1Van Dawid.
Die Here, my rots, moet geprys word,
Hy maak my hande bedrewe
vir die geveg,
my vingers vir die oorlog.
2Hy is my vertroueling,
my bergskuiling, my beskutting,
my bevryder, my skild,
en by Hom skuil ek,
Hy wat my volk aan my onderwerp.
3Here, wat is 'n mens
dat U hom versorg,
'n sterfling
dat U hom in ag neem?
4'n Mens is soos 'n asemteug,
sy lewensdae soos 'n vlugtige skaduwee.
5Here, buig u hemel af
en daal neer;
raak die berge aan,
sodat hulle rook.
6Laat weerligte flits
en dryf hulle uitmekaar;
stuur u pyle en bring hulle
in verwarring.
7Reik met u hand uit die hoogte,
bevry my en red my
uit die watermassa,
uit die hand van vreemdes
8wie se monde onsin verkondig
en wie se regterhande bedrieglik is.
9O God, 'n nuwe lied
wil ek vir U sing,
met begeleiding van die tiensnarige
harp wil ek U besing –
10U wat aan konings
die oorwinning gee,
wat Dawid, u dienskneg,
bevry van 'n dodelike swaard.
11Bevry my en red my uit die hand
van vreemdes
wie se monde onsin verkondig,
en wie se regterhande bedrieglik is,
12sodat ons seuns soos
volgroeide plante kan wees
in hulle jeug,
ons dogters soos hoekpilare,
uitgekerf, geskik vir 'n paleis,
13sodat ons graanskure
vol kan wees,
alle soorte kos kan lewer,
ons kleinvee met duisende,
met tienduisende, kan vermeerder
in ons oop weivelde,
14en ons beeste swaar dragtig
kan wees;
met geen bres in ons mure nie,
geen veldtogte en geen
gejammer op ons pleine nie.
15Gelukkig is die volk
met wie dit so gaan;
gelukkig is die volk
wie se God die Here is!