Heidene se verset
1Toe die omliggende heidennasies hoor dat die altaar gebou en die heiligdom weer soos voorheen ingewy is, was hulle baie kwaad. 2Hulle het besluit om die nageslag van Jakob wat in hulle midde was, te vernietig, en hulle het begin om van die volk dood te maak en hulle uit te dryf. 3Judas het teen die seuns van Esau in Idumea, by Akrabattene, oorlog gemaak, want hulle het Israel aanhoudend beleër. Hy het hulle 'n groot slag toegedien, hulle verneder en oorlogsbuit geneem. 4Hy het ook die bose optrede onthou van die seuns van Baian, wat vir die volk 'n valstrik en 'n struikelblok was, omdat hulle vir hulle hinderlae op die paaie gestel het. 5Hy het hulle in torings vasgekeer, waarna hy teen hulle laer getrek, 'n vloek oor hulle uitgespreek en toe die stadstorings, met almal wat binne-in was, aan die brand gesteek het. 6Toe het hy oorgegaan na die seuns van Ammon. Daar het hy 'n sterk mag en 'n groot groep mense aangetref, en Timoteus was hulle leier. 7Judas het talle oorloë teen hulle gevoer. Hulle is voor hom verpletter en hy het hulle verslaan. 8Hy het Jaser en sy dogterstede ingeneem en teruggekeer na Juda.
Israel in Gilead en Galilea
9Toe het die heidennasies wat in Gilead was, teen Israel in hulle gebied saamgetrek om hulle te vernietig, maar Israel het na die vesting in Datema gevlug. 10Hulle het briewe na Judas en sy broers gestuur wat lui: “Die heidennasies rondom ons het teen ons saamgetrek om ons te vernietig, 11en hulle maak gereed om te kom en die vesting in te neem waarheen ons gevlug het om te skuil. Timoteus is die aanvoerder van hulle leërmag. 12Kom dan nou, red ons uit hulle hand, want 'n groot menigte van ons het gesneuwel. 13Al ons broers wat in die gebied van Tob was, is doodgemaak, en die vyand het hulle vroue, kinders en besittings buitgemaak; en hulle het daar omtrent eenduisend mans doodgemaak.” 14Hulle was nog besig om die briewe te lees, toe kom daar skielik ander boodskappers uit Galilea wat hulle klere skeur en met die volgende woorde 15sê dat die mense uit Ptolemaïs en Tirus en Sidon en die hele Galilea van die vreemdelinge teen hulle versamel het “om ons uit te wis”. 16Toe Judas en die volk hierdie woorde hoor, is 'n groot volksvergadering byeengeroep om te beraadslaag oor wat hulle vir hulle broers wat in verdrukking is en deur die vyand aangeval word, kon doen. 17Judas het vir sy broer Simon gesê: “Kies vir jou manne, red jou broers wat in Galilea is; ek en my broer Jonatan sal na Gilead gaan.” 18Hy het Josef, die seun van Sagaria, en Asarja, 'n aanvoerder van die volk, saam met die res van die leërmag agtergelaat as beskerming, 19en hulle beveel: “Neem die bevel oor hierdie volk oor, maar moenie teen die heidennasies oorlog maak totdat ons teruggekeer het nie.” 20Aan Simon is drieduisend manskappe toegesê om na Galilea te gaan, en aan Judas agtduisend manskappe om na Gilead te gaan.
Simon se hulp aan Israel in Galilea
21Simon het Galilea binnegetrek en baie oorloë teen die heidennasies gevoer, en die heidennasies is voor hom verpletter. 22Hy het hulle agtervolg tot by die poort van Ptolemaïs. Van die heidennasies het ongeveer drieduisend manskappe gesneuwel, en hy het oorlogsbuit geneem. 23Hy het die mense uit Galilea en in Arbatta saam met hulle vroue en kinders en alles wat hulle gehad het, saamgeneem, en hulle met groot blydskap na Juda gelei.
