1Wysheid het hulle dade
voorspoedig gemaak
deur die hand
van 'n heilige profeet.
2Hulle het deur 'n onbewoonde
woestyn getrek,
en hulle tente opgeslaan
op onbegaanbare plekke.
3Hulle het hulle teenstanders weerstaan
en hulle vyande afgeweer.
4Hulle het dors geword
en U aangeroep,
en hulle is water gegee uit 'n steil rots;
hulle dors is geles uit 'n harde klip,
5want wat 'n straf
vir hulle vyande was,
het hulle in hulle nood bevoordeel.
6In die plek van die bron
van 'n standhoudende rivier
– troebel gemaak
en met bloed besoedel,
7wat gedien het as straf
vir die opdrag dat die kindertjies
doodgemaak moes word –
het U egter vir hulle onverwags
oorvloedig water gegee.
8Deur die dors wat hulle toe gely het,
het U aangetoon hoe U
hulle vyande gestraf het.
9Want toe hulle op die proef gestel is
– alhoewel hulle
met deernis getugtig is –
het hulle begryp
hoe die goddeloses veroordeel
en met toorn gefolter is.
10Want aan die een kant het U
soos 'n vader u eie mense
vermanend getoets,
maar aan die ander kant
soos 'n wrede koning
die goddeloses veroordeel
en laat martel.
11Of hulle nou weg was
van die huis, of tuis,
hulle was ewe terneergedruk,
12want 'n dubbele verdriet
het hulle oorweldig,
en hulle het gesug wanneer
hulle aan die verlede gedink het;
13want toe hulle gehoor het
dat u volk bevoordeel is
deur die plae waarmee
hulle getref is,
het hulle die Here daarin gesien.
14Want die man wat hulle destyds
as vondeling spottend verwerp het,
oor hom was hulle na afloop
van die gebeure verwonderd;
hulle het 'n ander dors as dié
van die regverdiges gehad.
Oor goddelike genade
15In ruil vir hulle sinlose
gedagtes van onreg
waardeur hulle verlei is,
en hulle verering
van redelose reptiele
en veragtelike ongediertes,
het U 'n menigte redelose diere
as straf na hulle gestuur,
16sodat hulle kon insien:
Waardeur 'n mens sondig,
daardeur word jy gestraf.
17Want u almagtige hand
wat die wêreld geskep het
uit ongevormde materie,
was nie onmagtig
om 'n klomp bere
of kwaai leeus
op hulle los te laat nie,
18of ongekende, nuut geskepte,
verwoede wilde diere,
wat asemstote vol vuur uitblaas,
of rookwalms snuiwend versprei,
of verskriklike vonke
uit hulle oë laat blits.
19Nie net besering deur die diere
kon hulle vernietig nie,
maar bloot die diere
se angswekkende voorkoms.
20Selfs hiersonder kon hulle
deur 'n enkele asemstoot
ten gronde gaan,
vervolg deur geregtigheid
deur u kragtige asem.
Maar U het alles georden
volgens maat en getal en gewig.
21Groot krag is immers altyd
tot u beskikking
en wie sal die sterkte van u arm
kan weerstaan?
22Want die hele wêreld is in u oë
soos iets wat die weegskaal
liggies laat beweeg,
en soos 'n doudruppel
wat in die vroeë oggend
op die grond val.
23Maar U ontferm U oor almal,
omdat U tot alles in staat is,
en U sien mense se sondes oor
sodat hulle tot bekering kan kom.
24Want U is lief vir alles wat bestaan
en verag niks van wat U
gemaak het nie;
want as U iets sou haat,
sou U dit nie gevorm het nie.
25En hoe sou iets kon bly bestaan
as dit nie u wil was nie,
of behoue kon bly
as dit nie deur u woord
ontstaan het nie?
26Maar U spaar alle dinge,
omdat dit aan U behoort, o Here,
Liefhebber van alles wat lewe.