Nebukadnesar se belydenis
1“Koning Nebukadnesar aan alle volke, nasies en taalgroepe wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees!
2“Dit is vir my goed om die tekens en wonders wat die Allerhoogste God aan my gedoen het, openlik bekend te maak.
3“Sy tekens –
hoe groot is hulle nie,
en sy wonders –
hoe magtig is hulle nie!
Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk,
en sy heerskappy is van geslag
tot geslag.
4“Ek, Nebukadnesar, was sorgeloos in my huis en voorspoedig in my paleis. 5Ek het 'n droom gehad, en dit het my verskrik. Die droombeelde in my bed en die visioene in my kop het my ontstel. 6'n Bevel is deur my uitgevaardig dat al die wyses van Babilonië voor my gebring moes word, sodat hulle die uitleg van die droom aan my bekend kon maak. 7Toe die waarsêerpriesters, die towenaars, die Galdeërs en voorspellers gekom het, het ek die droom aan hulle vertel, maar sy uitleg kon hulle nie aan my bekend maak nie. 8Oplaas het voor my verskyn Daniël, wie se naam Beltsasar is – na aanleiding van die naam van my god – en in wie die gees van die heilige gode is. Ek het toe die droom aan hom vertel, 9‘Beltsasar, hoof van die waarsêerpriesters, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en geen geheim jou onderkry nie; die visioene in die droom wat ek gehad het – vertel wat die uitleg daarvan is. 10Wat die visioene in my kop daar in my bed betref: Ek het gesien, kyk, daar was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was geweldig. 11Die boom het gegroei en sterk geword. Sy hoogte het tot aan die hemel gereik, en hy was sigbaar tot aan die einde van die hele aarde. 12Sy blare was mooi en sy vrugte baie. Daar was kos aan hom vir almal. Onder hom het die diere van die veld skaduwee gevind, en in sy takke was die voëls van die hemel tuis – al wat leef, is deur hom gevoed. 13Daar in my bed het ek in die visioene in my kop gesien: Kyk, 'n boodskapper, 'n heilige, was besig om uit die hemel neer te daal. 14Terwyl hy hardop uitroep, het hy die volgende gesê:
“ ‘ “Vel die boom,
en kap sy takke af!
Stroop sy blare af,
en verstrooi sy vrugte!
Die diere moet onder hom uit vlug
en die voëls uit sy takke.
15Maar sy penwortel –
laat dit in die grond,
vasgeketting met yster en brons
in die groenigheid van die veld.
Van die dou van die hemel
sal hy nat word,
en met die diere sal hy die gras
van die aarde deel.
16Sy hart sal verander
weg van dié van 'n mens,
en die hart van 'n dier
sal aan hom gegee word.
Sewe tydperke sal oor hom heen gaan.
17Die bevel berus op die beslissing
van boodskappers,
en die saak is in opdrag van heiliges,
met die doel dat lewendes sal erken
dat die Allerhoogste mag het
oor 'n menslike koninkryk,
en dat Hy dit gee aan wie Hy wil.
'n Nederige onder die mense
sal Hy daaroor aanstel.”
18“ ‘Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. En jy, Beltsasar, vertel wat die uitleg is, aangesien geeneen van die wyses in my koninkryk daarin kon slaag om die uitleg aan my bekend te maak nie. Maar jy is in staat daartoe, omdat die gees van die heilige gode in jou is.’ ”
19Daarop was Daniël, wie se naam Beltsasar was, vir 'n kort tydjie verbysterd, en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning sê toe: “Beltsasar, moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie!”
Beltsasar het geantwoord en gesê: “My heer, was die droom maar vir u haters en sy uitleg vir u teenstanders bedoel! 20Die boom wat u gesien het,
“wat gegroei en sterk geword het,
waarvan die hoogte
tot aan die hemel reik,
wat oor die hele aarde sigbaar is,
21waarvan die blare mooi
en sy vrugte baie is,
met kos aan hom vir almal,
onder wie die diere van die veld woon,
en in wie se takke die voëls
van die hemel tuis is,
22“is u, o koning, wat gegroei en sterk geword het. U grootheid het gegroei en tot aan die hemel gereik, en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. 23En dat die koning 'n boodskapper, 'n heilige, gesien het wat uit die hemel neerdaal en sê, ‘Vel die boom en vernietig dit, maar laat die penwortel in die grond, vasgeketting met yster en brons in die groenigheid van die veld, en deur die dou van die hemel sal hy benat word en saam met die diere van die veld deel hê aan die gras totdat sewe tydperke oor hom heen gegaan het, – 24dit is die uitleg, o koning, en die dekreet van die Allerhoogste wat oor my heer die koning uitgevaardig is: 25U sal uitgedryf word, weg van mense af, en by die diere van die veld sal u woning wees. U sal gras gevoer word, soos vir beeste, en van die dou van die hemel sal u nat word. Sewe tydperke sal oor u heen gaan, totdat u erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil. 26Dat daar bevel gegee is om die penwortel van die boom te laat staan, beteken dat u koningskap vir u behoue sal bly, sodra u erken dat die hemel heers. 27Daarom, o koning, mag my raad vir u aanvaarbaar wees: Breek deur die regte optrede met u sonde en met u ongeregtigheid, deur guns te betoon aan armes – miskien sal u voorspoed lank duur.”
28Dit alles het met koning Nebukadnesar gebeur. 29Teen die einde van die twaalfde maand was hy besig om rond te stap op die dak van die koninklike paleis in Babel. 30Die koning het toe begin praat en gesê: “Is dit nie die grote Babel wat ek tot 'n koninklike verblyf opgebou het deur die krag van my vermoë en tot verheerliking van my majesteit nie?” 31Die woorde was nog op die lippe van die koning, toe val daar 'n stem uit die hemel: “Aan jou, koning Nebukadnesar, word gesê, ‘Die koningskap het van jou gewyk. 32Hulle gaan jou uitdryf, weg van mense af, en by die diere van die veld sal jou woning wees. Soos vir beeste sal hulle jou gras voer. Sewe tydperke sal oor jou heen gaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil.’ ”
33Die uitspraak is dadelik vervul oor Nebukadnesar, en hy is uitgedryf, weg van mense af. Hy het gras geëet soos beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword, totdat sy hare soos die vere van arende, en sy naels soos die kloue van voëls uitgegroei het.
34“Aan die einde van die tydperk het ek, Nebukadnesar, my oë na die hemel opgeslaan en my verstand het na my teruggekeer.
“Ek het die Allerhoogste geloof
en die Een wat ewig leef,
besing en geëer –
Hy wie se heerskappy
'n ewige heerskappy is,
en wie se koningskap
van geslag tot geslag duur.
35Al die bewoners van die aarde
word as niks gereken;
Hy doen met die hemelse leër
en die bewoners van die aarde
wat Hy wil.
Daar is niemand
wat sy hand kan afweer
of vir Hom kan vra nie,
‘Wat het U gedoen?’
36“In dié tyd het my verstand na my teruggekeer, en wat die waardigheid van my koningskap betref – my majesteit en my luister het na my teruggekeer, en my raadsmanne en edeles het my weer opgesoek. Oor my koninkryk is ek heraangestel, en my grootheid het buitengewoon toegeneem.
37“En ek, Nebukadnesar,
besing en verheerlik en eer nou
die Koning van die hemele,
omdat al sy werke waarheid is
en sy paaie reg,
omdat Hy hulle wat met trots rondloop,
kan verneder.”