Judas en Jonatan se hulp aan Israel in Gilead
24Judas Makkabeus en sy broer Jonatan het die Jordaan oorgesteek en 'n drie dae lange reis in die woestyn onderneem. 25Hulle het die Nabateërs teëgekom, wat hulle vreedsaam ontmoet het, en het hulle alles vertel wat met hulle broers in Gilead gebeur het, 26dat baie van hulle in Bosorra, Beser, in Alema, Gasfo, Maked en Karnajin vasgevang is – al hierdie stede was versterk en groot – 27asook dat hulle ook in die res van die stede van Gilead vasgevang is, en dat die vyand hulle manskappe opgestel het om die vestings die volgende dag aan te val en in te neem, om hulle almal binne een dag uit te wis. 28Judas en sy leërafdeling het onmiddellik met die woestynpad langs na Bosorra teruggekeer en die stad ingeneem. Hy het elke manlike persoon met die skerpte van die swaard doodgemaak, al die oorlogsbuit geneem en die stad aan die brand gesteek. 29Hy het in die nag daarvandaan vertrek en tot by die vesting gegaan. 30Toe hulle vroeg die oggend hulle oë uitvee, was daar skielik 'n groot skare, wat nie getel kon word nie, wat lere en oorlogswerktuie dra om die vesting in te neem, besig om teen hulle oorlog te maak. 31Judas het gesien dat die geveg begin het, en 'n geskreeu het uit die stad na die hemel opgestyg, saam met die geskal van trompette en 'n harde geskreeu, 32en hy het vir die manskappe van die leërmag gesê: “Veg vandag vir ons broers!” 33Hy het hulle met drie afdelings van agter bekruip. Hulle het die trompette laat skal en in gebed uitgeroep. 34Timoteus se leërafdeling het besef dat dit Makkabeus was en het voor hom uit gevlug. Judas het hulle 'n groot slag toegedien, en ongeveer agtduisend van hulle manskappe het daardie dag gesneuwel. 35Hy het na Alema afgedraai en daarteen geveg, dit ingeneem en elke manlike persoon daarin doodgemaak. Daarna het hy oorlogsbuit geneem en die stad aan die brand gesteek. 36Daarvandaan het hy vertrek en Gasfo, Maked, Beser en die res van die stede van Gilead ingeneem. 37Ná hierdie gebeurtenisse het Timoteus 'n ander leërafdeling bymekaargemaak en aan die ander kant van die stroom regoor Rafon kamp opgeslaan. 38Judas het mense gestuur om op die kamp te spioeneer, en hulle het aan hom kom rapporteer en gesê: “Al die heidennasies rondom ons, 'n baie groot leërmag, het by Timoteus bymekaargekom. 39Hulle het ook Arabiere gehuur om hulle te help. Hulle het oorkant die stroom kamp opgeslaan, gereed om teen u te kom oorlog maak.” Judas het hulle tegemoetgegaan. 40Toe het Timoteus vir die aanvoerders van sy leërmag gesê, terwyl Judas en sy leërafdeling die waterstroom nader: “As hy eerste na ons toe oorkom, sal ons nie in staat wees om hom teen te staan nie, want hy sal ons heeltemal verslaan. 41Maar as hy bang is en oorkant die rivier kamp opslaan, sal ons na hom toe oorgaan en hom verslaan.” 42Toe Judas die waterstroom nader, het hy die sekretarisse van die volk by die stroom laat staan en hulle beveel: “Moenie enigiemand toelaat om kamp op te slaan nie, want alle manskappe moet gaan veg.” 43Hy het eerste na hulle oorgegaan, met die hele volk agter hom aan, en al die heidennasies is voor hulle verpletter. Hulle het hulle wapens neergegooi en na die tempel van Karnajin gevlug. 