1Simson het afgegaan na Timna. In Timna het hy 'n vrou onder die Filistynse meisies raakgesien. 2Hy gaan toe op, en vertel dit vir sy vader en moeder. Hy het gesê: “Ek het 'n vrou onder die Filistynse meisies in Timna raakgesien. Kry haar dan nou vir my as vrou.” 3Sy vader en moeder sê toe vir hom: “Is daar onder die meisies van jou volksgenote, ja, onder my hele volk dan nie 'n vrou nie, dat jy moet gaan om 'n vrou te kry onder die onbesnede Filistyne?” Maar Simson het vir sy vader gesê: “Kry háár vir my, want in my oë is sy die regte een.”
4Sy vader en moeder het egter nie geweet dat dit van die Here kom nie, want Hy wou 'n geleentheid teen die Filistyne vind. In dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers. 5Simson, sy vader en moeder het toe afgegaan na Timna. Toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar skielik 'n jong leeu al brullend op hom af. 6Maar die Gees van die Here het van hom besit geneem, en hy het die leeu uitmekaar geskeur soos 'n mens 'n bokkie uitmekaar sou skeur. Daar was niks in sy hand nie. Hy het egter nie vir sy vader en moeder vertel wat hy gedoen het nie. 7Hy het toe afgegaan en met die vrou gepraat, en sy was die regte een in Simson se oë.
8Toe hy 'n ruk later teruggaan om met haar te trou, het hy afgedraai om na die oorskot van die leeu te kyk. En sowaar, daar was 'n swerm bye in die karkas van die leeu, en heuning. 9Hy het dit uitgekrap in sy hande en daarvan geloop en eet. Hy het na sy vader en moeder gegaan, vir hulle daarvan gegee en hulle het ook geëet. Maar hy het nie vir hulle vertel dat hy die heuning uit die karkas van die leeu gekrap het nie.
10Sy vader het na die vrou toe afgegaan. Simson het daar 'n •bruilofsfees gehou, want dit is wat die jong manne gedoen het. 11Toe die Filistyne hom sien, het hulle dertig van hulle vertrouelinge aangewys om by hom te bly. 12Simson sê toe vir hulle: “Ek wil julle graag 'n raaisel vra. As julle dit vir my binne die sewe dae van die bruilofsfees volledig kan verklaar, ja, dit kan oplos, sal ek vir julle dertig stelle onderklere en dertig stelle feesklere gee. 13Maar as julle dit nie vir my kan verklaar nie, moet julle vir my dertig stukke onderklere en dertig stelle feesklere gee.” Hulle sê toe vir hom: “Vra jou raaisel, sodat ons dit kan hoor.” 14Hy sê vir hulle:
“Uit die eter het iets te ete gekom;
uit 'n sterke het iets soets gekom.”
Drie dae lank kon hulle die raaisel nie verklaar nie. 15Op die sewende dag sê hulle vir Simson se vrou: “Praat jou man om, sodat hy die raaisel vir ons verklaar, anders verbrand ons jou en jou familie. Is dit om ons besittings af te neem dat julle ons genooi het, of nie?”
16Simson se vrou het toe by hom gekerm en gesê: “Jy haat my net; jy het my nie lief nie. Jy het vir die jong manne van my mense 'n raaisel gevra, maar vir my het jy dit nie verklaar nie.” Hy sê toe vir haar: “Kyk, vir my pa en ma het ek dit nie eers verklaar nie; moet ek dit dan vir jou verklaar?” 17Maar sy het die sewe dae wat hulle bruilofsfees geduur het, by hom bly kerm. Op die sewende dag het hy dit vir haar verklaar, omdat sy so by hom geneul het. Sy het toe die raaisel vir die jong manne van haar mense verklaar.
18Die manne van die stad het op die sewende dag, net voor sononder, vir Simson gesê:
“Wat is soeter as heuning
en wat is sterker as 'n leeu?”
Hy sê toe vir hulle: “As julle nie met my vers geploeg het nie, sou julle nie my raaisel kon oplos nie.”
19Die Gees van die Here het van hom besit geneem en hy het afgegaan na Askelon. Hy het dertig man van hulle doodgeslaan, hulle uitrustings geneem en die klere vir dié wat die raaisel verklaar het, gegee. Hy was woedend en het opgegaan na sy vader se huis. 20Simson se vrou het toe die vrou geword van sy vertroueling wat vir hom opgetree het as vriend van die bruidegom.