1'n Luiaard kan met 'n smerige
klip vergelyk word,
en almal sal sisgeluide maak
oor sy oneer.
2'n Luiaard kan met beesmis
vergelyk word;
elkeen wat dit optel,
sal sy hand afskud.
3Dit is 'n skande vir 'n vader
as hy 'n onopgevoede seun het;
'n dogter word gebore as 'n verlies.
4'n Skrander dogter sal 'n man
as haar deel verkry,
maar sy wat beskaam,
veroorsaak smart vir die een
wat haar verwek het.
5'n Vermetele vrou beskaam
vader en eggenoot,
en sy sal deur beide
nie geëer word nie.
6Soos musiek in routyd
is ontydige gepraat,
maar sweepslae en dissipline
is te alle tye die kenmerk van wysheid.
9Hy wat 'n dwaas probeer onderrig,
is soos iemand wat potskerwe
probeer aanmekaarlym,
soos iemand wat probeer om
'n slaper uit 'n diep slaap wakker te maak.
10Hy wat probeer om met
'n dwaas gesprek te voer,
is soos een wat met iemand
wat deur die slaap is, gesprek voer;
aan die einde sal hy net sê:
“Wat is dit?”
11Huil oor 'n dooie,
want hy het die lig verlaat,
en huil oor 'n dwaas,
want hy het insig verlaat.
Moenie so bitterlik oor 'n dooie huil nie,
want hy het te ruste gegaan,
maar die lewe van 'n dwaas
is slegter as die dood.
12Roubetoon vir 'n dooie
beloop sewe dae,
maar vir 'n dwase en goddelose persoon,
duur dit al die dae van sy lewe.
13Moenie baie woorde wissel
met 'n dwaas nie,
en moenie 'n onverstandige
persoon besoek nie.
Pasop vir hom sodat jy
nie probleme mag hê nie,
en dan sal jy geensins ontreinig
word deur sy handskud nie.
Draai weg van hom en jy sal rus vind,
en jy sal nooit vermoei word
deur sy waansin nie.
14Wat weeg swaarder as lood?
En watter ander naam sal hy hê,
as net: “Dwaas”?
15Sand en sout en 'n stuk yster
is makliker om te dra
as om 'n onverstandige
persoon te verdra.
16'n Houtbalk wat vasgemaak is
aan 'n gebou,
sal nie deur 'n aardbewing
losgeruk word nie;
so sal 'n hart wat vasbeslote
gerig is op 'n deurdagte idee
nie op enige tydstip bang wees nie.
17'n Hart gerig op deurdagte insig,
is soos 'n gegraveerde ornament
op 'n gepoleerde muur.
18Heinings wat op 'n vlak geleë is,
sal nooit teen die wind bestand
wees nie;
so ook sal 'n vreesbevange hart
by die gedagte aan 'n dwaas
nooit bestand wees teen enige vrees nie.
19Hy wat 'n oog prik,
sal trane laat vloei,
en hy wat 'n hart prik,
sal gevoelens na vore laat kom.
20Hy wat 'n klip na voëls gooi,
verwilder hulle,
en hy wat 'n vriend beledig,
sal 'n vriendskap vernietig.
21As jy 'n swaard trek teen 'n vriend,
moet jy nie wanhoop nie,
want daar is 'n uitweg moontlik.
22As jy jou mond oopmaak
teen 'n vriend,
moet jy nie besorg wees nie,
want versoening is moontlik,
tensy jy beledigend
of verwaand is,
of 'n geheim openbaar maak,
of hom 'n agterbakse hou toedien;
in hierdie gevalle sal enige vriend vlug.
23Wen jou naaste se vertroue
in sy armoede,
sodat jy in sy voorspoed kan deel.
Bly by hom in 'n tyd van verdrukking,
sodat as hy erf,
jy 'n mede-erfgenaam kan wees.
24Voor 'n vuur ontbrand,
is daar die stoom en die rook
van 'n oond;
so is daar skeldtaal
voor bloedige gevegte.
25Ek sal nie skaam wees
om 'n vriend te huisves nie,
en vir hom sal ek nooit wegkruip nie.
26En as bose dinge met my
gebeur as gevolg van hom,
sal elkeen wat dit hoor,
op sy hoede wees vir hom.
27Wie sal 'n wag voor my mond plaas
en 'n seël van diskresie op my lippe,
sodat ek nie as gevolg van hulle val
en my tong my verwoes nie?