44Toe het Judas en diegene saam met hom die stad ingeneem en die heiligdom saam met almal wat daarbinne was, aan die brand gesteek. Só is Karnajin op die vlug gejaag, en hulle was nie meer in staat om Judas teen te staan nie. 45Judas het die hele Israel, hulle wat in Gilead was, van klein tot groot, ook hulle vroue, hulle kinders en hulle besittings, 'n baie groot leërafdeling, bymekaargemaak om na die land van Juda te gaan. 46Hulle het tot by Efron gevorder, wat 'n groot en goed versterkte stad op hulle pad was, en hulle kon nie regs of links daarvan uitdraai nie, maar moes regdeur gaan. 47Maar die mense van die stad het hulle uitgesluit en die poorte met klippe geblokkeer. 48Judas het boodskappers na hulle gestuur met woorde van vrede: “Ons wil deur u land gaan om na ons land terug te keer, maar niemand sal u kwaad aandoen nie; ons sal bloot te voet deurloop.” Maar hulle wou nie vir hom oopmaak nie. 49Judas het toe beveel dat hulle in die leërafdeling aankondig dat elkeen op die plek waar hy was, moet stelling inneem. 50Die manskappe van die leërmag het stelling ingeneem en hy het daardie hele dag en nag teen daardie stad geveg, en die stad is in sy hand oorgegee. 51Hy het elke manlike persoon met die skerpte van die swaard om die lewe gebring. Hy het die stad totaal vernietig, en oorlogsbuit geneem en oor die lyke heen deur die stad getrek. 52Hulle het toe die Jordaan oorgesteek na die Groot Vlakte voor Bet-San. 53Judas het heeltyd die mense wat agterraak, gaan haal en die volk die hele pad bemoedig, totdat hy by die land van Juda gekom het. 54Hulle het met blydskap en vreugde na die berg Sion opgegaan en •brandoffers gebring, want nie een van hulle het gesterf totdat hulle in vrede teruggekeer het nie.
Josef en Asarja se neerlaag
55In die tyd wat Judas en Jonatan in die land van Gilead was, en sy broer Simon in Galilea voor Ptolemaïs, 56het Josef, seun van Sagaria, en Asarja, aanvoerders van die leërmag, gehoor van hulle dapper optrede en die oorlog wat hulle gevoer het, 57en hulle het gesê: “Laat ons ook vir onsself naam maak. Kom ons gaan maak oorlog teen die heidennasies rondom ons.” 58Josef en Asarja het die mense uit die leërmag wat saam met hulle was, opdrag gegee en hulle het teen Jamnia opgeruk. 59Gorgias en sy manskappe het uit die stad uitgegaan om teen hulle te veg. 60Josef en Asarja is op die vlug gejaag. Hulle is agternagesit tot by die grense van Juda en op daardie dag het tot tweeduisend mense van die volk van Israel gesneuwel. 61Die volk het 'n groot neerlaag gely, omdat hulle nie na Judas en sy broers geluister het nie, maar 'n dapper daad wou verrig. 62Hulle was egter nie uit die geslag van daardie manskappe aan wie dit gegee is dat die verlossing van Israel deur hulle hand sou kom nie.
63Die man Judas en sy broers is baie vereer voor die hele Israel en deur al die heidennasies, oral waar hulle naam gehoor is. 64Mense het by hulle saamgekom om hulle te prys.
Veldtogte teen Edom en die Filistyne
65Judas en sy broers het uitgetrek en teen die seuns van Esau in die land in die suide oorlog gemaak. Hy het Hebron en sy dogterstede verslaan, sy vestings afgebreek en die torings rondom die stad aan die brand gesteek. 66Toe het hy wegmarsjeer om na die land van die vreemdelinge te gaan, en deur Maresa getrek. 67Op daardie dag het priesters wat dapper wou wees, in die oorlog gesterf, omdat hulle ondeurdag die geveg ingegaan het. 68Judas het na Asdod in die land van die vreemdelinge afgedraai. Hy het hulle altare afgebreek, die gesnede beelde van hulle gode verbrand en oorlogsbuit van die stede geneem. Toe het hy teruggekeer na die land van Juda.