Onsterflikheid as gawe van Wysheid
1Wees lief vir geregtigheid,
regters van die aarde;
dink in goeie gesindheid
oor die Here na
en soek Hom met 'n opregte hart.
2Want Hy word gevind
deur hulle wat Hom
nie op die proef stel nie,
en Hy verskyn aan hulle
wat Hom nie wantrou nie.
3Slinkse gedagtes skei mense
immers van God
en wanneer sy mag getoets word,
stel dit dwase mense aan die kaak.
4Want Wysheid sal nie 'n siel
wat kwaad beplan, besoek nie,
en sy sal nie in 'n liggaam
wat deur sonde beheer word,
gaan woon nie.
5Want 'n heilige en gedissiplineerde gees
sal wegvlug van bedrog,
weggaan van onverstandige gedagtes
en skaam word wanneer onreg nader kom.
6Wysheid is immers
'n mensliewende gees
en sal nie iemand wat laster
oor sy lippe laat kom,
ongestraf laat bly nie.
Want God is die kenner van sy niere
en die ware ondersoeker van sy hart
en die hoorder van sy tong.
7Die Gees van die Here
vul immers die wêreld
en die Een wat alles bymekaarhou,
weet wat gesê word.
8Daarom sal niemand ooit
ongemerk onregverdige
dinge sê nie,
en sal geregtigheid
tydens 'n teregwysing
nooit by so iemand verbygaan nie.
9Want die planne
van die goddelose mens
sal ondersoek word
en dit wat hy sê,
sal aan die Here meegedeel word,
sodat hy oor sy oortredings
tereggewys kan word.
10'n Ywerige oor hoor
immers alle dinge
en die klank
van 'n aanhoudende gemor
kan nie weggesteek word nie.
11Pas dus op vir 'n vergeefse gemor
en weerhou julle tonge van kwaadpraat,
want nie 'n enkele woord
sal sonder gevolge
in die geheim geuiter word nie,
en 'n beswadderende mond
vernietig die siel.
12Moenie die dood najaag
deur julle afvallige lewe nie,
en moenie vernietiging uitlok
deur julle optrede nie.
13Want God het die dood
nie gemaak nie,
en oor die vernietiging van die lewendes
verheug Hy Hom nie.
14Hy het immers alle dinge geskep
sodat dit kan bestaan,
en die skeppende kragte
in die heelal is heilsaam.
Daar is geen vernietigende gif
in hulle nie
en Hades het nie 'n vesting
op aarde nie.
15Geregtigheid is immers onsterflik.
16Goddeloses nooi Hades
egter uit deur hulle woorde en dade.
Omdat hulle hom as 'n vriend beskou,
kwyn hulle weg;
hulle gaan 'n ooreenkoms met hom aan,
omdat hulle dit verdien
om by hom te hoort.