Paulus se onbaatsugtige arbeid
1Julle weet tog, broers, dat ons besoek aan julle nie vergeefs was nie; 2maar alhoewel ons, soos julle weet, vroeër in Filippi gely het en beledig is, het ons vrymoedigheid in ons God gehad om julle van God se evangelie te vertel, al was dit te midde van baie teenstand. 3Want ons pleidooi is nie uit dwaling, nie uit onsuiwerheid en nie met bedrog nie; 4maar, soos ons deur God goedgekeur is, sodat die evangelie aan ons toevertrou kon word, so praat ons ook nie om mense tevrede te stel nie, maar God, Hy wat ons harte toets. 5Want, soos julle weet, het ons ons nog nooit met vleiery opgehou nie, en ook nie met valse motiewe van inhaligheid nie – God is ons getuie! 6Ook het ons nie die eer van mense gesoek nie, nóg van julle, nóg van ander, 7alhoewel ons as •apostels van •Christus eise kon stel. Maar ons het klein kindertjies in julle midde geword. Soos wanneer 'n moeder haar eie kinders voed en koester, 8en omdat ons op hierdie wyse na julle verlang, so het ons dit goedgedink om nie net die evangelie van God aan julle mee te deel nie, maar selfs ook ons eie lewens – omdat julle vir ons geliefd geword het. 9Julle onthou tog ons moeite en harde werk, broers; terwyl ons bedags en snags gewerk het, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. 10Julle is getuies, en ook God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons geword het vir julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons vir elkeen van julle soos 'n vader vir sy eie kinders was, 12terwyl ons julle vermaan en bemoedig, en aanspoor om 'n lewe te lei wat dié God waardig is wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid geroep het.
13En daarom dank ons God onophoudelik dat julle, nadat julle die woord van God van ons ontvang het, dit nie as 'n woord van mense aanvaar het nie, maar waarlik as die Woord van God – dié Woord wat werksaam is in julle wat glo. 14Want julle, broers, het die voorbeeld gevolg van die •gemeentes van God in Christus Jesus wat in Judea is, omdat julle dieselfde dinge onder julle eie mense gely het as hulle onder die Judeërs, 15hulle wat die Here Jesus en die profete doodgemaak, en ons ernstig vervolg het, wat God nie tevrede stel nie, en vyandig teenoor alle mense is, 16en wat ons verhinder om met die heidene te praat, sodat hulle verlos kan word. So het die Jode se sondes in elke opsig hulle volle maat bereik, en die oordeel het uiteindelik oor hulle gekom!
17Maar, broers, aangesien ons vir 'n kort tydjie van julle geskei is – in persoon, maar nie in ons harte nie – het ons werklik met groot verlange alles in ons vermoë gedoen om julle van aangesig tot aangesig te sien. 18Daarom wou ons na julle kom – ek, Paulus, weer en weer – maar Satan het ons verhinder. 19Want watter hoop of vreugde of kroon van roem, behalwe juis julle, sal daar vir ons by die Here Jesus wees wanneer Hy kom? 20Want julle is ons eer en vreugde!