Jesus en Saggeus
1Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. 2En kyk, daar was 'n man met die naam Saggeus. Hy was 'n hooftollenaar en 'n ryk man. 3Hy het probeer om te sien wie Jesus is, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis oorbly.” 6Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus met blydskap in sy huis ontvang. 7Almal wat dit gesien het, het gemor en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis.” 8Maar Saggeus het gaan staan en vir die Here gesê: “Kyk, Here, ek gee die helfte van my besittings aan die armes, en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit viervoudig terug.” 9Jesus het vir hom gesê: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is 'n seun van Abraham. 10Die •Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.”
Gelykenis van die muntstukke
11Terwyl die mense hierna luister, het Jesus nog 'n gelykenis vertel, omdat Hy naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die •koninkryk van God nou skielik sou aanbreek. 12Hy het gesê: “'n Man van hoë afkoms het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te bekom en weer terug te keer. 13Hy het tien van sy slawe geroep en aan hulle tien mina gegee en vir hulle gesê, ‘Gaan woeker daarmee, totdat ek terugkeer.’ 14Sy burgers het hom egter gehaat, en het 'n afvaardiging agter hom aangestuur om te sê, ‘Ons wil nie hê dat hierdie man oor ons heers nie.’
15“By sy terugkeer het hy, nadat hy die koningskap ontvang het, die slawe aan wie hy die geld gegee het, ontbied om uit te vind watter wins hulle gemaak het. 16Die eerste een het kom sê, ‘Meneer, u mina het 'n wins van tien mina opgelewer.’ 17Hy het hom geantwoord, ‘Mooi so, goeie slaaf! Omdat jy betroubaar was met iets wat baie gering is, moet jy nou gesag voer oor tien stede.’ 18Toe het die tweede slaaf gekom en gesê, ‘Meneer, u mina het vyf mina opgelewer.’ 19Vir hierdie man het hy gesê, ‘Jy moet vyf stede bestuur.’ 20Toe het die derde een gekom en gesê, ‘Meneer, kyk, hier is u mina, wat ek in 'n sweetdoek weggebêre het. 21Ek was bang vir u, omdat u 'n streng man is; u vorder in wat u nie belê het nie, en u oes wat u nie gesaai het nie.’ 22Toe sê die man vir hom, ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel, jou slegte slaaf! Jy het geweet dat ek 'n streng man is, wat invorder wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie. 23Waarom het jy nie my geld by die bank belê nie? Dan sou ek wanneer ek terugkom, dit met rente kon kry.’ 24Hy beveel toe die omstanders, ‘Vat die mina by hom weg en gee dit vir die een wat tien mina het.’ 25Maar hulle sê vir hom, ‘Meneer, hy het dan al tien mina!’ 26‘Ek sê vir julle, aan elkeen wat het, sal gegee word, en van dié wat nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. 27En daardie vyande van my wat nie wou gehad het dat ek koning oor hulle moes wees nie, bring hulle hierheen en maak hulle hier voor my dood.’ ”
28Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem.
Intog in Jerusalem
29Toe Jesus naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels 30met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. 31As iemand julle vra, ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só antwoord, ‘Die Here het hom nodig.’ ” 32Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. 33Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkievul los?” 34Hulle het geantwoord: “Die Here het hom nodig.” 35Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. 36Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei.
37Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. 38Hulle het uitgeroep:
“Geseënd is die Koning,
Hy wat kom in die Naam
van die Here!
Vrede in die hemel
en heerlikheid in die hoogste!”
39Sommige van die •Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” 40Maar Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”
41Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil 42en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. 43Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. 44Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”
Reiniging van die tempelterrein
45Hy het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars begin uitjaag. 46Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskryf,
“ ‘My huis sal 'n huis
van gebed wees’.
Maar julle het daarvan
'n rowerspelonk gemaak!”
47Hy het daagliks op die tempelterrein onderrig gegee. Die leierpriesters, die skrifkenners en die volksleiers wou Hom om die lewe bring, 48maar hulle kon nie 'n manier vind om dit te doen nie, omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.