Kain en Abel
1Die mens het met Eva, sy vrou, gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Kain geboorte gegee. Sy het gesê: “Ek het van die Here 'n man verkry.” 2Sy het weer geboorte gegee – aan sy broer, aan Abel. Abel was 'n herder van kleinvee, en Kain 'n landbouer.
3Ná verloop van tyd het Kain van die vrug van die grond 'n offer vir die Here gebring. 4En Abel, ook hy het 'n offer gebring uit die eersgeborenes van sy kleinvee, van hulle vet. Die Here het Abel en sy offer met guns beskou. 5Maar Kain en sy offer het Hy nie met guns beskou nie. Dit het Kain baie kwaad gemaak en hy was terneergedruk. 6Die Here vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? 7Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.”
8Kain sê toe vir Abel, sy broer: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain teen Abel, sy broer, opgestaan en hom doodgemaak.
9Die Here het vir Kain gevra: “Waar is Abel, jou broer?” Hy het geantwoord: “Ek weet nie; is ek dan my broer se oppasser?” 10Die Here het gesê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer bly roep na My vanuit die grond. 11Daarom, vervloek is jy, verban van die grond af – die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. 12As jy die grond bewerk, sal dit nie langer sy opbrengs vir jou gee nie. 'n Doellose swerwer sal jy op die aarde wees.”
13Kain het vir die Here gesê: “My straf is te swaar om te dra. 14Kyk, U verdryf my vandag van die grond af, en vir U sal ek moet wegkruip. Ek sal 'n doellose swerwer word op die aarde, en elkeen wat my teëkom, sal my doodmaak.” 15Maar die Here het hom geantwoord: “Goed dan, enige een wat Kain doodmaak – dit sal sewe maal gewreek word.” Die Here het toe op Kain 'n merkteken gesit, sodat niemand wat hom teëkom, hom sou doodslaan nie.
16Kain het toe uit die Here se teenwoordigheid weggegaan en in die land Nod gaan woon, oos van Eden.
17Kain het met sy vrou gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Henog geboorte gegee. Kain was toe besig om 'n stad te bou, en hy het die stad na sy seun Henog vernoem. 18Vir Henog is Irad gebore; Irad het Megujael verwek, Megujael het Metusael verwek, en Metusael het Lameg verwek. 19Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die een se naam was Ada, en die tweede se naam was Silla. 20Ada het aan Jabal geboorte gegee. Hy was die voorvader van hulle wat in tente woon by hulle vee. 21Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die voorvader van almal wat op liere en fluite speel. 22En Silla, ook sy het geboorte gegee – aan Tubal-Kain, 'n smid en die voorvader van almal wat brons en yster bewerk. Tubal-Kain se suster was Naäma.
23Lameg het vir sy vroue gesê:
“Ada en Silla, luister na my stem!
Vroue van Lameg, hoor wat ek sê,
want vir 'n wond aan my
maak ek 'n man dood,
'n jong man vir 'n kneusplek aan my!
24Ja, sewe maal word Kain gewreek,
maar Lameg sewe-en-sewentig maal.”
25Adam het weer gemeenskap gehad met sy vrou, en sy het aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Set genoem, “want,” het sy gesê, “vir my het God 'n ander nasaat voorsien in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgemaak het.” 26En vir Set, ook vir hom is 'n seun gebore. Hy het hom Enos genoem. In daardie tyd het hulle begin om die Naam van die Here aan te roep.