Lof van Wysheid
1Wysheid sal haar eie lof besing,
en te midde van haar volk sal sy roem.
2In 'n volksvergadering
van die Allerhoogste
sal sy haar mond open
en voor sy mag sal sy roem:
3“Ek het uit die mond
van die Allerhoogste voortgekom,
en soos 'n newel het ek
die aarde bedek.
4Ek het in die hoogtes tent opgeslaan
en my troon was op 'n wolkpilaar.
5Ek alleen het in 'n kringloop
om die hemelboog beweeg,
en in die dieptes van onmeetlike
afgronde het ek gewandel.
6Oor die golwe van die see
en oor die hele aarde,
en oor elke volk en nasie
het ek beheer verkry.
7Hier het ek oral 'n rusplek gesoek;
in wie se erfdeel sal ek vertoef?
8Toe het die Skepper van alles my beveel,
en Hy wat my geskep het,
het my tent neergesit en gesê,
‘Woon in Jakob,
en laat jou erfdeel in Israel wees.’
9Voor die ewigheid, van die begin af,
het Hy my geskep,
en tot in ewigheid
sal ek beslis nie tot 'n einde kom nie.
10In 'n heilige tent het ek
voor Hom gedien,
en so is ek in Sion gevestig.
11In 'n geliefde stad het Hy
my so tot rus laat kom,
en in Jerusalem was my gesag.
12En ek het wortel geskiet
onder 'n geëerde volk;
in die deel van die Here is my erfdeel.
13Soos 'n seder is ek
in Libanon verhef,
en soos 'n sipres in die gebergtes
van Hermon.
14Soos 'n dadelpalm is ek
in En-Gedi verhef
en soos oleanders in Jerigo,
soos 'n mooi olyfboom in die veld,
soos 'n plataan is ek verhef.
15Ek was welriekend.
Soos kaneel en mirte vir spesery
en soos uitgesoekte mirre
het ek 'n geur versprei,
soos vinkel en skellak en harpuisolie,
en soos die rook van wierook in 'n tent.
16Ek het soos 'n terebint
my takke uitgesprei
en my takke was takke van eer en grasie.
17Ek het soos 'n druiwestok
grasie voortgebring
en my blomme was die vrug
van eer en rykdom.
19Kom na my toe,
julle wat my begeer,
en word deur my opbrengs gevul.
20Want die gedagte aan my
is soeter as heuning
en my erfdeel
soeter as 'n heuningkoek.
21Diegene wat my eet,
sal nog honger bly,
en diegene wat my drink,
sal nog dors bly.
22Wie my gehoorsaam,
sal nie beskaamd word nie
en dié wat met my saamwerk,
sal nie sondig nie.”
23Al hierdie dinge is die •Boekrol van die Verbond van die Allerhoogste God,
die Wet wat Moses julle beveel
het as erfdeel vir die
samekomste van Jakob.
25Die Wet wat die wysheid aanvul, is soos die Pison
en soos die Tigris in tye van
die eerstelinge;
26soos die Eufraat verskaf dit insig,
soos die Jordaan in tye van
die graanoes.
27Dit laat opvoeding skyn soos lig;
dit is soos die Gihon in oestye.
28Die eerste mens het haar
nie volkome geken nie,
en net so het die laaste een
haar nie deurgrond nie.
29Want haar gedagtes
word gevul uit die see,
en haar raad kom uit die groot,
onpeilbare diepte.
30“En ek is soos 'n kanaal uit 'n rivier,
en soos 'n akwaduk wat uitvloei
in 'n paradys.
31Ek het gesê,
‘Ek sal my tuin natlei,
en ek sal my beddings
deurdrenk laat word.’
En kyk, die kanaal het vir my
'n rivier geword,
en my rivier het 'n see geword.
32Ek sal steeds opvoeding
laat skyn soos die dagbreek,
en ek sal dit aan die lig bring
tot aan die uiteindes.
33Ek sal steeds onderrig
soos profesie uitgiet,
en sal dit agterlaat vir geslagte
deur die eeue.
34Neem kennis dat ek nie slegs
vir myself geswoeg het nie,
maar vir almal wat haar naspeur.”