Judit 15
1Toe die manskappe in die tente dit hoor, was hulle verbysterd oor wat gebeur het. 2Vrees en bewing het hulle oorval; die een het nie vir die ander gewag nie, maar soos een man het hulle uitgestorm en gevlug – met elke pad langs oor die vlakte en deur die bergstreek. 3Dié wat kamp opgeslaan het in die heuwels rondom Betulua het ook op die vlug geslaan. Toe het die Israeliete, elke enkele krygsman onder hulle, op hulle afgestorm. 4Ussia het mense gestuur na Bet-Mastajim, Bebai, Goba en Kola en na elke streek in Israel om te berig oor wat gebeur het, sodat almal moes toesak op die vyand om hulle uit te wis. 5Toe die Israeliete dit hoor, het hulle hulle soos een man oorval en vernietig – tot by Goba. Net so het ook diegene uit Jerusalem en die hele bergland by hulle aangesluit, want aan hulle is vertel wat in die kamp van hulle vyande gebeur het. Die mense in Gilead en dié in Galilea het hulle van die flanke af 'n groot slagting toegedien, en deurgedring tot selfs anderkant die grense van Damaskus. 6Die res van Betulua se inwoners het die Assiriese kamp oorval en geplunder, en baie ryk geword daaruit. 7Toe die Israeliete terugkom van die slagting, het hulle beheer geneem van wat oorgebly het. Selfs die dorpies en nedersettings in die bergland en op die vlaktes het baie buit verower, want daar was 'n geweldige oorvloed. 8Die hoëpriester Jojakim en die Raad van die Israeliete wat in Jerusalem gewoon het, het gekom om die goeie dinge te sien wat die Here vir Israel gedoen het, en om Judit te sien en haar vrede toe te wens. 9Toe hulle ingaan na haar, het hulle haar almal saam geprys en vir haar gesê: “Jy is die groot trots van Jerusalem; jy is die groot roem van ons geslag. 10Jy het dit alles met jou eie hand gedoen; jy het goeie dinge vir Israel gedoen en God is tevrede daarmee. Mag jy vir altyd geseën word deur die almagtige Here!” Die hele volk het gesê: “Mag dit so wees!” 11Die hele volk het die kamp dertig dae lank geplunder. Hulle het vir Judit die tent van Holofernes gegee en al sy silwerware, sy beddens, sy bakke en al sy meubels. Sy het dit gevat en op haar muil gelaai en haar waens ingespan en die goed daarop gestapel. 12En hulle het bymekaargekom om haar te sien, elke vrou in Israel, en haar geprys, en van hulle het vir haar gedans. Sy het seremoniële stawwe in haar hande geneem en dit uitgedeel aan die vroue wat by haar was, 13en sy en dié wat saam met haar was, het hulleself met olyfkranse gekroon. Sy het die hele volk voorgegaan in die dans; sy het al die vroue gelei, en elke man in Israel het gevolg, gewapen en met kranse, terwyl hulle lofliedere sing. 14Toe het Judit hierdie danklied voor die ganse Israel aangehef, en die hele volk het haar die lied nagesing.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.