Genesing van 'n slaaf
1Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan.
2'n Slaaf van 'n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. 3Toe hy van Jesus hoor, het hy 'n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. 4Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, 5want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die •sinagoge vir ons gebou.”
6Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. 7Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net 'n woord, en laat my slaaf gesond word. 8Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”
9Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so 'n groot geloof gevind nie.” 10En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref.
Opwekking van die weduwee se seun
11Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis. 12Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. 13Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” 14Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” 15Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee. 16Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof met die woorde “'n Groot profeet het onder ons opgestaan!” en “God het omgesien na sy volk!” 17Hierdie nuus oor Hom het deur die hele Judea en al die omliggende gebiede versprei.
Antwoord aan Johannes die Doper
18Johannes se dissipels het hom van al hierdie dinge vertel. Johannes het twee van sy dissipels laat roep 19en hulle na die Here gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” 20Toe die manne by Hom aankom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U gestuur om te vra, ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?’ ” 21Op daardie oomblik was Jesus besig om baie mense van hulle siektes en kwale en bose geeste te genees en om baie blindes weer te laat sien. 22Hy het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het:
“Blindes sien weer,
verlamdes loop,
melaatses word gereinig,
dowes hoor,
dooies word opgewek,
aan armes word die goeie boodskap verkondig.
23“En gelukkig is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie.”
24Nadat Johannes se gesante vertrek het, het Hy met die skare oor Johannes begin praat: “Toe julle na die woestyn uitgegaan het, wat wou julle gaan sien? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? 25Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, mense met swierige klere, wat in weelde leef, woon in koninklike paleise. 26Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. 27Hy is die een oor wie geskryf staan,
“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit –
hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’
28“Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie, en tog is die geringste in die •koninkryk van God groter as hy.”
29Die hele volk wat na Hom geluister het, ook die •tollenaars, het saamgestem dat God reg gehandel het, en hulle met die doop van Johannes laat doop. 30Maar die •Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, en hulle nie deur Johannes laat doop nie.
31“Met wie kan ek dan hierdie geslag mense vergelyk? Soos wie is hulle? 32Hulle is soos kindertjies wat op die markplein sit en na mekaar roep,
“ ‘Ons het vir julle fluit gespeel,
maar julle wou nie dans nie;
ons het 'n treurlied gesing,
maar julle wou nie huil nie!’
33“Want Johannes die Doper het gekom
en nie brood geëet of wyn gedrink nie,
“en julle sê,
“ ‘Hy is van 'n demoon besete.’
34“En die •Seun van die Mens
het gekom en geëet en gedrink,
“en julle sê,
“ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap,
'n vriend van tollenaars en sondaars.’
35“Maar die wysheid word
deur al haar kinders reg bewys.”
Vergewing vir 'n sondige vrou
36Een van die •Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het die Fariseër se huis binnegegaan en vir ete aangeleun.
37En kyk, daar was 'n sondige vrou in die dorp wat gehoor het dat Hy by die Fariseër se huis gaan eet het. Sy het 'n albasterfles vol reukolie gevat 38en agter Jesus, by sy voete, gaan staan. Sy het gehuil en begin om sy voete met haar trane nat te maak. Sy het sy voete met haar hare afgedroog, dit gesoen, en met die reukolie ingevryf. 39Toe die Fariseër wat Hom uitgenooi het, dit sien, het hy in sy hart gedink, as hierdie man 'n profeet was, sou hy tog geweet het wie dit is wat hom aanraak en watter soort vrou sy is, dat sy 'n sondige vrou is. 40Maar Jesus het vir hom gesê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Sê maar, Meester!” antwoord hy. 41“Twee mense was by 'n sekere geldskieter in die skuld. Die een het vyfhonderd denarius geskuld, en die ander vyftig. 42Omdat hulle hom nie kon terugbetaal nie, het hy albei se skuld kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” 43Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” En Jesus sê vir hom: “Jy het reg geoordeel.” 44Toe het Hy omgedraai na die vrou en vir Simon gesê: “Sien jy hierdie vrou? Toe Ek by jou huis ingestap het, het jy nie eers vir my water vir my voete gegee nie, maar sy het my voete met haar trane nat gemaak en met haar hare afgedroog. 45Jy het My nie 'n soen gegee nie, maar sy het, vandat Ek hier aangekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46Jy het my kop nie met olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met reukolie ingevryf. 47Daarom sê Ek vir jou, haar sondes – en dit was baie – is vergewe, omdat sy baie liefde betoon het. Maar die een vir wie min vergewe word, het min liefde.” 48En vir haar het Hy gesê: “Jou sondes is vergewe.” 49Toe begin die mense wat aangeleun het vir ete onder mekaar sê: “Wie is hierdie man, dat hy selfs sondes vergewe?” 50Maar Jesus het vir die vrou gesê: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”