Lied vir die beroemdes
1Laat ons nou die beroemde
manne prys,
ja, die vaders van wie ons afstam.
2Die Here het 'n omvattende
heerlikheid geskep;
daarin is sy majesteit van ewig af.
3Sommige het in hulle
koninkryke geheers,
en beroemde manne geword
deur mag;
ander het uit hulle insig raad
gegee toe hulle uitsprake
gelewer het deur profesieë;
4ander het die volk gelei
met samesprekings,
en deur hulle insig in die
skryfkuns van die volk –
wyse woorde was daar
in hulle onderrig;
5ander het melodieë gekomponeer
en nog ander het verhalende
gedigte geskryf;
6sommige vermoënde manne
was ook toegerus met mag,
en het vreedsaam verkeer
in hulle huise.
7Al hierdie manne is vereer
in hulle geslagte,
en in hulle dae was hulle
'n voorwerp van roem.
8Daar was van hulle
wat 'n naam agtergelaat het,
sodat lofsange oor hulle
gesing kon word.
9Maar daar is hulle van wie
daar geen herinnering bestaan nie;
hulle het gesterf asof hulle
nie bestaan het nie,
en hulle het geword soos
diegene wat nie gebore is nie,
so ook hulle kinders na hulle.
10Hierdie manne, daarenteen,
was vol ontferming,
en hulle regverdige dade
is nie vergeet nie.
11Onder hulle nageslag
sal dit voortleef;
'n goeie nalatenskap is hulle kinders.
12Aan die verbonde het hulle
nageslag getrou gebly,
asook hulle kinders om hulle ontwil.
13Hulle nageslag sal vir ewig bestaan,
en hulle glorie sal nie uitgewis
word nie.
14Hulle liggame is in vrede begrawe,
en hulle naam sal leef
oor geslagte heen.
15Volke sal hulle wysheid oorvertel,
en 'n volksvergadering
sal hulle lof verkondig.
16Henog het die Here behaag
en hy is weggeneem –
'n voorbeeld van berou
vir die geslagte.
17Noag is volkome
en regverdig bevind;
in 'n tyd van toorn het hy
'n versoening geword.
Vanweë hom het daar
'n nageslag op aarde oorgebly
toe die vloed gekom het.
18Ewigdurende verbonde
is met hom gesluit,
naamlik dat geen vlees
weer uitgewis sou word
deur 'n vloed nie.
19Abraham was 'n grootse
vader vir 'n veelheid van nasies,
en niemand is soos hy bevind
in sy heerlikheid nie.
20Hy het die wet van die
Allerhoogste nagekom,
en in 'n verbond met Hom getree;
aan sy liggaam het hy
'n verbond gesluit,
en toe hy op die proef gestel is,
is hy betroubaar bevind.
21Daarom het die Allerhoogste
met 'n eed aan hom bevestig
dat nasies geseën sou word in sy saad,
en dat Hy hom sou vermeerder soos die stof van die aarde,
en sy saad sou verhoog
soos die sterre,
en dat Hy aan hulle 'n erfdeel
sou gee van see tot see,
en van die rivier tot aan
die einde van die aarde.
22En Hy het dit ook so
aan Isak bevestig
vanweë Abraham, sy vader.
23'n Seëning vir alle mense
en 'n verbond
het Hy op die hoof van Jakob
laat rus.
Hy het hom erken met sy seën,
en dit aan hom gegee met 'n erfenis.
Hy het sy erfdeel verdeel
en dit aan die twaalf stamme gegee.