1Kinders, luister na my, julle vader,
en tree so op dat julle verlos kan word,
2want die Here plaas die vader
in 'n ereposisie oor sy kinders
en die moeder se beslissing
bevestig Hy teenoor haar seuns.
3Hy wat sy vader respekteer,
doen versoening vir sonde,
4en soos een wat rykdom versamel,
is hy wat sy moeder eer.
5Hy wat sy vader respekteer,
sal vreugde van sy kinders ervaar,
en op die dag van sy gebed
sal hy verhoor word.
6Hy wat sy vader eer,
sal lank leef,
en hy wat die Here gehoorsaam,
sal sy moeder rus besorg.
7Onder dié wat hom verwek het,
sal hy wees soos 'n slaaf
teenoor meesters.
8Eer jou vader in woord en daad
sodat sy seën oor jou kan kom,
9want 'n vader se seën
versterk die kinders se huise,
maar 'n moeder se vloek
ontwortel hulle fondamente.
10Moenie jouself eer toe-eien
deur jou vader sy eer
te ontneem nie,
want sy eerloosheid
strek jou nie tot eer nie;
11'n mens se eer spruit voort
uit die eer van sy vader,
maar 'n moeder sonder eer
is 'n skande vir kinders.
12Kind, ondersteun jou vader
in sy ouderdom,
en moet hom nie leed
laat ervaar in sy lewe nie.
13Selfs wanneer sy verstand
hom in die steek laat,
wees tegemoetkomend,
en ontneem hom nie sy eer
in die volheid van jou krag nie,
14want medelye met 'n vader
sal nie vergeet word nie
en dit sal, in die plek van jou sondes,
bygevoeg word om jou op te bou.
15Op die dag van verdrukking
sal dit in herinnering geroep word;
soos ryp in warm weer,
so sal jou sondes wegsmelt.
16Soos 'n godslasteraar is hy
wat sy vader in die steek laat,
en deur die Here vervloek,
is hy wat sy moeder kwaad maak.
17Kind, hanteer jou sake met nederigheid,
dan sal jy geag word deur
die mens wat guns
gevind het by God.
18Hoe belangriker jy is,
hoe nederiger moet jy wees,
dan sal jy guns vind voor die Here.
20Want groot is die mag van die Here
en Hy word deur nederiges verheerlik.
21Wat bo jou vuurmaakplek is,
moet jy nie najaag nie
en wat bo jou vermoë is,
moet jy nie naspeur nie.
22Wat aan jou toevertrou is,
bedink dit,
maar wat verborge is,
gaan jou nie aan nie.
23Moenie jou bemoei met dinge
wat groter as jou belange is nie,
want meer as wat vir die mens
verstaanbaar is,
is aan jou getoon.
24Hulle valse aannames
het immers baie mense mislei
en slegte veronderstellings
het hulle denke laat ontspoor.
26'n Verharde hart
sal tot 'n slegte einde kom,
en hy wat van gevaar hou,
sal daardeur ten gronde gaan.
27'n Verharde hart
sal met swaarkry belas word;
die sondaar stapel sonde op sonde.
28Vir die swaarkry
van 'n aanmatigende mens
is daar geen genesing nie,
want 'n giftige plant
het in hom wortelgeskiet.
29Die hart van 'n verstandige
mens bedink 'n spreuk,
en 'n aandagtige oor
is die begeerte van die wyse.
30Water blus 'n verterende vuur,
en liefdadigheid versoen sonde.
31Hy wat gunste terugbetaal,
word uiteindelik onthou
en wanneer hy struikel,
sal hy ondersteuning vind.