Rou van Mattatias en sy seuns
1In daardie dae het Mattatias, seun van Johannes, seun van Simeon, 'n priester van die seuns van Joarib afkomstig uit Jerusalem, op die toneel verskyn en in Modeïn gaan woon. 2Hy het vyf seuns gehad: Johannes, wat genoem word Gaddi; 3Simon, wat genoem word Thassi; 4Judas, wat genoem word Makkabeus; 5Eleasar, wat genoem word Avaran; en Jonatan, wat genoem word Apfus. 6Hy het die godslasterlike dinge gesien wat in Juda en in Jerusalem plaasgevind het 7en gesê:
“Ellendig is ek!
Waarom is ek gebore
om die vernietiging van my volk
en die vernietiging
van die heilige stad te aanskou,
en om daar te woon
terwyl sy in die hand
van vyande oorgegee is,
die heiligdom in die hand
van vreemdelinge?
8Haar •tempel het geword
soos 'n man sonder eer,
9haar glansryke voorwerpe
is as buit weggevoer,
haar babas is in haar strate
doodgemaak,
haar jong mans deur die swaard
van die vyand.
10Watter heidennasie het nie
haar koninklike skatte in besit geneem
en nie oorlogsbuit by haar geneem nie?
11Sy is van elke versiering gestroop;
in plaas van 'n vry vrou
het sy 'n slavin geword.
12En kyk, ons heiligdom
en ons skoonheid en ons eer
is verwoes;
die heidennasies het dit ontheilig!
13Waarom sal ons nog langer leef?”
14Mattatias en sy seuns het hulle klere geskeur. Hulle het rouklere aangetrek en baie getreur.
Mattatias se verset
15In die stad Modeïn het die koning se gesante aangekom wat die inwoners gedwing het om afstand te doen van hulle geloof, sodat hulle kon offer. 16Baie uit Israel het na hulle gekom, en Mattatias en sy seuns het ook daar byeengekom. 17Die koning se gesante het Mattatias geantwoord en gesê: “U is 'n hoë amptenaar, 'n man van hoë aansien, en belangrik in hierdie stad, en word deur seuns en broers ondersteun. 18Gaan nou heel eerste en voer die opdrag van die koning uit, soos al die heidennasies en die mans van Juda en dié wat in Jerusalem agtergebly het, gedoen het. Dan sal u en u seuns as •Vriende van die Koning gereken word; u en u seuns sal vereer word met silwer en goud en baie geskenke.” 19Maar Mattatias het geantwoord en in 'n luide stem gesê: “Al luister al die heidennasies wat in die koning se ryksgebied is, na hom, sodat elkeen die godsdiens van sy vaders verlaat en die koning se gebooie verkies, 20sal ek en my seuns en my broers optree volgens die verbond van ons vaders. 21Mag God dit verhoed dat ons die Wet en die voorskrifte agterweë laat! 22Ons sal nie na die woorde van die koning luister en sodoende regs of links van ons godsdiens afwyk nie.” 23Net nadat hy hierdie woorde klaar gesê het, het 'n Judeër voor almal se oë vorentoe gekom om volgens die opdrag van die koning op die altaar in Modeïn te offer. 24Mattatias het dit gesien; hy was vol ywer en het van verontwaardiging gebewe, en in 'n vlaag van regmatige woede het hy nader gehardloop en die man op die altaar doodgeslaan. 25Hy het terselfdertyd die koningsgesant, wat mense gedwing het om te offer, doodgemaak, en die altaar afgebreek. 26Hy was net so ywerig vir die Wet en het gedoen soos wat Pinehas aan Sambri, seun van Salom, gedoen het. 27Mattatias het met 'n luide stem in die stad uitgeroep: “Elkeen wat vol ywer is vir die Wet en die verbond onderhou – laat hom agter my aan uittrek!” 28Toe het hy en sy seuns die berge in gevlug. Hulle het alles wat hulle gehad het, in die stad agtergelaat.
Geveg op die Sabbat
29Toe het baie wat geregtigheid en reg gesoek het, afgegaan na die woestyn om daar te woon – 30hulle, hulle seuns, hulle vroue en hulle veekuddes, want die booshede het swaar op hulle gerus. 31Dit is aan die koning se manskappe vertel, asook aan die leërmagte in Jerusalem, die Stad van Dawid, dat sekere mans wat die bevel van die koning verwerp het, na skuilplekke in die woestyn gegaan het. 32Baie het hulle agternagesit, en toe hulle hulle ingehaal het, het hulle regoor hulle kamp opgeslaan en hulle gereedgemaak vir oorlog teen hulle op die Sabbatdag. 33Toe het die koning se manskappe vir hulle gesê: “Tot hiertoe en nie verder nie! Kom uit en voer die bevel van die koning uit, en julle sal lewe.” 34Maar hulle het gesê: “Ons sal nie uitkom nie, en ook nie die bevel van die koning uitvoer om sodoende die Sabbatdag te ontheilig nie.” 35Die koning se manskappe het hulle toe sonder aarseling aangeval, 36maar hulle het nie op hulle gereageer nie, nóg 'n klip na hulle gegooi, nóg hulle skuilplekke versper, 37want hulle het gesê: “Laat ons almal sterf in ons onskuld! Die hemel en die aarde getuig oor ons dat julle ons onregverdig vernietig.” 38Hulle het hulle op die Sabbatdag aangeval en hulle, sowel as hulle vroue, kinders en veekuddes, het omgekom, ongeveer 'n duisend siele.
