Vernietiging van Ai
1Die Here het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie. Neem al die weerbare manskappe saam met jou; maak gereed en trek op na Ai. Kyk, Ek gee die koning van Ai en sy mense, sy stad en sy gebied, in jou hand. 2Jy moet met Ai en sy koning maak soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Net die buit en die vee mag julle vir julleself hou. Stel 'n hinderlaag op vir die stad aan die agterkant.”
3Josua en al die weerbare manskappe het toe gereedgemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig afdelings manne, dapper krygers, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur. 4Hy het hulle beveel: “Kyk, julle moet vir die stad 'n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad. Julle moet dit nie te ver van die stad af doen nie, en julle moet almal slaggereed wees. 5Ek en al die manskappe wat by my is, sal die stad nader, en wanneer hulle uitkom om soos die vorige keer teen ons te staan te kom, sal ons voor hulle uit vlug. 6Hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad af weggelok het, want hulle sal dink, hulle vlug voor ons uit, soos die vorige keer. Terwyl ons dan voor hulle uit vlug, 7moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad beset. Die Here julle God gee dit in julle hand. 8Wanneer die stad onder julle beheer is, moet julle dit aan die brand steek. Ooreenkomstig die woord van die Here moet julle optree. Kyk, dit is my opdragte aan julle.” 9Josua het hulle weggestuur en hulle het na die plek vir die hinderlaag gegaan. Hulle het stelling ingeneem tussen Bet-El en Ai, aan die westekant van Ai. Josua het daardie nag tussen die manskappe deurgebring.
10Josua het vroeg die môre opgestaan en die manskappe gemonster. Hy het opgetrek na Ai, hy en die oudstes van Israel aan die voorpunt van die manskappe. 11Al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek; hulle het nader gegaan, en toe hulle by die stad aankom, het hulle aan die noordekant van Ai kamp opgeslaan, met die vallei tussen hulle en Ai.
12Hy het ongeveer vyfduisend man geneem en hulle in 'n hinderlaag opgestel tussen Bet-El en Ai, aan die westekant van die stad. 13Hulle het dus die manskappe só opgestel: die hoofmag aan die noordekant van die stad, en die agterhoede aan die westekant van die stad.
Josua het daardie nag na die middel van die vallei beweeg. 14Toe die koning van Ai hulle sien, het hy en die manne van die stad vroeg die oggend Israel haastig tegemoet getrek vir die geveg by 'n sekere plek voor die Araba. Dit was hy en al sy manskappe. Hy het egter nie geweet dat daar vir hom 'n hinderlaag agter die stad wag nie.
15Josua en die hele Israel het voor hulle teruggeval en gevlug in die rigting van die woestyn. 16Al die manskappe wat in die stad was, is byeengeroep om hulle te agtervolg; en toe hulle Josua agtervolg, is hulle uit die stad gelok. 17Daar het niemand in Ai en Bet-El oorgebly wat nie uitgetrek het agter Israel aan nie. Hulle het die stad oop agtergelaat en Israel agtervolg.
18Toe sê die Here vir Josua: “Steek die kromswaard wat in jou hand is, uit na Ai, want Ek gee dit in jou hand.” Josua het toe die kromswaard wat in sy hand was, na die stad uitgesteek. 19Toe hy sy hand uitsteek, het die manne in die hinderlaag dadelik opgespring uit hulle plekke, gehardloop en in die stad ingegaan. Hulle het dit ingeneem en die stad vinnig aan die brand gesteek. 20Toe die manne van Ai omdraai, sien hulle – daar styg die rook van die stad op na die hemel! Hulle kon nie na een van die twee kante vlug nie, nie na hierdie of daardie kant nie, want die manskappe wat na die woestyn op vlug was, het omgedraai na die agtervolgers.
21Toe Josua en die hele Israel sien dat die manskappe uit die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook uit die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. 22Toe trek die ander uit die stad die manne van Ai tegemoet, en so was hulle in die middel van die Israeliete, die een groep aan hierdie kant en die ander aan daardie kant. Israel het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug of ontkom het nie. 23Die koning van Ai is egter lewend gevang en na Josua gebring.
24Nadat Israel al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn, waar hulle hulle agtervolg het, klaar om die lewe gebring het, en almal van hulle, tot die laaste man toe, deur die skerpte van die swaard geval het, het die hele Israel teruggekeer na Ai en die stad met die skerpte van die swaard verslaan. 25Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vroue, al die mense van Ai, was twaalfduisend. 26Josua het nie sy hand met die kromswaard wat hy uitgesteek het, teruggetrek nie, totdat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het. 27Net die vee en die buit van daardie stad het Israel vir hulleself gevat, volgens die woord van die Here wat Hy Josua beveel het.
28Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd 'n puinheuwel gemaak, 'n woesteny; dit is vandag nog so. 29Die koning van Ai het hy aan 'n paal opgehang tot die aand. Teen sononder het Josua bevel gegee, en hulle het sy lyk van die paal afgehaal, dit by die ingang van die stad gegooi en 'n groot hoop klippe op hom gepak, wat vandag nog daar is.
Voorlesing van die wet
30Daarna het Josua vir die Here, die God van Israel, 'n altaar gebou by die berg Ebal, 31soos wat Moses, die dienskneg van die Here, die Israeliete opdrag gegee het, soos dit geskryf staan in die •boekrol met die Wet van Moses, “'n altaar van onbewerkte klippe, waaroor geen yster beweeg is nie”. Hulle het toe •brandoffers daarop vir die Here gebring, en ook •maaltydoffers geslag.
32Josua het daar 'n afskrif van die Wet van Moses op klippe gemaak, wat hy voor die oë van die Israeliete opgeskryf het. 33Die hele Israel, landsburgers asook •vreemdelinge en hulle oudstes, die opsieners en hulle regters, het aan weerskante van die ark gestaan, reg teenoor die priesters, die Leviete, wat die verbondsark van die Here dra. Die een helfte van Israel was aan die kant van die berg Gerisim, en die ander helfte aan die kant van die berg Ebal, soos Moses, die dienskneg van die Here, vroeër beveel het dat die volk Israel geseën moet word. 34Daarna het Josua al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vervloeking, net soos dit geskryf staan in die boekrol met die wet. 35Daar is nie 'n enkele woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele geloofsgemeenskap van Israel en voor die vroue, die kinders en vreemdelinge wat met hulle saamgegaan het nie.