Agas koning van Juda
1Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here soos sy voorvader Dawid nie. 2Hy het die paaie van die konings van Israel gevolg, en selfs gegote beelde gemaak vir die Baäls. 3Hy is die een wat offers verbrand het in die Ben-Hinnomdal, en sy seuns in die vuur verbrand het, soos die afstootlike gebruike was van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het. 4Hy het geslag en offers verbrand by die offerhoogtes, op die heuwels en onder elke skaduryke boom. 5Die Here sy God het hom toe oorgegee in die hand van die koning van Aram. Hulle het hom verslaan, en 'n groot aantal van hulle as gevangenes weggevoer en na Damaskus geneem. Ook in die hand van die koning van Israel is hy oorgegee, en dié het hom 'n groot nederlaag toegedien. 6Peka, seun van Remalja, het in Juda op een dag honderd-en-twintigduisend doodgemaak, almal onverskrokke manne, omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het.
7Sigri, 'n held uit Efraim, het Maäseja, die seun van die koning, en Asrikam, hofmeester van die paleis, en Elkana, die tweede in bevel onder die koning, doodgemaak. 8Die Israeliete het tweehonderdduisend vroue, seuns en dogters van hulle volksgenote as gevangenes weggevoer. Ook oorlogsbuit het hulle in oorvloed van hulle geroof en dit na Samaria geneem.
9In Samaria was daar 'n profeet van die Here; sy naam was Oded. Hy het uitgegaan, die leër wat op pad was na Samaria tegemoetgeloop, en vir hulle gesê: “Kyk, vanweë die woede van die Here, die God van julle voorouers, oor Juda, het Hy hulle in julle hand gegee; en julle het van hulle doodgemaak met 'n onbeheersde woede wat ten hemel skrei. 10En nou dink julle daaraan om sowaar die mense van Juda en Jerusalem as slawe en slavinne aan julle te onderwerp. Is dit dan net julle by wie daar nie sondeskuld teenoor die Here julle God is nie? 11Luister nou na my! Stuur die gevangenes wat julle van julle volksgenote geneem het, terug, want die brandende toorn van die Here rus op julle.”
12Sommige hoofde van die Efraimiete, Asarja, seun van Joganan, Beregja, seun van Mesillemot, Hiskia, seun van Sallum, en Amasa, seun van Gadlai, het standpunt ingeneem teen dié wat van die militêre veldtog af daar aangekom het, 13en vir hulle gesê: “Julle mag nie die gevangenes hierheen bring nie, want dit sal vir ons net skuld teenoor die Here bring. Wat julle beoog, sal net dien om ons sonde en skuld nog meer te maak, en dit terwyl ons skuldlas al so groot is, en daar 'n brandende toorn op Israel rus.”
14Die gewapende manne het toe in die teenwoordigheid van die •aanvoerders en die hele strydmag afstand gedoen van die gevangenes en die buit. 15Die manne wat vroeër by die naam genoem is, het opgestaan, die gevangenes geneem, en almal wat kaal was, aangetrek met wat in die buit was. Hulle het hulle aangetrek en vir hulle skoene gegee, hulle laat eet en drink, hulle met olie versorg en hulle op donkies vervoer – almal wat strompelend geloop het – en hulle na Jerigo, die Palmstad, tot by hulle volksgenote geneem. Toe het hulle teruggekeer na Samaria.
16In daardie tyd het koning Agas die hulp ingeroep van die konings van Assirië. 17Weer het Edomiete die land binnegeval, Juda aangeval en gevangenes weggevoer, 18en Filistyne het 'n aanval geloods op die dorpe van die Sjefela en die Negev van Juda. Hulle het Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Sogo met sy omliggende dorpies, Timna met sy omliggende dorpies en Gimso met sy omliggende dorpies ingeneem en daar gaan woon. 19Ja, die Here het Juda verneder as gevolg van Agas, koning van Israel, omdat hy Juda losbandig gemaak het en uiters ontrou was teenoor die Here. 20Tiglat-Pilneser, koning van Assirië, het teen hom opgetrek, hom in die noute gebring en hom nie bygestaan nie. 21Alhoewel Agas die huis van die Here, die koninklike paleis en die huise van die •hoë amptenare gestroop en dit vir die koning van Assirië gegee het, het dit hom niks gehelp nie.
22In die tyd toe hy in die noute was, was hy, koning Agas, selfs meer ontrou aan die Here. 23Hy het offers geslag vir die gode van Damaskus, hulle wat hom verslaan het. Hy het gedink: Omdat die gode van die konings van Aram hulle help, sal ek vir hulle offers slag, sodat hulle my kan help. Maar dit was juis hulle wat sy ondergang bewerk het, en so ook dié van die hele Israel.
24Agas het die toebehore in die huis van God bymekaargemaak en die toebehore van die huis van God stukkend geslaan. Hy het die deure van die huis van die Here gesluit en vir hom altare opgerig op elke straathoek in Jerusalem. 25In elke enkele dorp van Juda het hy offerhoogtes opgerig om vir ander gode offers te verbrand, en die Here, die God van sy voorouers, uitgetart.
26Sy verdere geskiedenis en al sy ondernemings, die vroeëre en latere geskiedenis, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Juda en Israel. 27Agas het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die stad, in Jerusalem begrawe; ja, hulle het hom nie na die grafte van die konings van Israel geneem nie. Hiskia, sy seun, het in sy plek koning geword.