1Bileam het egter gesien dat dit goed is in die oë van die Here om Israel te seën. Hy het nie soos die vorige kere na voortekens vir voorspellings gaan soek nie. Hy het sy gesig na die woestyn gedraai. 2Toe Bileam rondkyk en Israel sien, tydelik gevestig volgens sy stamme, het die Gees van God oor hom gekom. 3Hy het sy orakelspreuk aangehef en gesê:
“Die uitspraak van Bileam,
seun van Beor;
ja, die uitspraak van die man
met die geopende oog,
4die uitspraak van hom
wat die woorde van God hoor,
hy wat die Almagtige se visioene sien,
wat neerval met geopende oë,
5‘Hoe mooi is jou tente, Jakob,
jou wonings, Israel!
6Soos palmbome
is hulle uitgesprei,
soos tuine langs 'n rivier,
soos adelhout
wat die Here geplant het,
soos seders langs water.
7Water loop uit Israel se leersak;
sy saad kry oorvloedig water.
Sy koning styg uit bo Agag,
en sy heerskappy sal verhewe wees.
8God wat hom uit Egipte
uitgelei het,
is soos die horings
van 'n buffel vir hom.
Israel verslind nasies,
sy teenstanders;
aan hulle beendere knaag hy;
met sy pyle verpletter hy.
9Hy hurk, gaan lê soos 'n leeu,
ja, soos 'n leeuwyfie.
Wie sal hom opjaag?
Geseënd is hulle wat jou seën.
Vervloek is hulle wat jou vervloek.’ ”
10Balak het kwaad geword vir Bileam. Hy het sy handpalms teen mekaar geslaan en vir Bileam gesê: “Om my vyande te vervloek, is waarvoor ek jou laat roep het; en kyk, jy het hulle nou al drie keer net geseën. 11Maak dan nou dat jy wegkom na jou plek! Ek het gesê ek sal jou ryklik beloon; maar kyk, die Here het jou van beloning weerhou.”
12Bileam het vir Balak gesê: “Het ek nie reeds vir u boodskappers wat u na my gestuur het, gesê, 13‘Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, kan ek nie teen die bevel van die Here ingaan deur enigiets, goed of kwaad, uit my eie te doen nie. Wat die Here sê, dit sal ek sê.’ 14En nou, kyk, ek is reeds op pad na my volk toe. Maar kom, laat ek u inlig oor wat hierdie volk in die toekoms aan u volk gaan doen.”
15Hy het sy orakelspreuk aangehef en gesê:
“Die uitspraak van Bileam,
seun van Beor,
ja, die uitspraak van die man
met die geopende oog,
16die uitspraak van hom
wat die woorde van God hoor,
hy wat bekend is
met die Allerhoogste se kennis,
wat die Almagtige
se visioene sien,
wat neerval met geopende oë,
17‘Ek sien hom,
maar dit is nie nou nie,
ek neem hom waar,
maar hy is nie naby nie.
'n Ster uit Jakob tree na vore,
'n heerserstaf uit Israel verskyn;
hy verbrysel die slape van Moab,
en vernietig al die kinders van Set.
18Edom word 'n besitting,
ja, Seïr, sy vyande,
word 'n besitting,
maar Israel word al sterker.
19Hy sal heers uit Jakob;
wie uit die stad ontvlug,
bring hy om.’ ”
20Bileam het Amalek gesien, sy orakelspreuk aangehef en gesê:
“Die vernaamste onder die nasies
is Amalek,
maar sy uiteinde is ondergang.”
21Bileam het die Keniete gesien, sy orakelspreuk aangehef en gesê:
“Bestendig is jou woonplek,
op 'n rots is jou nes gebou;
22maar Kain is bestem
vir vernietiging.
Hoe lank nog?
Assur sal jou in ballingskap
wegvoer.”
23Bileam het sy orakelspreuk aangehef en gesê:
“Helaas, wie sal oorleef
sonder dat God dit beskik?
24Skepe van die kus
van die Kittiërs –
hulle verneder Assur,
en hulle verneder Heber;
maar ook hulle is bestem
vir ondergang.”
25Toe het Bileam opgestaan en weggegaan; hy het na sy plek teruggekeer. Ook Balak het sy koers gegaan.