Bestraffing van Jerusalem
1'n Profesie oor die Dal van Visioene.
Wat is dit dan met jou,
dat al jou mense
op die dakke klim,
2rumoerige stad vol lawaai,
uitgelate dorp?
Jou slagoffers is nie slagoffers
van die swaard nie,
nie gestorwenes
van die oorlog nie.
3Al jou •aanvoerders
het saam gevlug,
sonder boog is hulle gevang.
Almal van jou wat gevind is,
wat lankal reeds gevlug het,
is saam gevang.
4Daarom het ek gesê:
“Kyk weg van my –
ek huil bitterlik.
Moenie daarop aandring
om my te probeer troos
oor die verwoesting
van die dogter van my volk nie.”
5Want 'n dag van paniek,
van vertrapping en verwarring
in die Dal van Visioene,
is gereed by die Here,
Heerser oor alle magte.
'n Geskreeu klink op –
hulpkrete na die berg.
6Elam het pylkokers opgeneem –
met 'n troepemag, met perde.
Kir ontbloot skilde.
7Stad, die keur van jou valleie
is vol strydwaens!
Die ruiters neem in slagorde
stelling in by die stadspoort!
8Die beskutting van Juda
is verwyder.
Op dié dag kyk jy met vertroue,
stad, na die wapenrusting
in die Saal van die Bos.
9Die bresse in die mure
by die Stad van Dawid
sien julle raak – dat dit baie is.
Julle gaar die water
van die onderste dam op;
10die huise in Jerusalem tel julle;
julle breek die huise af
om die stadsmuur
ondeurdringbaar te maak.
11'n Opgaardam maak julle
tussen die twee stadsmure
vir die water van die ou dam.
Maar julle kyk nie met vertroue
na Hom wat die stad
gemaak het nie;
en Hom wat haar gevorm het
in die verre verlede,
sien julle nie raak nie.
12My Heer, die Here,
Heerser oor alle magte,
het op daardie dag
'n oproep gedoen tot 'n gehuil,
tot roubeklag,
tot die kaal skeer van koppe
en die aangord van rouklere.
13Maar kyk, daar is vreugde
en blydskap:
“Laat ons beeste doodmaak
en kleinvee slag,
vleis eet en wyn drink!
Laat ons eet en drink,
want môre sterf ons!”
14Die Here, Heerser oor alle magte,
het Hom aan my geopenbaar
terwyl ek luister.
“Vir hierdie sondeskuld sal nie vir julle versoening gedoen word totdat julle sterf nie,” het die Here, Heerser oor alle magte, gesê.
15So sê my Heer, die Here, Heerser oor alle magte: “Gaan na daardie versorger, na Sebna, hoof van die hofhouding, en vra hom,
16‘Wat maak jy hier?
Wie van jou mense is hier,
dat jy hier vir jou 'n graf
uitgekap het?’ ”
Hy was besig om op 'n hoë plek sy graf uit te kap, om in die rots vir hom 'n tuiste uit te beitel.
17“ ‘Kyk, die Here gaan jou,
manhaftige man, baie ver wegwerp.
Hy gaan jou stewig toedraai,
18jou in 'n bondel, soos 'n bal,
kragtig wegslinger
na 'n land wat wyd uitstrek
na alle kante.
Daar sal jy sterf;
daar sal jou roemryke
strydwaens wees –
die skande van die huis van jou heer!
19Ek sal jou uit jou pos verwyder,
jy sal uit jou amp ontslaan word.’
20“Op daardie dag sal Ek
my dienskneg roep,
Eljakim, seun van Gilkija.
21Ek sal jou bokleed vir hom aantrek,
met jou lyfserp sal Ek hom versterk,
jou gesag aan hom oordra.
Hy sal 'n vader word
vir die inwoners van Jerusalem
en vir die huis van Juda.
22Ek sal die sleutel van die huis
van Dawid op sy skouer plaas.
Hy sal oopmaak,
en niemand sal toesluit nie;
hy sal toesluit,
en niemand sal oopmaak nie.
23Ek sal hom as 'n pen inslaan
op 'n stewige plek;
hy sal as 'n roemryke troon geld
vir sy familie.
24“Hulle sal die volle gewig van sy familie daaraan ophang: die spruite en lote, en al die kleiner houers, van die bakkies af tot by al die kruike. 25Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal die pen wat op 'n stewige plek ingeslaan is, meegee. Dit sal losbreek en val. Die las wat daaraan was, sal vernietig word, want die Here het gespreek.”