1Groot is u oordeel inderdaad
en moeilik verwoordbaar;
dáárom het mense wat hulle
nie laat onderrig het nie
op 'n dwaalspoor beland.
2Want net toe die wettelose
mense gedink het hulle het
die heilige volk in hulle mag,
word hulle self gevangenes
van die duisternis.
In die voetboeie geslaan
van 'n eindelose nag,
lê hulle ingekluister onder eie dak,
verban van die ewige Voorsienigheid.
3Want hulle wat meen
dat hulle geheime sondes
onder 'n donker bedekking
van vergetelheid nie ontdek
sou word nie,
is verward en hewig ontsteld,
en word geteister deur drogbeelde.
4Selfs nie die diepste skuiling
wat hulle beskerm het,
kon hulle van vrees vrywaar nie:
angswekkende dreunings
het rondom hulle weerklink
en droewige drogbeelde
met somber gesigte het verskyn.
5Vuur was geheel en al
nie kragtig genoeg om lig te gee nie,
nóg kon die skittering
van vlammende sterre
dit regkry om daardie droewige
nag op te helder.
6Daar het net vir hulle
'n vreesaanjaende vlammesee
geskyn wat vanself
ontbrand het,
en in hulle angs het hulle dit
wat hulle kon sien,
as iets ergers beskou
as daardie verskynsel
wat hulle nie kon sien nie.
7Die huigelary van hulle
towerkuns het platgeval,
en hulle gespog oor hulle kennis
is met minagting ontmasker:
8Hulle wat belowe het dat hulle
vrese en ontsteltenis
uit 'n siek siel kan verdryf,
het self gely onder
'n belaglike vrees.
9Want selfs al was daar niks
ontstellends wat hulle bang
gemaak het nie,
het hulle, verskrik
deur die verbytrek
van gevaarlike gediertes
en die gesis van slange,
bewend vergaan van angs
en geweier om selfs
na die lug te kyk,
waar daar nêrens
enige ontvlugting was nie.
10Want boosheid is iets
lafhartigs wanneer dit
deur sy eie getuienis
veroordeel word;
gekwel deur sy eie gewete,
veronderstel dit altyd die ergste.
11Vrees is immers niks anders nie
as die prysgee van die steun
wat die rede bied;
12en innerlike verwagting,
omdat dit swakker is,
verkies onkunde oor
wat die pyn veroorsaak.
13Terwyl hulle dié nag,
wat werklik sonder krag was
en opgekom het uit
die dieptes van 'n kragtelose Hades,
dieselfde slaap geslaap het,
14is hulle enersyds deur tekens
van drogbeelde voortgejaag,
en andersyds verlam deur
die verraad van hulle siel,
want 'n skielike en onverwagse
vrees het hulle oorval.
15So is dit dan: Wie geval het
waar hy eens was,
is gevange gehou,
toegesluit binne 'n tronk
sonder tralies.
16Of dit nou 'n boer
of 'n herder was,
of 'n arbeider, moeisaam aan
die werk in die wildernis –
hy is oorval en moes wag
op sy onontwykbare lot,
want almal is deur een ketting
van duisternis vasgebind.
17Of daar nou die fluistering
van wind was,
of die soet gesang van voëls
in wyd uitgespreide takke,
of die ritmiese geruis
van sterk vloeiende water,
of die harde gerammel
van rotse wat na benede rol,
18of die onsigbare draf
van huppelende diere,
of die brullende klank
van die gevaarlikste wilde diere,
of die eggo wat weergalm
uit die holtes van berge –
dit alles het hulle verlam van vrees.
19Die hele wêreld was immers
gebaai in glansende lig
en het ongestoord voortgegaan
met sy werksaamhede.
20Slegs oor daardie mense was
'n benouende nag uitgesprei,
'n beeld van die duisternis
wat op hulle gewag het;
maar hulle gemoedere was
swaarder as die duisternis.