1Die herinnering aan Josia
is 'n mengsel van reukwerk
voorberei met die vaardigheid
van 'n salfmenger;
soos heuning sal dit in elke mond
soet wees,
soos musiek by 'n wynbanket.
2Hy het daarin geslaag om die volk
tot inkeer te bring,
en het die gruwels van wetteloosheid verwyder.
3Hy het sy hart op die Here gerig;
in die tyd van wetteloses het hy
godvresendheid versterk.
4Afgesien van Dawid, Hiskia en Josia,
het almal erg gesondig,
want hulle het die Wet
van die Allerhoogste verlaat;
dit was die einde van die konings
van Juda,
5want hulle het hulle mag
aan ander afgestaan,
en hulle eer aan 'n vreemde nasie.
6Dié het die uitverkore stad
van die heiligdom aan die brand gesteek,
en haar strate verlate gemaak,
7deur die hand van Jeremia.
Want hulle het hom mishandel,
en dit terwyl hy in die moederskoot
as profeet geheilig is –
om te ontwortel, te ruïneer
en te verwoes,
maar net so ook om te bou en te plant.
8Esegiël het 'n visioen
van heerlikheid gesien,
wat God vir hom gewys het
bo 'n strydwa van gerubs.
9Want Hy het selfs sy vyande
in 'n donderstorm onthou,
en om goed te doen aan diegene
wat hulle paaie reguit maak.
10En mag die beendere
van die twaalf profete
herleef uit die plek waar hulle is,
want hulle het Jakob vertroos,
en bevry in hoopvolle vertroue.
11Hoe sal ons vir Serubbabel verhoog?
Ook hy was soos 'n seëlring
aan die regterhand.
12So ook Josua, seun van Josadak;
wat in hulle tyd 'n tempel gebou
en vir die Here 'n heiligdom
opgerig het,
vir ewige heerlikheid bestem.
13En die herinnering aan Nehemia
leef sterk,
aangesien hy vir ons die gevalle
mure weer opgerig het,
en poorthekke, beveilig
met grendels daargestel,
en ons geboue herbou het.
14Niemand is op aarde geskape
soos Henog nie,
want ook hy is van die aarde af
weggeneem.
15Ook is daar nie nog 'n man
soos Josef gebore nie,
'n leier vir broers
en 'n ondersteuner vir die volk,
en sy beendere is bewaar.
16Sem en Set is vereer onder mense,
maar bo elke lewende wese
in die skepping is Adam.