Ester (Grieks) 5
Besoek van Ester aan Artaxerxes
1 Op die derde dag, toe sy ophou bid het, het sy haar gebedsklere uitgetrek en haar koninklike klere aangetrek. 21a Sy was stralend, en nadat sy die alsiende God en Redder aangeroep het, het sy twee diensmeisies saam met haar geneem. Op die een het sy liggies geleun, en die ander een het gevolg en haar sleep gedra. 31b Sy was blosend, op die toppunt van haar skoonheid, en sy was vriendelik soos een wat opgewek is, maar haar hart het saamgetrek van vrees. 41c Sy het deur al die deure gegaan en voor die koning gaan staan. Hy het op sy koninklike troon gesit en hy het sy volle glansryke ampsgewaad aangehad. Hy was oordek met goud en edelstene, en het vreesaanjaend voorgekom. 51d Hy het opgekyk, gloeiend van mag, en haar met intense woede aangekyk. Die koningin het gestruikel en het van duiseligheid van kleur verander en ineengesak teen die kop van die diensmeisie wat voor haar geloop het. 61e Maar God het die gemoed van die koning na sagtheid verander, en hy het bekommerd van sy troon opgespring en haar in sy arms geneem, totdat sy kalm was. Hy het haar met vriendelike woorde getroos en vir haar gesê: 71f “Wat is dit, Ester? Ek is jou broer, skep moed! Jy sal beslis nie sterf nie, want ons wet geld net vir die gewone mense. Kom nader!” 2 Hy lig toe die goue septer en lê dit op haar nek, omhels haar en sê: “Praat met my.” 92a Toe sê sy vir hom: “Heer, u het vir my gelyk soos 'n engel van God, en my hart was ontsteld van vrees vir u majesteit. Want u is wonderlik, heer, en u gesig is vol genade.” 102b Terwyl sy besig was om te praat, het sy van duiseligheid inmekaargesak, en die koning was ontsteld, en al die dienaars van die koning het haar probeer bemoedig. 3 Die koning sê toe: “Wat wil jy hê, Ester? Wat is jou versoek? Al is dit selfs die helfte van my koninkryk, dit sal joune wees.” 4 Toe sê Ester: “Dit is vandag vir my 'n besondere dag. As die koning dink dit is goed, laat hy en Haman na die feesmaal kom wat ek vandag gaan voorberei.” 5 En die koning het gesê: “Laat gou vir Haman haal sodat ons kan doen wat Ester gevra het.” Beide het na die onthaal gekom waarvan Ester gepraat het.
Ester se feesmaal en die Judeërs se oorwinning
6 Tydens die feesmaal het die koning vir Ester gesê: “Wat is dit, koningin Ester? Alles wat jy vra, sal joune wees.” 7 En sy het gesê: “My vraag en my versoek is, 8 as ek guns by die koning gevind het, laat die koning en Haman môre na my feesmaal kom wat ek vir hulle sal voorberei, en môre sal ek dieselfde as vandag doen.” 9 Haman het toe baie bly en jubelend van die koning af weggegaan, maar toe Haman vir Mordegai die Judeër in die voorhof sien, was hy baie kwaad.
Haman se plan
10 Toe hy tuiskom, het hy sy vriende en sy vrou Susara geroep 11 en vir hulle vertel van sy rykdom en die eer wat die koning aan hom bewys het, dat hy hom in die belangrikste posisie in die koninkryk aangestel het om dit te bestuur. 12 Haman het gesê: “Die koningin het vir die feesmaal niemand anders genooi as vir my en die koning nie. Ook vir môre se fees is ek genooi. 13 Maar solank ek Mordegai die Judeër in die voorhof bly sien, maak niks van hierdie dinge my gelukkig nie.” 14 Toe het sy vrou Susara en die vriende vir hom gesê: “Laat daar vir jou 'n houtpaal van vyftig el gesny word, praat môreoggend vroeg met die koning en laat Mordegai aan die houtpaal gehang word. En gaan jy saam met die koning na die feesmaal en gaan geniet dit.” Haman het gehou van wat hulle sê, en die houtpaal is gereedgemaak.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.