Jona 3
Waarskuwing van Jona aan Nineve
1Die woord van die Here het die tweede keer tot Jona gekom: 2“Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig aan die stad die boodskap wat Ek aan jou opdra.”
3Jona het toe opgestaan en na Nineve gegaan soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n uitsonderlike groot stad: drie dae se loop van kant tot kant.
4Jona het begin om die stad binne te gaan, 'n dag se loop ver. Hy het uitgeroep: “Nog net veertig dae, dan word Nineve verwoes!”
5Die mense van Nineve het toe in God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en hulle het almal, belangrik en onbelangrik, rouklere aangetrek.
6Toe die berig die koning van Nineve bereik, het hy van sy troon af opgestaan, sy koningsmantel afgegooi, 'n roukleed omgehang en in die stof gaan sit.
7Hy het in Nineve laat afkondig: “Op las van die koning en sy belangrike amptenare: Niemand mag aan enigiets proe nie – nie mens of dier, beeste of kleinvee nie. Hulle mag nie eet of water drink nie. 8Mens en dier moet met 'n roukleed bedek wees. Die mense moet God ernstig aanroep en elkeen moet hom bekeer van sy slegte gedrag en van die geweld wat aan sy hande kleef. 9Wie weet, dalk draai God terug en het Hy berou; dalk draai Hy om, weg van sy brandende toorn, sodat ons nie vergaan nie.”
10God het gesien wat hulle doen, dat hulle teruggedraai het van hulle verkeerde pad. God was jammer dat Hy gesê het Hy gaan 'n ramp oor hulle bring, en Hy het dit toe nie uitgevoer nie.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.