Mattatias en sy vriende se geveg
39Mattatias en sy vriende het dit te wete gekom, en hulle het baie oor hulle getreur. 40Hulle het vir mekaar gesê: “As ons almal maak soos ons broers gemaak het en nie ter wille van ons lewe en ons voorskrifte teen die heidennasies oorlog maak nie, sal hulle ons binnekort van die aarde af verdelg.” 41Hulle het op daardie dag besluit: “Elke mens wat op die Sabbatdag teen ons oorlog voer, laat ons teen hom oorlog voer. Ons sal sekerlik nie almal doodgaan soos ons broers in hulle skuilplekke omgekom het nie.”
42Toe het 'n groep Gasideërs by hulle aangesluit; sterk, magtige manne uit Israel, elkeen wat homself vrywillig aan die Wet onderwerp het. 43Elkeen wat van die booshede weggevlug het, is by hulle gevoeg, en het hulle so versterk. 44Hulle het 'n leërmag op die been gebring wat in hulle woede die sondaars en in hulle toorn die wettelose mans verslaan het. Die res het na die heidennasies gevlug om gered te word. 45Mattatias en sy vriende het ook rondgegaan en altare afgebreek. 46Hulle het die onbesnede seuns wat hulle in die gebied van Israel gevind het, met mening besny. 47Hulle het die hoogmoediges vervolg, en die werk van hulle hande was voorspoedig. 48Hulle het die Wet uit die hande van die heidennasies en uit die hande van konings teruggeneem, en hulle het vir die sondaar geen mag gegee nie.
Dood van Mattatias
49Die tyd wat Mattatias moes sterf, het nader gekom, en hy het aan sy seuns gesê: “Nou het hoogmoed en teregwysing, asook die tyd van omverwerping en rasende woede, gevestig geraak. 50En nou, kinders, beywer julle vir die Wet, en gee julle lewens ter wille van die verbond van ons vaders. 51Onthou die dade van ons vaders wat hulle deur die geslagte verrig het, en mag julle groot eer en 'n ewige naam ontvang!
52“Is Abraham nie in versoeking getrou bevind, en is dit hom nie tot geregtigheid gereken nie?
53Josef het in die tyd van sy verdrukking die gebod gehoorsaam en hy het heerser oor Egipte geword.
54Pinehas, ons vader, het deur sy vurige ywer vir God die verbond van ewige priesterskap ontvang.
55Omdat Josua sy opdrag vervul het, het hy 'n rigter in Israel geword.
56Kaleb het die land as erfdeel ontvang omdat hy in die volksvergadering getuienis gelewer het.
57Dawid het deur sy barmhartigheid die troon van die koninkryk vir altyd geërf.
58Elia is as gevolg van sy vurige ywer vir die Wet in die hemel opgeneem.
59Ananias, Asarias en Misael is uit die vlamme gered omdat hulle geglo het.
60Daniël is deur sy onskuld uit die mond van die leeus gered.
61“Leer en verstaan dan uit geslag ná geslag dat almal wat op Hom hoop, nie swak sal wees nie. 62Moenie bang wees vir die woorde van 'n sondige man nie, want sy heerlikheid verander in mis en wurms. 63Vandag mag hy geëer word, maar môre sal hy nie meer gevind word nie, omdat hy tot sy stof teruggekeer het, en sy gedagtes sal vergaan. 64Kinders, wees manhaftig en staan vas in die Wet, want daardeur sal julle eer verkry. 65Kyk, ek weet dat julle broer Simeon 'n wyse raadsman is. Luister altyd na hom. Hy sal vir julle 'n vader wees. 66Trouens, Judas Makkabeus was van jongs af buitengewoon magtig. Hy sal vir julle 'n bevelvoerder wees en hy sal die geveg veg teen die volke. 67En julle, versamel al dié wat die Wet onderhou by julle en wreek die wraak van julle volk. 68Vergeld die vergelding teenoor die heidennasies en hou vas aan die opdragte van die Wet.”
69Hy het hulle geseën en is by sy vaders neergelê. 70Hy het in die honderd-ses-en-veertigste jaar gesterf en hy is in die graf van sy vaders in Modeïn begrawe, en die hele Israel het met 'n diepe rou oor hom gerou.