Tobias se sending na Medië
1Daardie dag het Tobit onthou van die geld wat hy aan Gabael in Rages in Medië toevertrou het. 2Hy het vir homself gesê: “Kyk, ek het gevra vir die dood. Hoekom roep ek nie my seun Tobias nie en lig hom in oor hierdie geld voor ek sterf?” 3Hy roep toe sy seun Tobias en hy het na hom gekom. Tobit het vir hom gesê: “Jy moet my op gepaste wyse begrawe. Jy moet jou moeder eer en haar solank sy leef nie in die steek laat nie. Doen wat haar geval en moenie haar in enige opsig hartseer maak nie. 4Dink aan haar, kind, want sy het baie gevare die hoof gebied toe sy jou verwag het. Wanneer sy te sterwe kom, moet jy haar by my in een graf begrawe.
5“Dink elke dag aan die Here, kind. Moenie begeer om sonde te doen en sy gebooie te oortree nie. Doen wat reg is al die dae van jou lewe en moenie op die paaie van onreg loop nie. 6Want almal wat waarheid nastreef, sal voorspoedig wees in wat hulle doen.
7“Neem uit wat jy besit om aalmoese te gee aan almal wat reg doen. Moenie met 'n suinige oog kyk wanneer jy aalmoese gee nie. Moenie jou gesig wegdraai van enige arm mens nie en God sal nie sy gesig van jou af wegdraai nie. 8Gee volgens wat jy het. As jy baie het, gee aalmoese daaruit. As jy min het, moenie bang wees om uit die min wat jy het, aalmoese te gee nie. 9Want dan sal jy vir jouself 'n goeie skat wegsit vir die dag van teenspoed. 10Die gee van 'n aalmoes red 'n mens immers uit die dood en verhoed dat jy in die duisternis ingaan. 11Vir hulle wat 'n aalmoes gee, is dit in die oë van die Allerhoogste 'n goeie gawe.
12“Kind, pasop vir alle onsedelikheid. Die belangrikste is: Neem 'n vrou uit die nageslag van jou voorvaders. Moenie 'n vreemde vrou neem wat nie uit die stam van jou vader is nie, want ons is kinders van die profete. Kind, dink aan Noag, Abraham, Isak, Jakob, ons voorouers van ouds, en dat hulle almal vroue uit hulle familie geneem het, dat hulle in hulle kinders geseënd is en dat hulle nageslag die land sal beërf. 13En nou, kind, wees lief vir jou broers; moenie te hooghartig wees om vir jou 'n vrou te neem uit die broers en seuns en dogters van jou volk nie.
“Hooghartigheid lei tot vernietiging en groot wanorde, luiheid tot verlies en groot armoede. Ja, luiheid is die moeder van honger. 14Moenie die loon van enige mens wat vir jou werk, terughou tot die volgende môre nie, maar betaal hom dadelik, en as jy God dien, sal jy beloon word.
“Let noukeurig op alles wat jy doen, kind, en laat jou opvoeding blyk uit jou hele lewenswyse. 15Moenie dit waarvan jy 'n afkeer het, aan iemand anders doen nie. Moenie wyn drink tot jy dronk is nie. Moenie dat dronkenskap 'n metgesel op jou pad word nie.
16“Gee van jou kos vir dié wat honger is en van jou klere vir dié wat naak is. Gee alles waarvan jy in oormaat het as aalmoese en moenie dat jou oog afgunstig wees op dit wat jy as aalmoese gee nie. 17Sit van jou kos op die grafte van die regverdiges, maar moet niks daarvan vir die sondaars gee nie.
18“Soek raad by elke wyse mens en moenie enige nuttige raad minag nie. 19Loof die Here God by elke geleentheid en vra Hom dat jou weë reguit gemaak sal word en dat al jou paaie en planne tot voorspoed sal lei. Geen nasie het raad nie ... die Here sal vir hulle goeie raad gee. Die Here stort wie Hy wil tot diep onder in Hades.
“En nou, kind, onthou hierdie voorskrifte; moenie dat hulle uit jou hart uitgewis word nie.
20“En nou, kind, laat ek jou vertel dat ek tien talent silwer toevertrou het aan Gabael, seun van Gabri, in Rages in Medië. 21Kind, moenie angstig wees omdat ons arm geword het nie. As jy ontsag het vir God en jou weerhou van elke vorm van sonde en doen wat Hom behaag, sal jy meer as genoeg hê.”