Judit 10
1Nadat sy opgehou het om tot die God van Israel te roep, en al hierdie woorde afgesluit het, 2het Judit opgestaan van waar sy gelê het. Sy het haar diensmeisie geroep en afgegaan in haar huis in waar sy haar sabbatstye en feestye deurgebring het. 3Sy het die roukleed wat sy aangehad het, verwyder, haar weduweeklere afgestroop, haar liggaam gewas met water en ingevryf met mirreroom. Sy het haar hare gekam en 'n haarband opgesit. Sy het die feesklere aangetrek wat sy gedra het in die tyd toe haar man, Manasse, nog geleef het. 4Sy het sandale vir haar voete gekies, en enkelkettinkies, armbande, ringe, oorringe en al haar ander juwele aangesit. Sy het haar baie mooi gemaak om die oë te bekoor van mans wat haar moontlik sou sien. 5Sy het vir haar diensmeisie 'n leersak met wyn en 'n kruik olie gegee en sy het 'n reissak volgemaak met gort, gedroogde vrugte en brode van fyn gemaalde meel en sy het al haar houers volgemaak en op haar diensmeisie gesit. 6Toe het hulle uitgegaan na die stadspoort van Betulua en vir Ussia en die Oudstes van die stad, Gabris en Garmis, aangetref wat by die poort staan. 7Toe hulle haar sien, hoe haar voorkoms verander het en dat sy 'n ander lang stola dra, is hulle getref deur haar skoonheid en sê hulle vir haar: 8“Mag die God van ons vaders aan jou guns betoon en jou planne suksesvol maak sodat Israel roem kan verwerf en Jerusalem vereer kan word.”
Uitvoering van Judit se plan
9Sy het neergebuig voor God, en toe vir hulle gesê: “Gee opdrag dat die poort van die stad vir my oopgemaak word, en ek sal uitgaan om die dinge af te handel wat julle met my bespreek het.” Hulle het die jong manne aangesê om vir haar oop te maak soos sy gevra het, 10en hulle het so gemaak. Judit het uitgegaan, sy en haar diensmeisie saam met haar. Die mans van die stad het na haar bly kyk totdat sy teen die berg af was, deur die vallei gegaan het en hulle haar nie meer kon sien nie. 11Terwyl hulle sonder om af te draai deur die vallei gegaan het, het 'n groep verkenners van die Assiriërs haar raakgeloop. 12Hulle het haar gevange geneem en ondervra: “Wie is jou mense, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” Sy het geantwoord: “Ek is 'n dogter van die Hebreërs, maar ek vlug van hulle af weg, want hulle is op die punt om aan julle oorgelewer en verslind te word. 13Ek is op pad na Holofernes, die opperbevelvoerder van julle leërmag, om die waarheid aan hom mee te deel en vir hom 'n pad te wys waarlangs hy kan gaan om die hele bergland oor te neem, sonder dat 'n enkele manskap of ander lewende wese verlore gaan.” 14Toe die manne haar woorde hoor en na haar gesig staar – sy was in hulle oë absoluut beeldskoon – het hulle vir haar gesê: 15“Jy het jou lewe gered deur haastig na ons leier te kom. Gaan nou na sy tent toe; sommige van ons sal jou begelei tot hulle jou in sy hande oorlewer. 16Wanneer jy voor hom staan, hoef jou hart nie te sidder nie; herhaal wat jy hier gesê het, en hy sal jou goed behandel.” 17Hulle het honderd man uit hulle geledere gekies en aan haar en haar diensmeisie toegewys, en dié het hulle begelei tot by die tent van Holofernes. 18Die hele kamp was in beroering, want die berig van haar aankoms het van tent tot tent versprei. Die manskappe het gekom en, waar sy buite Holofernes se tent gestaan het, om haar saamgedrom terwyl van hulle hom van haar vertel. 19Hulle was verstom oor haar skoonheid en oor haar het hulle die Israeliete bewonder. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie kan hierdie volk verag as hulle sulke vroue in hulle midde het? Want dit is nie goed dat een van hulle mans gespaar word nie; dié wat oorbly, sal die ganse wêreld kan uitoorlê.” 20Toe het Holofernes se wagte en al sy ampsdraers uitgekom en haar die tent binnegelei. 21Holofernes was besig om te rus op sy kampbed, onder 'n muskietnet wat deurweef was met purperstof en goud en smaragde en edelstene. 22Toe hulle hom van haar sê, het hy uitgekom na die voortent, en silwerlampe is voor hom uitgedra. 23Toe Judit voor hom en sy ampsdraers verskyn, was hulle almal verbaas oor haar skoonheid. Sy het op haar gesig neergeval en eerbied aan hom betoon, maar sy diensknegte het haar opgehelp.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.