Profesieë teen Egipte
1In die tiende jaar, op die twaalfde dag van die tiende maand, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mensekind, draai jou gesig na die farao, die koning van Egipte. Profeteer teen hom en die hele Egipte. 3Praat en sê, ‘So sê my Heer, die Here:
“Dit is Ek teen jou, Farao,
koning van Egipte!
Jy, die groot krokodil
wat tussen sy strome lê,
wat sê, ‘Aan my behoort die Nyl,
ek het dit self vir my gemaak.’
4Ek sal hake deur jou kake steek,
die vis van jou strome laat vaskleef
aan jou skubbe.
Ek sal jou daar tussen jou strome optrek,
saam met al die vis van jou strome
wat aan jou skubbe vaskleef.
5Ek sal jou in die woestyn laat lê,
jy en al die vis van jou strome.
Op die oop veld sal jy bly lê;
jy sal nie begrawe word,
nie bymekaargemaak word nie.
Aan die wilde diere van die aarde,
aan die voëls van die hemel
gee Ek jou as voedsel.
6Al die inwoners van Egipte
sal besef dat Ek die Here is.
Want hulle was 'n riet om op te leun
vir die huis van Israel:
7Toe hulle jou vasvat met die hand,
knak jy en skeur elke skouer oop;
toe hulle op jou leun,
breek jy en laat jy elke lende bewe.”
8“ ‘Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek bring 'n swaard teen jou; Ek gaan mens en dier in jou uitroei. 9Egipteland sal 'n woesteny wees, 'n puinhoop. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”
“ ‘ “Omdat hy gesê het, ‘Die Nyl behoort aan my – ek het dit self gemaak,’ 10daarom, dit is Ek teen jou en jou strome! Ek maak Egipteland verlate puinhope van verwoesting, van Migdol tot by Sewene, tot by die grens van Kus. 11'n Voet van 'n mens sal dit nie deurkruis, en die poot van 'n dier sal nie daaroor gaan nie. Dit sal veertig jaar lank nie bewoon word nie. 12Ek maak Egipteland 'n woesteny tussen lande wat verlate lê. Sy dorpe sal 'n woesteny wees tussen stede wat tot puin verwoes is, veertig jaar lank. Ek sal die Egiptenare versprei onder die nasies en hulle verstrooi in die lande.
13“ ‘ “Maar,” so sê my Heer, die Here: “aan die einde van veertig jaar sal Ek die Egiptenare bymekaarmaak uit die volke waarheen hulle versprei is. 14Ek sal die lot van Egipte verander en hulle terugbring na die land Patros, na hulle land van herkoms. Daar sal hulle 'n onbelangrike koninkryk wees. 15Teenoor ander koninkryke sal hulle onbelangrik wees. Egipte sal homself nie weer verhef bo die nasies nie. Ek sal hulle so gering maak dat hulle nie die nasies sal oorheers nie. 16Egipte sal nie weer vir die huis van Israel 'n bron van vertroue wees nie, maar 'n land wat hulle herinner aan sondeskuld toe hulle hulle na Egipte gewend het. Hulle sal besef dat Ek, die Heer, die Here is.” ’ ”
17In die sewe-en-twintigste jaar, op die eerste dag van die eerste maand, het die woord van die Here tot my gekom: 18“Mensekind, Nebukadresar, die koning van Babilonië, het sy leër 'n verskriklike taak opgelê by Tirus. Elke kop was kaal en elke skouer rou geskuur. Maar by Tirus was daar nie vir hom en sy leër 'n beloning vir die harde werk wat hy teen haar verrig het nie. 19Daarom, so sê die Heer, die Here, ‘Kyk, Ek gaan Egipteland vir Nebukadresar, die koning van Babilonië, gee. Hy sal die rykdom daarvan wegdra. Die oorlogsbuit wat hy daar roof en buitmaak, sal 'n beloning wees vir sy leër. 20As sy vergoeding waarvoor hy gewerk het, gee Ek vir hom Egipteland, want hulle het dit vir My gedoen.’ Dit is die uitspraak van die Heer, die Here.
21“ ‘Op daardie dag sal Ek vir die huis van Israel nuwe krag gee, en jou mond sal Ek weer oopmaak om tussen hulle te praat. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.’ ”