Benjamin se straf
1Al die Israeliete het toe uitgetrek. Die volksvergadering het, van Dan tot Berseba en van die Gileadstreek af, soos een man saamgetrek voor die Here in Mispa. 2Die steunpilare van die hele volk, van al die stamme van Israel, het hulle plekke ingeneem in die strydmag van die volk van God. Dit was vierhonderdduisend man te voet, gewapen met swaarde. 3Die Benjaminiete het intussen gehoor dat die Israeliete opgetrek het na Mispa. Die Israeliete sê toe: “Vertel ons hoe hierdie bose daad plaasgevind het.” 4Die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, antwoord toe: “In Gibea wat aan Benjamin behoort, het ek aangekom, ek en my byvrou, om te oornag. 5Die burgers van Gibea het toe teen my opgestaan en in die nag die huis omsingel, oor my teenwoordigheid. Dit was vir my wat hulle wou doodmaak; my byvrou het hulle verkrag, en sy het gesterf. 6Ek het my byvrou gevat, haar in stukke opgesny en haar rondgestuur deur die hele gebied van die erfdeel van Israel, want hulle het 'n skandelike daad en 'n gruweldaad gepleeg in Israel. 7Kyk, julle is almal Israeliete – hier moet julle praat en raadgee.”
8Die hele volk het soos een man opgestaan en gesê: “Niemand van ons sal na sy tent gaan, en niemand van ons sal na sy huis afdraai nie. 9Dit is wat ons dan nou aan Gibea gaan doen: teen hom optrek, volgens die lot. 10Ons sal van al die stamme van Israel tien man per honderd neem, honderd per duisend, en duisend per tienduisend, om padkos te gaan haal vir die manskappe, sodat daar by hulle terugkeer met Gibea in Benjamin afgereken kan word na die volle maat van die gruweldaad wat hulle in Israel gepleeg het.”
11Elke man van Israel is byeengebring by die stad, soos een man was hulle verenig. 12Die stamme van Israel stuur toe manne uit onder die hele stam van Benjamin om vir hulle te sê: “Wat is hierdie bose daad wat onder julle plaasgevind het? 13Lewer dan nou die klomp booswigte uit wat in Gibea is, sodat ons hulle kan doodmaak en die kwaad uit Israel kan uitroei.” Maar die mense van Benjamin wou nie luister na hulle broers, die Israeliete, nie.
14Die Benjaminiete het uit die dorpe saamgetrek by Gibea om uit te trek vir die geveg met die Israeliete. 15Die Benjaminiete wat uit die dorpe kom, is daardie dag gemonster – ses-en-twintigduisend man met swaarde gewapen. Dit was behalwe die inwoners van Gibea wat gemonster is – sewehonderd uitgesoekte manne. 16Onder al hierdie manskappe was daar sewehonderd uitgesoekte manne wat linkshandig was. Elkeen van hulle kon met 'n slingervel 'n klip op 'n haar gooi, sonder om te mis.
17Die manne van Israel is ook gemonster; sonder Benjamin was hulle vierhonderdduisend man, gewapen met swaarde, elkeen van hulle 'n krygsman. 18Hulle het gereedgemaak en na Bet-El opgeruk en God geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek vir die geveg met die Benjaminiete?” Die Here het gesê: “Juda eerste!”
19Die Israeliete het die oggend gereedgemaak en Gibea beleër. 20Die manne van Israel het uitgetrek vir die geveg met Benjamin. Die manne van Israel het hulle by Gibea in gevegslinies teenoor Benjamin opgestel. 21Maar die Benjaminiete het uit Gibea uitgetrek, en daardie dag in Israel twee-en-twintigduisend man neergevel. 22Die manskappe, die manne van Israel, het moed bymekaargeskraap en hulle weer in gevegslinies opgestel op die plek waar hulle dit op die eerste dag gedoen het.
23Die Israeliete het vooraf opgetrek en voor die Here getreur tot die aand toe. Hulle het die Here geraadpleeg: “Moet ons weer nader gaan vir die geveg met die kinders van Benjamin, ons broer?” Die Here het toe geantwoord: “Trek teen hom op!” 24Die Israeliete het toe op die tweede dag nader beweeg na die Benjaminiete. 25Benjamin het hulle op die tweede dag uit Gibea tegemoetgetrek, en onder die Israeliete nog agttienduisend man neergevel. Al daardie manne was met swaarde gewapen. 26Al die Israeliete, ja, al die manskappe, het opgetrek en by Bet-El aangekom. Hulle het getreur en daar voor die Here gebly. Daardie dag het hulle tot die aand toe gevas en •brandoffers en •maaltydoffers voor die Here gebring.
