1Die Here het vir Moses gesê: “Gaan, trek hiervandaan op, jy en die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob, deur te sê, ‘Aan jou nageslag sal Ek dit gee.’ 2Ek sal 'n engel voor jou uit stuur, en Ek sal die Kanaäniete, die •Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete verdryf. 3Trek op, Israel, na 'n land wat oorloop van melk en heuning. Ek sal egter nie in jou midde optrek nie, omdat jy 'n hardnekkige volk is, anders vernietig Ek jou op pad.”
4Toe die volk hierdie woord van onheil hoor, het hulle getreur. Niemand het sy juwele aangesit nie. 5Die Here het immers vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, julle is 'n hardnekkige volk. As Ek vir een oomblik saam met jou sou optrek, sal Ek jou vernietig. Haal dan nou jou juwele af, sodat Ek kan weet wat Ek met jou moet doen.” 6Vanaf die berg Horeb het die Israeliete toe hulle juwele afgehaal.
Tent vir raadpleging
7Moses het telkens 'n tent geneem en dit buite die kamp opgeslaan, ver van die kamp af. Hy het dit 'n ontmoetingstent genoem. Elkeen wat die Here wou raadpleeg, moes uitgaan na die ontmoetingstent wat buite die kamp was. 8Telkens wanneer Moses uitgegaan het na die tent, het die hele volk opgestaan, en dan het elkeen sy plek ingeneem by die ingang van sy tent. Hulle het Moses agternagekyk totdat hy by die tent ingegaan het. 9Telkens wanneer Moses die tent binnegegaan het, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent gaan staan. Dan het die Here met Moses gepraat. 10Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent sien staan, het die hele volk opgestaan en elkeen by die ingang van sy tent in aanbidding gebuig. 11Die Here het met Moses van aangesig tot aangesig gepraat, soos 'n man met sy vriend praat. Dan het Moses teruggekeer na die kamp, maar sy helper, Josua, seun van Nun, 'n jong man, het nie die tent verlaat nie.
God se heerlikheid
12Moses het vir die Here gesê: “Kyk, U sê vir my, ‘Laat hierdie volk optrek,’ maar self maak U nie aan my bekend wie U saam met my sal stuur nie. U is die Een wat gesê het, ‘Ek ken jou by die naam, en jy het ook guns gevind in my oë.’ 13Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is.” 14Die Here het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee?” 15Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. 16Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie?” 17Die Here sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken.”
18Moses sê toe: “Toon asseblief u heerlikheid aan my.” 19Maar Hy het geantwoord: “Ek sal al my goedheid reg voor jou laat verbygaan, en Ek self sal die Naam ‘die Here’ uitroep. Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” 20Hy het verder gesê: “Jy kan nie my gesig sien nie, want 'n mens kan My nie sien en bly leef nie.” 21Toe sê die Here: “Hier is 'n plek by My waar jy kan gereedstaan op die rots. 22Wanneer my heerlikheid dan verbygaan, sal Ek jou in die rotsskeur sit en Ek sal jou met die palm van my hand toehou, totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my handpalm wegneem, en jy sal My van agter sien. Maar my gesig mag nie gesien word nie.”