1Dan sal die regverdige
met volle vrymoedigheid
staan voor diegene
wat hom verdruk het
en sy harde werk minag.
2Wanneer hulle hom sien,
sal 'n groot vrees hulle beetpak,
en hulle sal verbaas wees
oor sy onverwagse redding.
3Hulle sal vol berou
met mekaar praat
en met 'n bedrukte gees
sal hulle kla en sê:
4“Dit is die man vir wie
ons vroeër uitgelag het
en wat vir ons 'n toonbeeld
van verguising was –
hoe dwaas was ons nie!
Ons het gedink sy lewe
is waansinnig
en sy uiteinde sonder eer.
5Hoe kom dit dat hy
onder die kinders van God
gereken word,
en sy lot onder die heiliges?
6Ons het dus van die pad
van die waarheid afgedwaal –
en die lig van geregtigheid het
oor ons nie geskyn nie
en die son het vir ons
nie opgegaan nie.
7Ons het versadig geraak
van die paaie
van wetteloosheid
en vernietiging
en ons het deur ongebaande
woestyne gereis,
maar die pad van die Here
het ons nie leer ken nie.
8Wat het ons hoogmoed
ons gebaat?
Wat het die rykdom
met sy arrogansie
ons in die sak gebring?
9Al daardie dinge het soos
'n skaduwee verbygegaan,
en soos 'n boodskap wat verbysnel;
10soos 'n skip wat deur
golwende water vaar,
en wanneer dit verbygegaan het,
geen spoor daarvan te vind is nie
en geen pad van sy kiel
deur die golwe nie;
11of soos wanneer 'n voël
deur die lug vlieg
en geen teken van sy vlug
gevind word nie
– die ligte wind,
geslaan deur die slag van sy vlerke
en gesplyt deur die krag van sy vlug,
word deurklief
deur die beweging van sy vlerke
en daarna word geen teken
van sy koms daarin gevind nie –
12of soos wanneer 'n pyl
na 'n teiken geskiet word,
die lug deurklief word
en dadelik weer bymekaarkom
sodat 'n mens nie van sy
deurgang weet nie.
13Só is ons ook gebore
en het ons vergaan
en het ons geen teken van deug
gehad om te wys nie,
maar is ons verteer
deur ons boosheid.”
14Want die hoop van die goddelose
is soos kaf wat deur die wind
verstrooi word
en soos ligte ryp wat deur
'n stormwind verdryf word.
Soos rook word dit
deur die wind weggewaai,
vervaag dit soos die herinnering
aan 'n besoeker
wat slegs een dag oorbly.
15Maar die regverdiges leef vir altyd
en hulle beloning is in die Here;
die Allerhoogste sorg vir hulle.
16Daarom sal hulle 'n sierlike paleis
en 'n pragtige kroon ontvang
uit die hand van die Here,
want Hy sal hulle
met sy regterhand beskerm
en hulle met sy arm
soos 'n skild beskut.
17Hy sal sy ywer
as wapenrusting opneem
en van die skepping
'n wapen maak
om sy vyande af te weer.
18Hy sal geregtigheid
as borsplaat aantrek,
en Hy sal ongeveinsde oordeel
as helm opsit.
19Hy sal onoorwinlike heiligheid
as skild neem
20en sy meedoënlose woede slyp
tot 'n swaard
en die heelal sal saam met Hom
teen die dwase mense veg.
21Goed gerigte weerligstrale
sal wegskiet
en soos uit 'n goedgespande
wolkeboog op die teiken afpyl,
22en uit 'n katapult sal haelstene
vol woede geslinger word.
Die water van die see
sal teen hulle woed
en riviere sal meedoënloos
oor hulle spoel.
23'n Sterk wind sal teen hulle opkom
en soos 'n stormwind
sal dit hulle uitwan.
Wetteloosheid sal die hele aarde verwoes
en misdadigheid sal die trone
van maghebbers omgooi.