27Daarna het die Israeliete die Here geraadpleeg. Die verbondsark van God was in dié tyd daar, 28en Pinehas, seun van Eleasar, seun van Aäron, het in daardie tyd voor die Here diens gedoen. Hulle het gevra: “Moet ons weer 'n keer uittrek vir die geveg met die kinders van Benjamin, ons broer, of moet ons ophou?” Die Here het geantwoord: “Trek op, want môre gee Ek hulle in julle hand.”
29Israel het toe aan alle kante hinderlae teen Gibea opgestel. 30Die Israeliete het op die derde dag teen die Benjaminiete opgetrek, en soos die vorige kere gevegslinies teen Gibea opgestel. 31Die Benjaminiete het uitgetrek, die manskappe tegemoet. So is hulle uit die stad gelok. Hulle het begin om, soos die vorige kere, onder die manskappe slagoffers te eis op die paaie, waarvan die een pad na Bet-El opgaan en die ander deur die landerye na Gibea lei – ongeveer dertig man van Israel. 32Die Benjaminiete het gedink: “Hulle word deur ons verslaan soos voorheen.” Maar die Israeliete het afgespreek: “Laat ons vlug en hulle uit die stad lok na die paaie.”
33Al die manne van Israel het hulle stellings verlaat en gevegslinies opgestel by Baäl-Tamar, terwyl Israel uit die hinderlae, uit hulle skuilplekke, storm, uit Maäre-Geba, 34en tot reg voor Gibea vorder – tienduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel. Die geveg was hewig, maar die Benjaminiete het nie besef dat 'n ramp hulle gaan tref nie. 35Die Here het Benjamin voor Israel uit verslaan. Die Israeliete het op daardie dag in Benjamin vyf-en-twintigduisend eenhonderd man neergevel, almal van hulle gewapen met swaarde. 36Die Benjaminiete het gesien dat hulle verslaan word. Die manne van Israel het net terrein afgestaan aan Benjamin omdat hulle staatgemaak het op die hinderlae wat hulle teen Gibea opgestel het. 37Die manne van die hinderlae het vinnig 'n aanval geloods op Gibea. Hulle het by mekaar aangesluit en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan.
38Die afspraak tussen die Israeliete en die manne in die hinderlae was: “Laat meer rook opstyg uit die stad!” 39Die manne van Israel het dus teruggeval in die geveg, en die Benjaminiete het begin om onder die manne van Israel slagoffers te eis – ongeveer dertig man – want hulle het gedink: “Israel word sonder twyfel geheel en al deur ons verslaan, soos in die vorige geveg.” 40Daar het egter 'n rookwolk uit die stad begin opstyg, 'n kolom rook. En toe die Benjaminiete omdraai – kyk, die hele stad was besig om in vlamme op te gaan! 41Die manne van Israel het teruggedraai, en die manne van Benjamin was angsbevange, want hulle het gesien dat 'n ramp hulle getref het. 42Hulle het voor die manne van Israel teruggewyk in die rigting van die woestyn. Maar die geveg het hulle ingehaal, en die Israeliete wat uit die stede gekom het, het hulle in die middel vasgekeer en neergevel. 43Hulle het Benjamin van alle kante aangeval, hulle onvermoeid agtervolg, en hulle vertrap tot anderkant Gibea, tot aan die oostekant. 44Daar het van die Benjaminiete agttienduisend man geval, almal van hulle bekwame manne. 45Hulle het omgedraai, en na die woestyn, na die Rimmonrots, gevlug. Maar die Israeliete het vyfduisend man wat nog op die paaie was, afgemaai. In die hakkejag tot by Gidom het hulle tweeduisend man van hulle neergevel. 46Almal uit Benjamin wat op daardie dag geval het, was vyf-en-twintigduisend man, gewapen met swaarde, almal van hulle bekwame manne.
47Maar seshonderd man het omgedraai en na die woestyn gevlug, na die Rimmonrots. Hulle het vier maande lank by die Rimmonrots gebly. 48Die manne van Israel het teruggedraai na die Benjaminiete en hulle met die skerpte van die swaard verslaan, van stad en mens tot dier, ja, alles waarop afgekom is. Hulle het ook al die stede waarop hulle afgekom het, aan die brand gesteek.