Tobit 10
Tobias se terugkeer
1Tobit het elke dag uitgewerk hoeveel dae dit Tobias sou neem om heen en terug te reis. Toe die dae om was en sy seun nog nie terug was nie, 2het hy gesê: “Is hy nie dalk daar opgehou nie? Of is Gabael dalk dood en is daar niemand om die geld vir hom te gee nie?” 3Hy het bedruk begin raak. 4Sy vrou Anna sê toe: “My kind is dood en nie meer by die lewendes nie.” Sy het begin huil en treur oor haar seun en gesê: 5“Ai tog, kind, lig van my oë, dat ek toegelaat het dat jy weggaan.” 6Tobit het vir haar gesê: “Bly stil. Moenie bekommerd wees nie, suster. Hy is ongedeerd. Iets moes beslis met hulle daar gebeur het wat hom ophou. Die man wat saam met hom gereis het, is betroubaar en een van ons broers. Moenie hartseer wees oor hom nie, suster. Hy sal binnekort terug wees.” 7Maar sy sê vir hom: “Bly jy stil! En moenie my bedrieg nie! My kind is dood.” Sy het elke dag uitgehardloop en in die pad af gekyk waarlangs haar seun weg is. Sy het na niemand geluister nie. Eers wanneer die son onder was, het sy ingegaan en die hele nag lank gehuil en getreur, en geen slaap gekry nie.
8Toe die veertien dae van die •bruilofsfees verby was – wat Raguel gesweer het hy vir sy dogter sou hou – het Tobias na Raguel gegaan en vir hom gesê: “Stuur my terug, want ek weet my vader en my moeder glo dat hulle my nie weer sal sien nie. Nou vra ek u, Vader, om my terug te stuur dat ek na my eie vader kan gaan. Ek het reeds vir u vertel hoe ek van hom weg is.” 9Raguel sê vir Tobias: “Bly, kind; bly by my en ek sal boodskappers na jou vader Tobit stuur en hulle sal hom oor jou inlig.” Hy het hom geantwoord: “Nee, dit kan nie. Ek vra pa om my hiervandaan terug te stuur na my eie vader.” 10Raguel het opgestaan en Sara as vrou vir Tobias gegee en die helfte van al sy besittings, sy dienaars en diensmeisies, beeste en skape, donkies en kamele, klere, geld en huishoudelike ware. 11Hy het hulle in goeie gesondheid weggestuur. Hy het Tobias gegroet en vir hom gesê: “Voorspoed, kind, reis veilig. Mag die Here van die hemel vir jou en jou vrou Sara voorspoed gee, en mag ek julle kinders sien voor ek sterf!” 12Hy het vir sy dogter Sara gesê: “Gaan na jou skoonpa omdat hulle van nou af jou ouers is, asof hulle jou self in die lewe gebring het. Gaan in vrede, dogter, en mag ek goeie dinge van jou hoor solank ek leef.” Hy het hulle gegroet en laat gaan. 13Edna het vir Tobias gesê: “Kind en geliefde broer, mag die Here jou veilig terugneem huis toe. Mag ek jou en my dogter Sara se kinders sien terwyl ek nog leef, voor ek sterf. Voor die Here vertrou ek my dogter aan jou toe as 'n kosbare pand. Mag jy haar nooit in al jou lewensdae bedroef nie. Kind, gaan in vrede. Van nou af is ek jou moeder en Sara jou suster. Mag ons almal voorspoedig wees, al die dae van ons lewe.” Sy het hulle albei gesoen en hulle in goeie gesondheid weggestuur.
14Tobias is weg van Raguel, gesond en gelukkig, terwyl hy die Here van die hemel en die aarde, die Koning van almal, loof omdat Hy sy pad voorspoedig gemaak het. Hy het vir homself gesê: “Dit is jou gegun om jou ouers al die dae van hulle lewe te eer.”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.