Dood van Antiogus Epifanes
1Dit was ongeveer in daardie tyd dat Antiogus in wanorde uit die streke van Persië teruggetrek het. 2Hy het immers die stad wat Persepolis genoem is, binnegeval en probeer om tempels te beroof en om beheer van die stad oor te neem. Daarom het die volk met 'n stormloop begin en hulle as 'n uitweg tot wapens gewend, met die gevolg dat Antiogus deur die inwoners verjaag is en in skande teruggeval het. 3Terwyl hy in Ekbatana was, is aan hom berig wat met Nikanor, en met Timoteus en diegene saam met hom, gebeur het. 4Buite homself van woede, het hy hom voorgeneem om ook die onheil wat hom aangedoen is deur dié wat hom op die vlug gejaag het, op die Judeërs te wreek. Daarom het hy die drywer van sy strydwa beveel om onverpoos te ry tot sy reis voltooi was, maar die oordeel van die Hemel was reeds op hom. Want in sy arrogansie het hy gesê: “Ek sal van Jerusalem 'n begraafplaas van Judeërs maak wanneer ek daar aankom.” 5Maar die alsiende Here, die God van Israel, het hom getref met 'n ongeneeslike en onsigbare plaag; want die oomblik toe hy klaar gepraat het, het 'n intense pyn in sy ingewande en akute inwendige foltering hom oorval – 6heeltemal gepas vir hom wat ander se ingewande met soveel ongehoorde pyniginge gefolter het. 7Nog steeds het hy geensins van sy verwaandheid afgesien nie, maar is hy net met nog meer arrogansie vervul, en in sy woede het hy vuur teen die Judeërs gespoeg. Toe het hy beveel dat hulle nog vinniger moes jaag, en met die gevolg dat hy uit sy voortsnellende strydwa geval het. Sy val was só ernstig dat hy elke ledemaat van sy liggaam ernstig beseer het. 8Hy, wat oomblikke tevore nog in bomenslike arrogansie die indruk gewek het dat hy die golwe van die see kon beveel en gedink het dat hy die hoë berge met 'n skaal kon weeg, het op die grond beland en is met 'n draagbaar weggedra, en het so 'n duidelike toonbeeld geword van God se mag. 9En toe het wurms uit die goddelose man se liggaam begin peul, met die gevolg dat, terwyl hy nog in pyn en lyding geleef het, sy vleis afgevrot het en sy hele leërmag deur die stank van sy ontbinding geteister is. 10As gevolg van die ondraaglike stank kon niemand hom, wat kort tevore gedink het dat hy aan die sterre van die hemel kan raak, dra nie. 11Dit was toe dat hy, gebroke, begin het om sy uiterste arrogansie te laat vaar en tot sy sinne te kom onder die geseling van God, omdat hy weens die pyn elke oomblik meer intens gely het. 12En toe hy nie meer sy eie stank kon verduur nie, het hy dít gesê: “Dit is reg om onderworpe te wees aan God en geen sterfling moet dink dat hy gelyk aan God is nie.” 13Alhoewel die Here Hom nie meer oor die afskuwelike man sou ontferm nie, het hy 'n eed teenoor die Here afgelê, en die volgende gesê – 14dat hy die heilige stad, waarheen hy hom gehaas het om dit met die grond gelyk te maak en 'n begraafplaas daarvan te maak, vry verklaar; 15dat hy al die Judeërs, wat hy gedink het nie 'n begrafnis waardig is nie, maar wat hy saam met hulle kinders as kos vir voëls en wilde diere wou uitgooi, gelyk verklaar met die burgers van Athene; 16dat hy die heilige •tempel, wat hy vroeër geplunder het, met die mooiste geskenke sal versier; dat hy al die heilige voorwerpe in veelvoud sal teruggee en die vaste koste vir die offers uit sy eie inkomste sal betaal; 17en dat hy boonop 'n Judeër sal word en na elke bewoonde plek sal gaan en die mag van God sal verkondig. 18Toe die pyne glad nie wou ophou nie, omdat die regverdige oordeel van God oor hom gekom het en hy gewanhoop het oor sy omstandighede, het hy die volgende brief, in die vorm van 'n smeekskrif, aan die Judeërs geskryf. Dit lui so:
19“Antiogus, julle koning en generaal,
stuur hartlike groete en wense vir gesondheid en voorspoed
aan die eerbare Joodse burgers.
20“My hoop is op die Hemel gerig dat dit met julle en julle kinders mag goed gaan, en dat julle sake na wense mag verloop, 21en ek dink met liefde aan julle respek en goedgesindheid. Op my terugreis uit die streke van Persië het 'n siekte my oorval wat vir my probleme besorg, en ek het dit nodig geag om aandag te gee aan die algemene veiligheid van almal. 22Ek is nie wanhopig oor my toestand nie, maar baie hoopvol dat ek van die siekte sal herstel. 23Maar ek het gesien dat ook my vader, wanneer hy veldtogte na die noordoostelike streke onderneem, 'n opvolger aangewys het, 24sodat, indien iets onverwags gebeur of onwelkome nuus kom, die mense in die land nie onrustig sou wees nie, omdat hulle sou weet aan wie die regering oorgelaat is. 25Verder is ek bewus daarvan dat die leiers van die aangrensende lande en die bure van ons koninkryk op die uitkyk is vir geleenthede en wag om te sien wat gaan gebeur. Daarom het ek my seun Antiogus as koning aangewys. Ek het hom dikwels, wanneer ek haastig na die noordoostelike satrapieë vertrek, aan die meeste van julle toevertrou en by julle aanbeveel. Ek het hom ook per brief laat weet wat hier geskryf staan. 26Ek versoek julle dus dringend en smeek julle om my openbare en persoonlike weldade te onthou, en dat elkeen die huidige goeie gesindheid teenoor my en my seun sal behou. 27Want ek is oortuig dat hy my beleid sal volg en julle verdraagsaam en menswaardig sal behandel.”
28Toe het die mensemoordenaar en godslasteraar in 'n vreemde land tussen die berge die allerellendigste dood gesterf, nadat hy die verskriklikste lyding ondergaan het, soos hy ook vir ander veroorsaak het. 29Filippus, die persoon wat saam met hom grootgeword het, het sy liggaam huis toe geneem, maar omdat hy bang was vir Antiogus se seun, het hy verder uitgewyk na Ptolemeus Filometor in Egipte.