel. Dié wat oorgebly het, het na die vesting gevlug. 9Judas, Johannes se broer, is toe gewond, maar Johannes het hulle agtervolg totdat hy aangekom het in Kedron, wat deur Kendebeus gebou is. 10Hulle het na die torings in die velde van Asdod gevlug. Hy het Asdod aan die brand gesteek en ongeveer tweeduisend van hulle manskappe het gesneuwel. Hy het in vrede na Juda teruggekeer.
Moord op Simon
11Ptolemeus, seun van Abubus, is as generaal oor die vlakte van Jerigo aangestel. Hy het baie silwer en goud gehad, 12want hy was die skoonseun van die hoëpriester. 13Hy het 'n hoogmoedige hart gehad en wou beheer oor die land verkry. Hy het toe besluit om Simon en sy seuns op verraderlike wyse uit die weg te ruim. 14Simon was besig om die stede in die land te besoek en na hulle behoeftes om te sien. Hy het na Jerigo toe afgegaan – hy en Mattatias en Judas, sy seuns, in die honderd-sewe-en-sewentigste jaar in die elfde maand (dit is die maand Sebat).
15Die seun van Abubus het hulle op verraderlike wyse in die klein vesting met die naam Dok, wat hy gebou het, ontvang. Hy het vir hulle 'n groot fuifparty aangebied en sy manne daar versteek. 16Toe Simon en sy seuns dronk was, het Ptolemeus en sy manskappe opgestaan, hulle wapens gevat en in die banketsaal op Simon afgestorm en hom, sy twee seuns en sommige van sy knegte doodgemaak. 17Hy het 'n daad van groot troueloosheid gepleeg en goed met kwaad vergeld.
Johannes as opvolger
18Ptolemeus het hierdie dinge neergeskryf en aan die koning gestuur sodat hy vir hom leërmagte kon stuur as hulp en hulle land en stede aan Ptolemeus kon oorlewer. 19Hy het ander manne na Geser gestuur om Johannes uit die weg te ruim en briewe aan die bevelvoerders oor duisend gestuur om na hom te kom sodat hy vir hulle silwer, goud en geskenke kon gee. 20Hy het ook ander manskappe gestuur om Jerusalem en die tempelberg in te neem. 21Maar iemand het vooruit gehardloop en in Geser aan Johannes vertel dat sy vader en sy broers gesterf het, en gesê: “Ptolemeus het mense gestuur om jou ook dood te maak.” 22Toe hy dit hoor, was hy erg geskok. Hy het die manskappe wat gekom het om hom dood te maak, gevange geneem en hulle doodgemaak, want hy het geweet dat hulle hom wou doodmaak.
23Die res van Johannes se verhaal – sy oorloë, sy dapper dade wat hy verrig het, die herbou van die mure wat hy onderneem het en sy prestasies – 24kyk, dit is opgeteken in die •boekrol oor die dae van sy hoëpriesterskap, vanaf die tyd toe hy ná sy vader hoëpriester geword het.