1Gelukkig is die man van 'n goeie vrou
en dubbel is die getal van sy dae.
2'n Moedige vrou bring
vreugde vir haar man,
en hy sal sy jare in vrede voltooi.
3'n Goeie vrou is 'n goeie erfdeel;
sy sal as 'n erfdeel gegee word
aan wie ontsag het vir die Here.
4'n Goeie hart, by ryk of arm,
vertoon altyd 'n vriendelike gesig.
5Vir drie dinge is my hart versigtig,
en in die aangesig van 'n vierde
het ek gebid:
die naamskending van 'n stad,
die byeenkoms van 'n gepeupel,
en 'n vals beskuldiging –
alles mistroostiger as die dood.
6'n Pyn in die hart en verdriet
is 'n vrou wat op 'n ander
vrou jaloers is,
en 'n geselende tong is sy
wat met almal praat.
7'n Skawende juk vir osse
is 'n bose vrou;
wie haar bekom, is soos iemand
wat 'n skerpioen vang.
8'n Groot ergernis
is 'n besope vrou;
sy kan haar skandalige optrede
nie verberg nie.
9Die hoerery van 'n vrou
lê in haar fladderende oë,
en 'n mens herken dit
aan haar ooglede.
10Oor 'n eiesinnige dogter,
versterk jou waaksaamheid,
sodat sy nie haar vryheid
ontdek, en dit gebruik nie.
11Vir haar skaamtelose oog
moet jy op jou hoede wees,
en moenie verbaas wees
as sy jou verontagsaam nie.
12Soos 'n reisiger wat dors het,
sy mond sal oopmaak
en van enige water drink
wat naby is,
sal sy teenoor enige paal sit
en sy sal die pylkoker oopmaak
vir die pyl.
13'n Vrou se sjarme
sal haar man plesier verskaf,
en haar vaardigheid
sal vet aan sy beendere sit.
14'n Gawe van die Here
is 'n swygsame vrou,
en daar is geen plaasvervanger
vir haar gedissiplineerde
lewe nie.
15Genade op genade
is 'n beskeie vrou,
en niks weeg op teen haar lewe
van selfbeheersing nie.
16Die son kom op in die hoogtes
van die Here,
en die skoonheid van 'n goeie vrou
is 'n ornament in haar huis.
17'n Lamp skyn
op 'n heilige staander,
en skone voorkoms
op 'n rype ouderdom.
18Goue pilare staan
op 'n silwerbasis,
en pragtige bene
op stewige voete.
28Deur twee dinge
is my hart gegrief,
en deur 'n derde
het woede oor my gekom:
'n soldaat wat tekort het
en daarom gebrek ly,
en verstandige mans
as hulle misken word;
'n persoon wat hom
van regverdigheid tot sonde keer –
die Here sal hom vir die swaard
voorberei.
29'n Handelaar sal met moeite
van foute verlos word,
en 'n verkoopsman sal nie
van sondes geregverdig word nie.