Jetro se besoek
1Jetro, priester van Midian, en die skoonvader van Moses, het alles gehoor wat God vir Moses en vir sy volk Israel gedoen het – hoe die Here Israel uit Egipte uitgelei het. 2Jetro, die skoonvader van Moses, het toe vir Sippora, die vrou van Moses, vir wie Moses vroeër huis toe gestuur het, saamgeneem, 3ook haar twee seuns.
Die naam van die een was Gersom, “want,” het Moses gesê, “ek was 'n •vreemdeling in 'n vreemde land”; 4en die naam van die ander een was Eliëser, “want,” het hy gesê, “die God van my vader is my hulp. Hy het my van die swaard van die farao gered.”
5Jetro, die skoonvader van Moses, het met die seuns en Moses se vrou in die woestyn na Moses gegaan waar hy by die berg van God kamp opgeslaan het. 6Hy het vir Moses laat weet: “Ek, jou skoonpa, Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar.”
7Moses het uitgegaan om sy skoonvader te ontmoet. Hy het diep gebuig en hom gesoen. Hulle het na mekaar se welstand gevra, en die tent binnegegaan. 8Moses het sy skoonvader alles vertel wat die Here aan die farao en aan die Egiptenare gedoen het ter wille van Israel, en van al die moeilikhede wat hulle op pad ondervind het, en hoe die Here hulle uitgered het. 9Jetro was verheug oor al die goeie dinge wat die Here aan Israel gedoen het, dat Hy hulle uit die hand van die Egiptenare gered het. 10Jetro het gesê: “Die Here moet geprys word, Hy wat julle gered het uit die hand van die Egiptenare en van die farao, en wat die volk onder die hand van die Egiptenare uit gered het. 11Nou weet ek dat die Here groter is as al die gode, dat dit in hierdie saak daaroor gaan dat die Egiptenare brutaal opgetree het teen die Israeliete.” 12Jetro, Moses se skoonvader, het toe 'n •brandoffer en slagoffers geneem om voor God te bring. Aäron en al die oudstes van Israel het gekom om in die teenwoordigheid van God 'n maaltyd te eet saam met Moses se skoonvader.
13Die volgende dag het Moses gaan sit om as regter op te tree vir die mense. Die mense het van die oggend af tot die aand toe om Moses gestaan. 14Toe Moses se skoonvader sien wat hy alles vir die mense doen, het hy gevra: “Wat is dit wat jy vir die mense doen? Waarom sit jy alleen, terwyl al die mense van die oggend tot die aand toe om jou bly staan?” 15Moses het sy skoonvader geantwoord: “Omdat die mense na my toe kom om God te raadpleeg. 16Wanneer hulle 'n geskil het, kom dit voor my; dan beslis ek tussen die persoon en sy naaste, en maak God se vaste voorskrifte en wette bekend.”
17Moses se skoonvader sê toe vir hom: “Dit is nie goed dat jy die saak so hanteer nie. 18Jy gaan jouself heeltemal uitput – jy sowel as hierdie mense wat by jou is. Want dit is te veeleisend vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. 19Luister nou na my! Ek sal vir jou raad gee, en mag God met jou wees! Tree jy vir die volk in by God, en bring jy die sake voor God. 20Waarsku hulle oor die vaste voorskrifte en wette, en lig hulle in oor die pad wat hulle moet volg en die werk wat hulle moet doen. 21Maar wees jy op die uitkyk na bekwame manne onder die hele volk, betroubare manne wat ontsag het vir God, wat 'n weersin het in oneerlike wins. Stel hulle oor die volk aan as •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 22Hulle moet te alle tye die volk se regsake behartig. Elke groot saak moet hulle na jou bring, maar oor elke klein saak moet hulle self beslis. Maak dit ligter vir jouself, en laat hulle saam met jou die las dra. 23As jy dít doen, en as God jou so beveel, sal jy staande kan bly, en al hierdie mense sal ook tevrede na hulle blyplekke kan gaan.”
24Moses het na sy skoonvader geluister en alles gedoen wat hy gesê het. 25Moses het onder die hele Israel bekwame manne uitgesoek, en hulle as hoofde oor die volk aangestel, as aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 26Hulle het te alle tye die volk se regsake behartig. Die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar oor al die maklike sake het hulle self beslis. 27Moses het sy skoonvader weggesien, en hy het na sy eie land gegaan.