Nebukadnesar se droom
1In die tweede jaar van Nebukadnesar se regering het Nebukadnesar drome gedroom. Sy gees was ontsteld, en sy slaap was daarmee heen. 2Die koning gee toe opdrag dat die waarsêerpriesters, goëlaars, towenaars en Galdeërs ontbied word om vir die koning sy drome uit te lê. Hulle het gekom en voor die koning gaan staan.
3Die koning het vir hulle gesê: “Ek het 'n droom gehad, en my gees is ontsteld daaroor om te weet wat die droom was.” 4Die Galdeërs sê toe vir die koning (Aramees): “O koning, leef vir ewig! Vertel die droom vir u dienaars, dan sal ons die uitleg gee.” 5Die koning antwoord en sê toe vir die Galdeërs: “Die saak staan vas by my. As julle nie aan my die droom en sy uitleg bekend kan maak nie, sal julle ledemate afgekap word, en van julle huise sal vullishope gemaak word. 6As julle egter die droom en sy uitleg bekend maak, sal julle geskenke, belonings en groot eer van my ontvang. Daarom, maak nou die droom en sy uitleg bekend.”
7Hulle het 'n tweede keer geantwoord en gesê: “Die koning moet die droom vir sy dienaars vertel, dan sal ons die uitleg gee.” 8Daarop antwoord die koning en sê: “Ek weet sonder twyfel dat julle probeer tyd wen, omdat julle gesien het dat die saak by my vasstaan, 9en dat, as julle aan my nie die droom bekend kan maak nie, net een wet vir julle geld! Gevolglik het julle oor 'n vals en leuenagtige verklaring ooreengekom, om dié aan my oor te dra, totdat die tyd gunstiger is. Daarom, vertel vir my die droom! Ek sal dan weet of julle sy uitleg aan my bekend kan maak.”
10Die Galdeërs het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Daar is nie 'n mens op aarde wat in staat is om aan die koning se versoek te voldoen nie. Daarom het nog geen koning, hoe groot en magtig ook al, so iets van enige waarsêerpriester of towenaar of Galdeër gevra nie. 11Die saak wat die koning verlang, is moeilik, en daar is niemand wat dit vir die koning kan uitlê nie, behalwe die gode, wie se woning nie by sterflinge is nie.”
12Hieroor het die koning hom vererg, en hy was baie kwaad. Hy gee toe bevel dat al die wyses van Babilonië om die lewe gebring moet word. 13Die bevel is uitgevaardig: “Die wyses moet doodgemaak word!” Hulle soek toe ook Daniël en sy metgeselle om hulle dood te maak. 14Daarop het Daniël met raad en goeie oordeel gereageer teenoor Ariog, die •aanvoerder van die koning se lyfwag, wat uitgetrek het om die wyses van Babilonië dood te maak. 15In sy reaksie het hy vir Ariog, die gevolmagtigde van die koning, gevra: “Waarom is die bevel van die kant van die koning dan so streng?” Daarop het Ariog die saak aan Daniël verduidelik, 16waarna Daniël ingegaan en vir die koning gevra het dat tyd aan hom gegun moes word om die uitleg van die droom aan die koning bekend te maak. 17Toe het Daniël na sy huis gegaan en die saak aan sy metgeselle Gananja, Misael en Asarja meegedeel, 18sodat hulle om ontferming kon pleit by die God van die hemel oor hierdie geheim, en Daniël en sy metgeselle nie om die lewe gebring sou word saam met die res van die wyses van Babilonië nie.
19Aan Daniël is die geheim toe in 'n nagtelike visioen geopenbaar, waarop Daniël die God van die hemel geprys het. 20Daniël het in sy reaksie gesê:
“Mag die Naam van God
van ewigheid tot ewigheid
geprys word,
Hy aan wie die wysheid en mag
behoort!
21Hy verander tye en tydperke;
Hy sit konings af
en stel konings aan.
Hy gee wysheid aan wyses
en kennis aan wie insig het.
22Hy openbaar dit wat diep
en verborge is;
Hy weet wat in die duisternis is.
Die lig is by Hom tuis.
23U, die God van my voorouers,
loof en besing ek;
want U het my wysheid en krag gegee,
en nou aan my bekend gemaak
wat ons van U afgesmeek het –
die saak van die koning het U
aan ons bekend gemaak.”
24Daarop het Daniël ingegaan na Ariog, vir wie die koning aangestel het om die wyses van Babilonië om die lewe te bring. Hy het so vir hom gesê: “Moenie die wyse manne van Babilonië om die lewe bring nie; bring my voor die koning, dan sal ek vir die koning die uitleg gee.” 25Ariog het toe in groot haas vir Daniël voor die koning gebring en so vir hom gesê: “Ek het 'n man gevind onder die ballinge van Juda wat die uitleg aan die koning bekend kan maak.”
