3Toe hy op sterwe lê, het hy sy seun Tobias geroep en hom opdrag gegee: “Kind, vat jou kinders 4en vertrek haastig na Medië, want ek glo die uitspraak van God oor Nineve wat Hy aan Nahum bekend gemaak het – dat alles so sal wees en so met Assirië en Nineve sal gebeur. Alles sal gebeur wat die profete van Israel, wat God gestuur het, gesê het. Niks sal verlore gaan van al hulle uitsprake nie; alles sal op hulle tyd gebeur. In Medië sal daar meer uitkoms wees as in Assirië en Babilonië. Ek weet en vertrou immers dat alles wat God gesê het, vervul sal word en so sal wees, en inderdaad sal nie een woord van die uitsprake verlore gaan nie. Ons broers wat in die land Israel woon, sal almal verstrooi word en as krygsgevangenes weggevoer word uit die goeie land. Die hele land Israel sal verlate wees; Samaria en Jerusalem sal verlate wees, en vir 'n tyd sal die huis van God in rou wees, en afgebrand. 5Maar God sal Hom weer oor hulle ontferm en hulle terugbring na die land Israel. Hulle sal sy huis herbou, maar nie soos die vorige een nie, en dit sal bly totdat die tyd van vervulling kom. Daarna sal almal terugkeer uit hulle gevangenskap en Jerusalem op 'n waardige wyse herbou. God se huis sal daar herbou word, net soos die profete van Israel daaroor gesê het. 6Dan sal al die volke oor die hele aarde, almal, hulle tot God keer en waarlik ontsag vir Hom hê. Hulle sal al hulle afgode verwerp, ook die mense wat hulle bedrieg en mislei het om af te dwaal, en hulle sal die God van die ewigheid in geregtigheid loof. 7Al die Israeliete wat in daardie dae gered word en in waarheid aan God dink, sal versamel word. Hulle sal na Jerusalem kom en vir altyd veilig in die land van Abraham woon. Die land sal aan hulle oorgegee word. En dié wat God in waarheid liefhet, sal hulle verheug, maar dié wat sonde en onreg doen, sal uit die hele land verdwyn. 8-9En nou beveel ek julle, kinders: Dien God in waarheid en doen wat vir Hom aanneemlik is. Ook julle kinders moet aangesê word om reg te doen en aalmoese te gee, sodat hulle God in gedagte kan hou en sy Naam by elke geleentheid in waarheid met al hulle krag loof. En nou, jy, kind, gaan weg uit Nineve en moenie hier bly nie. Die dag waarop jy jou moeder by my begrawe, op dié dag moet jy nie binne die grense van die stad oornag nie, want ek sien dat baie onreg daar voorkom en baie bedrog daar gepleeg word en dat mense hulle nie daaroor skaam nie. 10Let op, kind, wat Nadab gedoen het aan Agikar, wat hom grootgemaak het. Is Agikar nie lewend afgebring onder die grond nie? Maar God het Nadab die oneer persoonlik vergeld: Agikar het uitgekom in die lig in en Nadab het die ewige duisternis binnegegaan omdat hy probeer het om Agikar om die lewe te bring. Deurdat Agikar aalmoese gegee het, het hy die valstrik van die dood ontkom wat Nadab vir hom gestel het. Nadab het egter self in die valstrik van die dood geval en dit het hom vernietig. 11En nou, kinders, let op wat doen die gee van aalmoese, en wat onreg doen: dat onreg doodmaak. Maar nou verlaat my siel my.” Hulle het hom op die bed neergelê en hy het gesterf. Hy is eervol begrawe.
12Toe Tobias se moeder dood is, het hy haar by sy vader begrawe. Hy en sy vrou het na Medië gegaan en by sy skoonvader Raguel in Ekbatana gaan woon. 13Tobias het hulle op hulle oudag met respek versorg en hulle in Ekbatana in Medië begrawe. Hy het die huis van Raguel en dié van sy pa Tobit geërf. 14Hy het op eervolle wyse gesterf in die ouderdom van honderd-en-sewentien jaar. 15Voor sy dood het hy van die verwoesting van Nineve gehoor en dit gesien. Hy het gesien hoe Nineve se gevangenes na Medië geneem word, dié wat Agiagaros, die koning van Medië, as krygsgevangenes weggevoer het. Hy het God geloof oor alles wat Hy aan die mense van Nineve en Assirië gedoen het. Voor hy dood is, het hy hom oor Nineve verheug en die Here God tot in alle ewigheid geloof.