1Maar U, ons God,
is goedhartig,
waaragtig en lankmoedig,
en U bestuur alles met ontferming.
2Want selfs wanneer ons sondig,
behoort ons aan U,
aangesien ons u krag ken.
Maar ons sal nie sondig nie,
omdat ons bewus is daarvan
dat ons as u eiendom gereken word.
3Want om U te ken,
is volkome geregtigheid,
en om u krag te ken,
is die bron van onsterflikheid.
4Die vals voorstellings van mense
het ons immers nie verlei nie,
ook nie die vrugtelose arbeid
van skilders nie –
'n vorm wat met bonte kleure
beskilder is.
5Die aanskoue daarvan
wek by dwase 'n hunkering,
'n verlange na die lewelose
vorm van 'n dooie beeld.
6Die mense wat dit maak
en liefhet en vereer,
is liefhebbers van bose dinge
en is sulke vals verwagtings waardig.
7Want ook 'n pottebakker
brei die sagte klei met moeite
en vorm elke stuk afsonderlik
tot 'n gebruiksvoorwerp vir ons.
Tog vorm hy uit dieselfde klei
voorwerpe wat dien
vir sowel rein gebruike
as vir die teendeel,
en dit alles sonder onderskeid.
Wat die gebruiksfunksie
van elkeen van hulle is,
lê in die oordeel van die kleibewerker.
8En hy vorm met bose arbeid
'n nuttelose god uit dieselfde klei,
terwyl hy self kort tevore
uit grond ontstaan het
en ná 'n rukkie terugkeer
tot dit waaruit hy geneem is,
wanneer sy siel,
wat aan hom geleen is,
van hom teruggeëis sal word.
9Maar sy bekommernis is nie
dat hy siek sal word nie,
ook nie dat sy lewe kortstondig is nie,
maar dat hy moet meeding met
goudsmede en silwersmede,
en kopersmede moet navolg,
en dit dan 'n eer ag dat hy
vals voorwerpe vervaardig.
10Sy hart is as en sy hoop
is minder werd as grond;
ja, sy lewe is minder werd as klei,
11omdat hy nie die Een erken het
wat hom gevorm het nie,
en wat 'n aktiewe siel
in hom geplaas
en 'n lewensasem
in hom geblaas het.
12Inteendeel, hulle ag ons lewe
'n speletjie,
en ons bestaan
'n winsgewende fees,
want 'n mens moet, so sê hulle,
'n bestaan maak,
op watter manier ook al,
selfs op 'n verkeerde manier.
13Want so 'n mens weet beter
as almal dat hy sondig
wanneer hy uit natuurlike
stowwe sowel voorwerpe
wat maklik breek
as gekerfde beelde maak.
14Maar die vyande van u volk,
wat u volk verdruk het,
is almal uiters dwaas
en ellendiger as die lewe
van 'n suigeling,
15omdat hulle al die heidense
afgodsbeelde as gode beskou.
Die afgodsbeelde kan nie hulle
oë gebruik om te sien nie,
en nie hulle neuse om lug
in te asem nie,
ook nie hulle ore om te hoor nie;
ook nie vingers aan hulle hande
om te voel nie,
en hulle voete is nutteloos
om mee te loop.
16'n Mens het hulle immers gemaak;
iemand met 'n geleende gees
het hulle gevorm.
Want geen mens kan 'n god vorm
wat aan homself gelyk is nie.
17Maar omdat hy sterflik is,
skep hy met sy wettelose
hande iets wat dood is.
Hy is immers beter as
die voorwerpe wat hy vereer;
hy het wel lewe ontvang,
maar hulle nooit nie.
18En die mees haatlike diere
word vereer,
want in vergelyking met
die ander diere
is hulle veel slegter daaraan toe
vanweë hulle gebrek aan rede.
19En hulle is selfs nie mooi
sodat 'n mens hulle sou begeer,
soos die geval is
met die voorkoms
van ander diere nie,
maar ook die lof van God
en sy seën
het by hulle verbygegaan.