Dogters van Selofgad
1Die dogters van Selofgad – hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa, van die Manasse-familiegroep – het na vore getree. Selofgad was die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, seun van Josef. 2Hulle het voor Moses, die priester Eleasar, die leiers en die hele volksvergadering by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan en gesê: 3“Ons vader is oorlede in die woestyn. Hy was egter nie onder die bende nie – daardie bende van Korag wat teen die Here saamgespan het. Maar deur sy eie sonde het hy gesterf, en hy het nie seuns gehad nie. 4Waarom moet ons vader se naam verdwyn uit sy familiegroep omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons erfgrond tussen ons vader se broers.”
5Moses het hulle saak toe voor die Here gebring. 6Die Here het vir Moses gesê: 7“Die dogters van Selofgad se versoek is billik. Jy moet beslis vir hulle onvervreembare erfgrond gee tussen hulle vader se broers. Jy moet hulle vader se erfdeel na hulle laat oorgaan. 8Met die Israeliete moet jy praat en sê, ‘As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy erfdeel na sy dogter laat oorgaan. 9En as hy nie 'n dogter het nie, moet julle sy erfdeel vir sy broers gee. 10En as hy nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy vader se broers gee. 11En as sy vader nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy bloedverwant gee wat die naaste aan hom is in sy familiegroep. Hy moet dit dan in besit neem. Dit moet vir die Israeliete 'n wetlike voorskrif wees, soos die Here Moses beveel het.’ ”
Josua die opvolger van Moses
12Die Here het vir Moses gesê: “Klim teen hierdie Abarimberge op en kyk na die land wat ek vir die Israeliete gegee het. 13Wanneer jy dit gesien het, sal ook jy, soos jou broer Aäron, met jou mense verenig word, 14aangesien julle in die Tsinwoestyn, toe die volksvergadering in opstand was, my bevel om my heiligheid voor hulle oë te erken, verontagsaam het met die gee van water. Dit was by die water van Meriba-Kades in die Tsinwoestyn.”
15Moses het met die Here gepraat en gesê: 16“Mag die Here, die God wat lewensasem gee aan alle vlees, 'n man oor die volksvergadering aanstel 17wat voor hulle uit kan trek en voor hulle kan ingaan, ja, wat hulle kan uitlei en wat hulle kan teruglei, sodat die volksvergadering van die Here nie soos kleinvee sonder 'n herder is nie.”
18Die Here het vir Moses gesê: “Neem Josua, seun van Nun, 'n man met geesdrif, en lê jou hande op hom. 19Laat hom voor die priester Eleasar staan en voor die hele volksvergadering, en gee hom voor hulle oë sy opdragte. 20Dra van jou gesag oor op hom, sodat die hele volksvergadering van die Israeliete na hom sal luister. 21Maar by die priester Eleasar moet hy aanmeld, sodat dié vir hom deur die beslissing van die Urim by die Here navraag kan doen. Op sy bevel moet hulle vir 'n geveg uittrek, en op sy bevel moet hulle terugkeer, hy en al die Israeliete saam met hom, die hele volksvergadering.”
22Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleasar en die hele volksvergadering laat staan. 23Hy het sy hande op hom gelê en hom sy opdragte gegee, soos wat die Here by monde van Moses gesê het.