26Die koning het daarop geantwoord deur vir Daniël, wie se naam Beltsasar was, te sê: “Is jy in staat om die droom wat ek gehad het en sy uitleg aan my bekend te maak?” 27Daniël het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Die geheim waaroor die koning navraag doen, kan die wyses, towenaars, waarsêerpriesters en voorspellers nie vir die koning uitlê nie. 28Daar is egter 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het aan u, koning Nebukadnesar, bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom, die visioene in u kop terwyl u in u bed was, is die volgende: 29U, o koning – u gedagtes wat in u bed by u opgekom het, gaan oor wat hierna sal gebeur. Hy wat geheime openbaar, het aan u bekend gemaak wat sal gebeur. 30En wat my betref, hierdie geheim is aan my geopenbaar, nie deur wysheid wat by my meer sou wees as by al die lewendes nie, maar ter wille daarvan dat die uitleg aan die koning bekend gemaak sal word, en u die gedagtes van u hart kan ken. 31U, o koning, het 'n visioen gehad: Kyk, daar was 'n groot beeld. Hierdie beeld was groot, en sy glans buitengewoon. Dit het voor u gestaan; die voorkoms daarvan was vreesaanjaend. 32Hierdie beeld – sy kop was van die beste goud, sy bors en arms was van silwer, sy maag en heupe van koper, 33sy bene van yster, sy voete deels van yster en deels van klei. 34U het nog gekyk, toe daar 'n klip vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie. Dit het die beeld teen sy voete van yster en klei getref en verpletter. 35Daarop is die yster, koper, silwer en goud saam verpletter, en dit het geword soos kaf vanaf die dorsvloere in die somer. Die wind het dit weggewaai, en geen spoor daarvan kon gevind word nie. Maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot berg geword en die hele aarde gevul. 36Dit was die droom, en oor die uitleg daarvan sal ons nou voor die koning praat. 37U, o koning, is die koning van die konings aan wie die God van die hemel die koningskap, die mag, die krag en eer gegee het. 38Ja, waar ook al mense, die diere van die veld en die voëls van die hemel woon, het Hy hulle in u hand gegee. Hy het u as heerser oor hulle almal aangestel. U is die kop van goud. 39Ná u sal 'n ander koninkryk tot stand kom, geringer as u s'n, dan 'n ander, derde koninkryk van koper, wat oor die hele aarde sal heers. 40Die vierde koninkryk sal so sterk soos yster wees. Omdat yster alles verpletter en vermorsel, sal hierdie koninkryk, soos yster wat vergruis, al daardie ander verpletter en vergruis. 41Dat u gesien het dat die voete en tone deels van pottebakkersklei en deels van yster is, dui op 'n verdeelde koninkryk. Van die bestendigheid van die yster sal daarin wees, want u het die yster gemeng met die klam klei gesien. 42En die tone van die voete wat deels van yster en deels van klei is – 'n deel van die koninkryk sal sterk wees, en 'n deel daarvan sal breekbaar wees. 43Dat u die yster gemeng met die klam klei gesien het, dui daarop dat die mense deur ondertrouery vermeng sal raak. Hulle sal egter nie vanself aan mekaar vaskleef nie, net soos yster nie met klei meng nie. 44In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan 'n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot 'n einde bring, en dit sal standhou vir ewig. 45U het daarom gesien dat 'n klip uit die berg vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie, en dat dit die yster, koper, klei, silwer en goud verpletter. 'n Groot God het aan die koning bekend gemaak wat hierna gaan gebeur. Die droom is waar en die uitleg daarvan is betroubaar.”
46Daarop het koning Nebukadnesar neergeval met sy gesig teen die grond en aan Daniël eer betoon. Hy het opdrag gegee dat 'n •graanoffer en offers met 'n aangename geur aan hom gebring moet word. 47Die koning het in sy reaksie vir Daniël gesê: “Sowaar, julle God, Hy is die God van die gode en die Heer van die konings en die een wat geheime openbaar, want jy kon hierdie geheim openbaar.”
48Die koning het Daniël toe in 'n hoë pos aangestel en aan hom baie groot geskenke gegee. Hy het hom as heerser aangestel oor die hele provinsie Babel, en as landvoog bo al die wyses van Babilonië. 49Daniël het 'n versoek tot die koning gerig, en dié het toe vir Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die administrasie van die provinsie Babel. Daniël het egter in die koninklike hof aangebly.